Daniël
6 Darius het besluit om 120 satrape oor die hele koninkryk aan te stel.+ 2 Drie hoë amptenare is oor hulle aangestel, van wie Daniël+ een was. En die satrape+ het aan hulle verslag gedoen sodat die koning se belange beskerm sou word. 3 Daniël het bewys dat hy bekwamer is as die ander hoë amptenare en die satrape, want hy was besonder wys.+ En die koning was van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.
4 Toe het die hoë amptenare en die satrape fout probeer vind met die manier waarop Daniël na regeringsake omgesien het, maar hulle kon geen fout of oneerlikheid vind waarvoor hulle hom kon aankla nie, want hy was betroubaar en was glad nie nalatig of oneerlik nie. 5 Hierdie manne het toe gesê: “Ons sal niks vind waarvoor ons Daniël kan aankla nie, tensy ons iets teen hom kan vind wat verband hou met die wet van sy God.”+
6 Toe het hierdie hoë amptenare en satrape saam na die koning gegaan en vir hom gesê: “O koning Darius, mag u vir ewig lewe. 7 Al die hoë amptenare van die koninkryk, prefekte, satrape, hoë koninklike beamptes en goewerneurs het saam besluit dat die koning ’n bevel moet gee en ’n verbod moet instel dat enigiemand wat gedurende die volgende 30 dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word.+ 8 Mag u, o koning, die bevel gee en dit onderteken,+ sodat dit nie verander kan word nie, want die wette van die Mede en die Perse kan nie teruggetrek word nie.”+
9 Toe het koning Darius die bevel en die verbod onderteken.
10 Toe Daniël hoor dat die bevel onderteken is, het hy huis toe gegaan. Sy dakvertrek het vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem.+ En net soos hy altyd gedoen het, het hy drie keer per dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en hom te loof. 11 Toe het daardie manne ingestorm en Daniël gevind terwyl hy gebid het en sy God om genade gesmeek het.
12 Toe het hulle na die koning gegaan en hom herinner aan die koninklike verbod: “Het u nie ’n verbod onderteken wat sê dat enigiemand wat gedurende 30 dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit is besluit volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie teruggetrek kan word nie.”+ 13 Hulle het dadelik vir die koning gesê: “Daniël, wat uit die ballinge* van Juda is,+ het hom nie aan u gesteur nie, o koning, en ook nie aan die verbod wat u onderteken het nie, maar hy bid drie keer per dag.”+ 14 Toe die koning dit hoor, was hy baie ontsteld, en hy het probeer dink aan ’n manier om Daniël te red. Tot sononder het hy alles gedoen wat hy kon om hom te red. 15 Uiteindelik het daardie manne saam na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Onthou, o koning, volgens die wet van die Mede en die Perse mag geen verbod of bevel van die koning verander word nie.”+
16 Op die koning se bevel het hulle Daniël dus gebring en hom in die leeukuil gegooi.+ Die koning het vir Daniël gesê: “Jou God wat jy so getrou dien, sal jou red.” 17 Toe is ’n klip oor die opening van die kuil gesit, en die koning het dit met sy seëlring en met die seëlringe van sy belangrike manne verseël, sodat niks in verband met Daniël se saak verander kon word nie.
18 Toe het die koning na sy paleis gegaan. Hy het die hele nag lank gevas en het geweier om enige vermaak te geniet,* en hy kon nie slaap nie. 19 Uiteindelik, toe dit net begin lig word, het die koning opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. 20 Toe die koning naby die kuil kom, het hy hartseer na Daniël geroep en gevra: “O Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?” 21 Daniël het onmiddellik vir die koning gesê: “O koning, mag u vir ewig lewe. 22 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegemaak,+ en hulle het niks aan my gedoen nie,+ want ek was onskuldig voor hom. En ek het ook niks verkeerds teenoor u gedoen nie, o koning.”
23 Die koning was baie bly, en hy het beveel dat Daniël uit die leeukuil opgetrek moet word. Toe Daniël uit die kuil kom, het hulle gesien dat daar nie eers ’n skrapie aan hom is nie, want hy het op sy God vertrou.+
24 Die koning het toe beveel dat die manne wat Daniël beskuldig* het, gebring moet word, en hulle is saam met hulle seuns en hulle vrouens in die leeukuil gegooi. Nog voordat hulle die onderkant van die kuil bereik het, het die leeus hulle aangeval en hulle verskeur.+
25 Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en taalgroepe op die hele aarde geskryf:+ “Mag julle groot vrede hê! 26 Ek beveel dat die mense in elke gebied van my koninkryk moet bewe van vrees voor die God van Daniël.+ Want hy is die lewende God wat vir ewig bestaan. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie, en sy heerskappy* duur vir ewig.+ 27 Hy red,+ bevry en verrig tekens en wonders in die hemel en op die aarde.+ Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”
28 En dit het goed gegaan met Daniël in die koninkryk van Darius+ en in die koninkryk van Kores die Pers.+