Die eerste boek van Konings
18 Ná verloop van tyd, in die derde jaar,+ het Jehovah vir Eliʹa gesê: “Gaan na Agab toe. Ek sal dit laat reën op die aarde.”+ 2 Eliʹa het dus na Agab toe gegaan, terwyl die hongersnood baie erg+ was in Samariʹa.
3 Intussen het Agab Obadʹja geroep, wat oor die huishouding was. (Obadʹja het groot vrees vir Jehovah gehad, 4 en toe Iseʹbel+ Jehovah se profete doodgemaak het, het Obadʹja 100 profete geneem en hulle in grotte weggesteek, 50 in ’n grot, en hy het hulle van kos* en water voorsien.) 5 Agab het toe vir Obadʹja gesê: “Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die valleie.* Miskien kan ons genoeg gras vind om die perde en muile aan die lewe te hou sodat al ons diere nie doodgaan nie.” 6 Hulle het toe die land verdeel waardeur hulle sou trek. Agab het alleen met een pad gegaan, en Obadʹja het alleen met ’n ander pad gegaan.
7 Toe Obadʹja op pad was, het Eliʹa gekom om hom te ontmoet. Hy het hom dadelik herken en met sy gesig na die grond toe neergebuig en gevra: “Is dit u, my heer Eliʹa?”+ 8 Hy het vir hom gesê: “Ja, dit is ek. Gaan sê vir jou heer: ‘Eliʹa is hier.’” 9 Maar hy het gesê: “Watter sonde het ek gepleeg dat u u kneg sou oorgee aan Agab sodat hy my kan doodmaak? 10 So waar as wat Jehovah u God lewe, my heer het by elke nasie en koninkryk na u laat soek. Nadat hulle gesê het: ‘Hy is nie hier nie,’ het hy daardie koninkryk en daardie nasie laat sweer dat hulle u nie kon vind nie.+ 11 En nou sê u: ‘Gaan sê vir jou heer: “Eliʹa is hier.”’ 12 Wanneer ek van u af weggaan, sal die gees van Jehovah u wegneem+ na die een of ander plek, en wanneer ek Agab gaan vertel en hy u nie vind nie, sal hy my sekerlik doodmaak. En tog vrees u kneg Jehovah al van jongs af. 13 Het my heer nie gehoor wat ek gedoen het toe Iseʹbel die profete van Jehovah doodgemaak het nie? Ek het 100 profete van Jehovah in grotte weggesteek, 50 in ’n grot, en ek het hulle van kos* en water bly voorsien.+ 14 Maar nou sê u: ‘Gaan sê vir jou heer: “Eliʹa is hier.”’ Hy sal my sekerlik doodmaak.” 15 Eliʹa het egter gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die God van die leërmagte en die Een wat ek dien,* vandag sal ek voor hom verskyn.”
16 Obadʹja het dus na Agab toe gegaan en vir hom die boodskap gegee, en Agab het na Eliʹa toe gegaan.
17 Toe Agab Eliʹa sien, het hy vir hom gevra: “Is dit jy, die een wat rampspoed* oor Israel bring?”
18 Toe het hy gesê: “Ek het nie rampspoed oor Israel gebring nie, maar u en die huis van u vader het, want julle het die gebooie van Jehovah verlaat en die Baäls gevolg.+ 19 Laat die hele Israel na my toe kom op die berg Karmel,+ en ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van die heilige paal,*+ wat aan die tafel van Iseʹbel eet.” 20 Toe het Agab ’n boodskap na al die Israeliete gestuur en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.
21 Toe het Eliʹa nader aan die volk gegaan en gesê: “Hoe lank sal julle besluiteloos bly?*+ As Jehovah die ware God is, volg hom.+ Maar as dit Baäl is, volg hom!” Maar die volk het hom nie geantwoord nie. 22 Eliʹa het verder vir die volk gesê: “Ek is die enigste profeet van Jehovah wat nog oor is,+ terwyl daar 450 profete van Baäl is. 23 Bring vir ons twee jong bulle, en laat hulle een jong bul kies en dit in stukke sny en op die hout sit, maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander jong bul gereedmaak en dit op die hout sit, maar ek sal dit nie aan die brand steek nie. 24 Dan moet julle die naam van julle god aanroep,+ en ek sal die naam van Jehovah aanroep. Die God wat met vuur antwoord, is die ware God.”+ Toe het die hele volk gesê: “Dit is goed so.”
25 Eliʹa het toe vir die profete van Baäl gesê: “Kies vir julle een jong bul en maak dit eerste gereed, want julle is in die meerderheid. Roep dan die naam van julle god aan, maar julle mag nie vuur maak nie.” 26 Daarna het hulle die jong bul geneem wat vir hulle gegee is, dit gereedgemaak en van die oggend tot die middag die naam van Baäl bly aanroep en gesê: “O Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie.+ Hulle het heeltyd rondgespring om die altaar wat hulle gemaak het. 27 Teen die middag het Eliʹa hulle begin spot en gesê: “Roep so hard as wat julle kan! Hy is mos ’n god!+ Miskien is hy diep in gedagte of miskien het hy toilet toe* gegaan. Of miskien slaap hy en moet iemand hom wakker maak!” 28 Hulle het so hard uitgeroep as wat hulle kon, en volgens hulle gebruik, het hulle hulle met dolke en met spiese gesny, totdat hulle bloed uitgestroom het. 29 Die middag het verbygegaan, en hulle het nog steeds te kere gegaan* tot die tyd van die aandgraanoffer, maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie. Niemand het aandag geskenk nie.+
30 Uiteindelik het Eliʹa vir die hele volk gesê: “Kom nader.” Toe het die hele volk nader gegaan. Daarna het hy die altaar van Jehovah herstel wat afgebreek was.+ 31 Eliʹa het toe 12 klippe geneem, volgens die getal stamme van die seuns van Jakob, vir wie Jehovah gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”+ 32 Hy het met die klippe ’n altaar gebou+ tot eer van Jehovah se naam. Daarna het hy om die altaar ’n sloot gemaak wat so groot was soos ’n stuk grond waarop twee sea* saad gesaai kon word. 33 Daarna het hy die stukke hout reggesit, die jong bul in stukke gesny en dit op die hout gesit.+ Hy het toe gesê: “Maak vier groot kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die stukke hout.” 34 Toe het hy gesê: “Doen dit weer.” En hulle het dit weer gedoen. Daarna het hy gesê: “Doen dit ’n derde keer.” En hulle het dit ’n derde keer gedoen. 35 Die water het reg rondom die altaar geloop, en hy het ook die sloot vol water gemaak.
36 Omtrent die tyd van die aandgraanoffer+ het die profeet Eliʹa na die altaar toe gegaan en gesê: “O Jehovah, die God van Abraham,+ Isak+ en Israel, laat dit vandag bekend word dat u God in Israel is en dat ek u kneg is en dat ek deur u woord al hierdie dinge gedoen het.+ 37 Antwoord my, o Jehovah! Antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat u, Jehovah, die ware God is en dat u hulle hart na u toe laat terugkeer.”+
38 Toe het daar vuur van Jehovah af gekom en dit het die brandoffer,+ die stukke hout, die klippe en die stof verteer, en dit het die water opgedroog wat in die sloot was.+ 39 Toe die hele volk dit sien, het hulle onmiddellik met hulle gesigte na die grond toe neergebuig en gesê: “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!” 40 Toe het Eliʹa vir hulle gesê: “Gryp die profete van Baäl! Moenie een van hulle laat wegkom nie!” Dadelik het hulle hulle gegryp, en Eliʹa het hulle toe na die Kison-stroom*+ afgeneem en hulle daar doodgemaak.+
41 Eliʹa het vir Agab gesê: “Gaan eet en drink, want ek hoor die geluid van ’n swaar stortreën.”+ 42 Agab het toe gegaan om te eet en te drink terwyl Eliʹa na die top van Karmel opgegaan het. Hy het gekniel en sy gesig tussen sy knieë gehou.+ 43 Toe het hy vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief hoër op en kyk in die rigting van die see.” Hy het dus opgegaan en gekyk en gesê: “Ek sien niks.” Eliʹa het sewe keer gesê: “Gaan terug.” 44 Die sewende keer het sy dienaar gesê: “Kyk! Daar is ’n klein wolkie soos ’n man se hand wat van die see af opkom.” Hy het toe gesê: “Gaan sê vir Agab: ‘Span die strydwa in! Gaan af sodat die stortreën u nie terughou nie!’” 45 Die lug het toe donker geword van wolke, die wind het gewaai en ’n swaar stortreën het geval.+ En Agab het aanhou ry en na Jisʹreël+ gegaan. 46 Maar die hand van Jehovah was met Eliʹa, en hy het sy kleed om sy heupe vasgemaak* en die hele pad tot by Jisʹreël voor Agab uit gehardloop.