Daniël
6 Dariʹus het dit goedgevind, en hy het oor die koninkryk honderd-en-twintig satrape aangestel, wat oor die hele koninkryk sou wees;+ 2 en oor hulle drie hoë amptenare, van wie Daniël een was,+ sodat hierdie satrape+ voortdurend aan hulle verslag sou doen en die koning nie skade sou ly nie.+ 3 Toe het hierdie Daniël al hoe meer uitgeblink bo die hoë amptenare en die satrape,+ aangesien ’n buitengewone gees in hom was;+ en die koning was van plan om hom oor die hele koninkryk te verhef.
4 In dié tyd het die hoë amptenare en die satrape heeltyd die een of ander voorwendsel teen Daniël probeer vind met betrekking tot die koninkryk;+ maar hulle kon hoegenaamd geen voorwendsel of verdorwenheid vind nie, aangesien hy betroubaar was en daar hoegenaamd geen nalatigheid of verdorwenheid in hom gevind is nie.+ 5 Daarom het hierdie manne gesê: “Ons sal hoegenaamd geen voorwendsel in hierdie Daniël vind nie, tensy ons dit teen hom vind in die wet van sy God.”+
6 Toe het hierdie hoë amptenare en satrape by die koning ingestorm,+ en só het hulle vir hom gesê: “O koning Dariʹus, bly lewe, ja, vir onbepaalde tye.+ 7 Al die hoë amptenare van die koninkryk, die prefekte en die satrape, die hoë koninklike beamptes en die goewerneurs, het saam beraadslaag om ’n koninklike insetting te bevestig+ en om ’n verbod te bekragtig, dat enigiemand wat gedurende dertig dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe tot u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word.+ 8 Mag u dan nou, o koning, die insetting bevestig en die geskrif onderteken,+ sodat dit nie verander word nie, volgens die wet van die Mede en die Perse,+ wat nie nietig verklaar word nie.”+
9 In ooreenstemming hiermee het koning Dariʹus die geskrif en die verbod onderteken.+
10 Maar net toe Daniël verneem dat die geskrif onderteken is, het hy in sy huis ingegaan, en met die vensters van sy dakvertrek vir hom oop in die rigting van Jerusalem,+ het hy selfs drie keer per dag+ op sy knieë gegaan en gebid+ en lof gebring voor sy God,+ net soos hy voorheen gereeld gedoen het.+ 11 Toe het hierdie manne saam na binne gedring en Daniël gevind terwyl hy versoeke gedoen en guns afgesmeek het voor sy God.+
12 Toe het hulle nader gekom en voor die koning oor die verbod van die koning gesê: “Is daar nie ’n verbod wat u onderteken het dat enigiemand wat gedurende dertig dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe tot u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?”+ Die koning het geantwoord en gesê: “Die saak is goed bevestig volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie nietig verklaar word nie.”+ 13 Hulle het onmiddellik geantwoord en voor die koning gesê: “Daniël,+ wat uit die ballinge van Juda is,+ het hom nie aan u gesteur nie, o koning, en ook nie aan die verbod wat u onderteken het nie, maar hy doen drie keer per dag sy versoeke.”+ 14 Gevolglik het dit die koning, die oomblik toe hy die woord hoor, baie mishaag,+ en hy het sy gedagtes op Daniël gerig om hom te red;+ en tot sonsondergang toe het hy sy bes bly doen om hom te verlos. 15 Uiteindelik het hierdie manne by die koning ingestorm en vir die koning gesê: “Let daarop, o koning, dat dit ’n wet van die Mede en die Perse is dat geen verbod+ of insetting wat die koning bevestig, verander mag word nie.”+
16 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en hom in die leeukuil gegooi.+ Die koning het geantwoord en vir Daniël gesê: “Jou God wat jy met standvastigheid dien, hy sal jou red.”+ 17 En ’n klip is gebring en op die opening van die kuil gesit, en die koning het dit met sy seëlring en met die seëlring van sy edelmanne verseël, sodat niks in die geval van Daniël verander sou word nie.+
18 Toe het die koning na sy paleis gegaan en die nag met vas deurgebring,+ en geen musiekinstrumente is voor hom ingebring nie, en sy slaap het van hom gewyk.+ 19 Uiteindelik het die koning, met dagbreek, in die daglig opgestaan, en hy het haastig reguit na die leeukuil gegaan. 20 En toe hy naby die kuil kom, het hy met ’n droewige stem na Daniël geroep. Die koning het begin praat en vir Daniël gesê: “O Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy met standvastigheid dien,+ in staat om jou van die leeus te red?”+ 21 Onmiddellik het Daniël met die koning gepraat: “O koning, bly lewe, ja, tot onbepaalde tye. 22 My God+ het sy engel gestuur+ en die bek van die leeus gesluit,+ en hulle het my geen leed aangedoen nie, aangesien daar voor hom onskuld in my gevind is;+ en ook voor u, o koning, het ek geen skadelike daad verrig nie.”+
23 Toe het die koning baie bly geword,+ en hy het bevel gegee dat Daniël uit die kuil opgetrek moet word. En Daniël is uit die kuil opgetrek, en daar is hoegenaamd geen letsel aan hom gevind nie, omdat hy op sy God vertrou het.+
24 En die koning het bevel gegee, en hulle het dié manne wat Daniël beskuldig het,+ gebring en hulle,+ hulle seuns en hulle vrouens in die leeukuil gegooi;+ en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene verbrysel.+
25 Toe het koning Dariʹus aan al die volke, die volksgroepe en die tale wat op die hele aarde woon, geskryf:+ “Mag julle vrede baie groot word!+ 26 Voor my is daar ’n bevel uitgevaardig+ dat mense in elke gebied van my koninkryk moet bewe en in vrees moet verkeer voor die God van Daniël.+ Want hy is die lewende God en Een wat tot onbepaalde tye bestaan,+ en sy koninkryk+ is een wat nie vernietig sal word nie,+ en sy heerskappy is tot in ewigheid.+ 27 Hy red en verlos+ en verrig tekens en wonders in die hemel+ en op die aarde,+ want hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”
28 En hierdie Daniël was voorspoedig in die koninkryk van Dariʹus+ en in die koninkryk van Kores die Pers.+