Volg hulle geloof na
Hy was waaksaam en het gewag
ELIA wou baie graag alleen wees met sy hemelse Vader. Maar die skare om hom het kort tevore gesien dat hierdie ware profeet vuur uit die hemel neerroep, en baie van hulle was ongetwyfeld gretig om sy guns te wen. Voordat Elia na die winderige top van die berg Karmel kon opklim en Jehovah God alleen in gebed kon nader, het ’n onaangename taak op hom gewag. Hy moes met koning Agab gaan praat.
Die twee mans het soos dag en nag verskil. Agab, getooi in koninklike klere, was ’n gierige, ruggraatlose afvallige. Elia was geklee in die ampskleed van ’n profeet—’n eenvoudige kleed wat moontlik van dierevel gemaak of van kameel- of bokhaar geweef is. Hy was ’n man van groot moed, onkreukbaarheid en geloof. Die dag wat nou ten einde geloop het, het baie geopenbaar oor die karakter van albei mans.a
Dit was ’n slegte dag vir Agab en ander Baälaanbidders. Die heidense godsdiens wat Agab en sy vrou, koningin Isebel, in die tienstammeryk van Israel bevorder het, is ’n verskriklike slag toegedien. Baäl is as vals ontmasker. Hierdie lewelose god kon nie ’n doodgewone vuur aansteek in reaksie op sy profete se waansinnige pleidooie, danse en rituele bloedlating nie. Baäl kon nie daardie 450 mans van hulle welverdiende teregstelling red nie. Maar die valse god het in nog iets misluk, en die tyd het aangebreek om hierdie mislukking ten volle te openbaar. Die Baälprofete het hulle god meer as drie jaar lank gesmeek om ’n einde te maak aan die droogte wat die land geteister het, maar Baäl kon dit nie doen nie. Jehovah sou weldra sy oppermag toon deur die droogte te beëindig.—1 Konings 16:30–17:1; 18:1-40.
Maar wanneer sou Jehovah optree? Wat sou Elia intussen doen? En wat kan ons by hierdie man van geloof leer? Kom ons kyk terwyl ons die verslag in 1 Konings 18:41-46 ondersoek.
’n Biddende gesindheid
Elia het na Agab toe gegaan en gesê: “Gaan op, eet en drink; want daar is die geluid van die gedruis van ’n stortreën” (Vers 41). Het hierdie goddelose koning enigiets uit die dag se gebeure geleer? Die verslag sê nie spesifiek nie, maar ons vind hier geen woorde van berou nie, geen versoek dat die profeet hom moet help om Jehovah te nader en vergifnis te vra nie. Nee, Agab het eenvoudig “opgegaan om te eet en te drink” (Vers 42). Wat van Elia?
“Wat Elia betref, hy het na die top van die Karmel opgeklim en op die aarde begin hurk en sy gesig tussen sy knieë gehou.” Terwyl Agab sy maag gaan vul het, het Elia ’n geleentheid gehad om tot sy Vader te bid. Let op die nederige liggaamshouding wat hier beskryf word—Elia het op die grond gehurk met sy kop so laag gebuig dat sy gesig naby sy knieë was. Wat het Elia gedoen? Ons hoef nie te raai nie. In die Bybel sê Jakobus 5:18 vir ons dat Elia gebid het dat die droogte tot ’n einde kom. Hy het ongetwyfeld so ’n gebed op die top van Karmel gedoen.
Jehovah het vroeër gesê: “Ek [is] vasbeslote . . . om reën op die oppervlak van die aarde te gee” (1 Konings 18:1). Elia het dus gebid dat sy Vader se verklaarde wil volbring word, iets waarvoor Jesus ook sy volgelinge sowat eenduisend jaar later leer bid het.—Matteus 6:9, 10.
Elia se voorbeeld leer ons baie omtrent gebed. Die belangrikste saak in Elia se gedagtes was dat sy Vader se wil volbring word. Wanneer ons bid, is dit goed om te onthou “dat [God] ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Dit is dus duidelik dat ons moet weet wat God se wil is om op aanneemlike wyse te bid—’n goeie rede om Bybelstudie deel van ons daaglikse lewe te maak. Elia wou beslis ook sien dat die droogte tot ’n einde kom weens al die lyding onder die volk van sy vaderland. Sy hart was waarskynlik vol dankbaarheid ná die wonderwerk wat hy Jehovah daardie dag sien verrig het. Ons gebede moet ook gekenmerk word deur besorgdheid oor die welsyn van ander en hartgrondige danksegging.—2 Korintiërs 1:11; Filippense 4:6.
Vol vertroue en waaksaam
Elia was seker dat Jehovah sou optree om die droogte te beëindig, maar hy was nie seker wanneer Jehovah sou optree nie. Wat het die profeet dus intussen gedoen? Kyk na wat vers 43 sê: “Hy [het] vir sy dienaar gesê: ‘Klim asseblief op. Kyk in die rigting van die see.’ En hy het opgeklim en gekyk en toe gesê: ‘Daar is hoegenaamd niks.’ En hy het gesê: ‘Gaan terug’, sewe keer.” Ons leer ten minste twee lesse uit Elia se voorbeeld. Let eerstens op die profeet se vertroue. Let dan op sy waaksaamheid.
Elia het gretig na bewyse gesoek dat Jehovah weldra sou optree, en daarom het hy sy dienaar opgestuur na ’n uitkykpunt om die horison te bespied vir enige tekens van naderende reën. Toe die dienaar terugkom, het hy ongeesdriftig gesê: “Daar is hoegenaamd niks.” Die horison was skoon, en daar was klaarblyklik nie ’n wolkie in die lug nie. Het jy egter iets ongewoons opgemerk? Onthou dat Elia pas tevore vir koning Agab gesê het: “Daar is die geluid van die gedruis van ’n stortreën.” Hoe kon die profeet so iets sê as daar geen teken van reënwolke was nie?
Elia het geweet van Jehovah se belofte. As Jehovah se profeet en verteenwoordiger was hy seker dat sy God Sy woord sou vervul. Elia se vertroue was so groot dat hy as ’t ware reeds die stortreën kon hoor. Dit laat ons moontlik dink aan die Bybel se beskrywing van Moses: “Hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien.” Is God so werklik vir jou? Hy voorsien ons van oorgenoeg rede om sulke geloof in hom en sy beloftes te stel.—Hebreërs 11:1, 27.
Let nou op hoe waaksaam Elia was. Hy het sy dienaar teruggestuur, nie een of twee keer nie, maar sewe keer! Ons kan ons indink dat die dienaar moeg geword het om dieselfde ding oor en oor te doen, maar Elia het gretig op ’n teken bly wag en het nie opgegee nie. Uiteindelik het die dienaar ná die sewende keer berig: “Kyk! ’n Klein wolkie soos ’n man se palm kom uit die see uit op” (Vers 44). Kan jy daardie dienaar in jou geestesoog sien, met sy arm uitgestrek terwyl hy sy palm gebruik om die grootte te meet van een klein wolkie wat oor die horison van die Groot Seeb opkom? Die dienaar was miskien nie beïndruk nie. Maar vir Elia was hierdie wolkie betekenisvol. Hy het toe vir sy dienaar dringende instruksies gegee: “Gaan op, sê vir Agab: ‘Span in! En gaan af sodat die stortreën u nie ophou nie!’”
Elia het weer eens vir ons ’n kragtige voorbeeld gestel. Ons lewe ook gedurende ’n tyd wanneer God binnekort gaan optree om sy verklaarde voorneme te vervul. Elia het gewag op die einde van ’n droogte; God se hedendaagse knegte wag op die einde van ’n verdorwe wêreldstelsel van dinge (1 Johannes 2:17). Tot die tyd dat Jehovah God optree, moet ons waaksaam bly, soos Elia. God se eie Seun, Jesus, het sy volgelinge gemaan: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matteus 24:42). Het Jesus bedoel dat sy volgelinge heeltemal in die duister sou wees oor wanneer die einde sou kom? Nee, want hy het breedvoerig vertel hoe die wêreld in die dae net voor die einde sou wees. Elkeen van ons kan hierdie uitvoerige teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” ondersoek.—Matteus 24:3-7.c
Elke faset van hierdie teken voorsien kragtige, oortuigende bewyse. Is hierdie bewyse genoeg om ons te beweeg om met dringendheid op te tree? Een klein wolkie wat oor die horison opgekom het, was genoeg om Elia te oortuig dat Jehovah weldra sou optree. Is die getroue profeet teleurgestel?
Jehovah bring verligting en seëninge
Die verslag sê verder: “Intussen het die hemel donker geword van wolke en wind, en ’n groot stortreën het begin val. En Agab het voortgery en na Jisreël gegaan” (Vers 45). Gebeure het baie vinnig begin ontvou. Terwyl Elia se dienaar die profeet se boodskap aan Agab oorgedra het, het daardie klein wolkie vermenigvuldig sodat die lug bewolk en donker geword het. ’n Sterk wind het gewaai. Uiteindelik, ná drie en ’n half jaar, het reën op die grond van Israel geval.d Die dorre aarde het die druppels opgesuig. Toe die reën ’n stortreën geword het, het die Kisonrivier geswel en ongetwyfeld die bloed van die tereggestelde Baälprofete weggewas. Die opstandige Israeliete is ook die kans gegun om die verskriklike skandvlek wat Baälaanbidding op die land gelaat het, weg te was.
Elia het sekerlik gehoop dat dit die geval sou wees! Sou Agab berou toon en sy rug draai op die besoedelende Baälaanbidding? Die gebeure van die dag het kragtige redes gebied om hierdie veranderinge aan te bring. Ons weet natuurlik nie wat op daardie tydstip deur Agab se gedagtes gegaan het nie. Die verslag sê eenvoudig vir ons dat die koning “voortgery en na Jisreël gegaan” het. Het hy enigiets geleer? Was hy van plan om sy weë te verander? Latere gebeure gee te kenne dat die antwoord nee is. Die dag was egter nog nie vir Agab verby nie—en ook nie vir Elia nie.
Jehovah se profeet het met dieselfde pad as Agab begin reis. ’n Lang, donker, nat tog het vir hom voorgelê. Maar iets buitengewoons het toe gebeur.
“Die hand van Jehovah was op Elia, sodat hy sy heupe omgord het en die hele pad tot by Jisreël voor Agab uit gehardloop het” (Vers 46). Dit is duidelik dat “die hand van Jehovah” op bonatuurlike wyse op Elia werksaam was. Jisreël was sowat 30 kilometer ver, en Elia was nie ’n jong man nie.e Stel jou net voor hoe hierdie profeet sy lang kledingstukke opgebind het, deur dit by sy heupe vas te bind sodat sy bene vryelik kon beweeg, en toe met die reëndeurdrenkte pad langs gehardloop het—so vinnig dat hy die koninklike strydwa ingehaal en verbygesteek het!
Wat ’n seën moes dit tog vir Elia gewees het! Om soveel krag, energie en stamina te hê—dalk selfs meer as wat hy ooit in sy jeug gehad het—was ongetwyfeld ’n opwindende ondervinding. Dit herinner ons moontlik aan die profesieë wat getroues verseker dat hulle volmaakte gesondheid en lewenskrag in die komende aardse Paradys sal geniet (Jesaja 35:6; Lukas 23:43). Terwyl Elia op daardie nat pad gehardloop het, het hy sekerlik geweet dat hy die goedkeuring het van sy Vader, die enigste ware God, Jehovah!
Jehovah wil graag seëninge uitstort. Dit is beslis vir ons die moeite werd om dit te probeer verkry. Soos Elia moet ons waaksaam wees en ag slaan op die kragtige bewyse dat Jehovah binnekort in hierdie gevaarlike en dringende tye gaan optree. Soos Elia het ons alle rede om volle vertroue te stel in die beloftes van Jehovah, “die God van waarheid”.—Psalm 31:5.
[Voetnote]
a Vir besonderhede, sien die artikel “Hy het rein aanbidding verdedig” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2008.
b Vandag staan die Groot See bekend as die Middellandse See.
c Vir meer inligting oor die bewyse dat Jesus se woorde vandag vervul word, sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
d Party wonder of die Bybel hom weerspreek wat die duur van die droogte betref. Sien die venster op bladsy 19.
e Kort hierna het Jehovah Elia aangesê om Elisa op te lei, wat later bekend geword het as die een “wat water op die hande van Elia uitgegooi het” (2 Konings 3:11). Elisa het gedien as Elia se dienaar en het blykbaar praktiese hulp aan die ouer man verleen.
[Venster/Prent op bladsy 19]
Hoe lank het die droogte van Elia se dag geduur?
Jehovah se profeet Elia het vir koning Agab gesê dat die lang droogte weldra sou eindig. Dit was “in die derde jaar”—blykbaar as daar getel word vanaf die dag dat Elia aanvanklik die droogte aangekondig het (1 Konings 18:1). Jehovah het reën gestuur kort nadat Elia gesê het dat Hy dit sou doen. Gevolglik meen party dalk dat die droogte gedurende die derde jaar geëindig het en derhalwe minder as drie jaar geduur het. Maar Jesus sowel as Jakobus sê vir ons dat die droogte “drie jaar en ses maande” geduur het (Lukas 4:25; Jakobus 5:17). Is dit ’n weerspreking?
Glad nie. In eertydse Israel was die droë seisoen redelik lank en kon dit tot ses maande duur. Elia het ongetwyfeld na Agab toe gekom om die droogte aan te kondig toe die droë seisoen reeds buitengewoon lank en erg was. Die droogte het in werklikheid al byna ’n halfjaar vroeër begin. Toe Elia dus “in die derde jaar” vanaf sy vorige aankondiging die einde van die droogte aankondig, het die droogte reeds byna drie en ’n half jaar geduur. Die volle “drie jaar en ses maande” het al verstryk teen die tyd dat die hele volk byeengekom het om die groot toets op die berg Karmel te aanskou.
Dink ’n bietjie aan die tydsberekening van Elia se eerste besoek aan Agab. Die mense het geglo dat Baäl “die ruiter van die wolke” was, die god wat reën sou bring om die droë seisoen te beëindig. As die droë seisoen buitengewoon lank was, het mense waarskynlik gewonder: ‘Waar is Baäl? Wanneer sal hy die reën bring?’ Elia se aankondiging dat daar geen reën of dou sal val totdat hy so sê nie, was ongetwyfeld verpletterend vir daardie Baälaanbidders.—1 Konings 17:1.
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 18]
Elia se gebede het getuig van sy opregte begeerte om te sien dat God se wil geskied.