Die tweede boek van Konings
9 Die profeet Eliʹsa het toe een van die seuns van die profete geroep en vir hom gesê: “Bind jou klere om jou heupe vas en neem hierdie fles olie saam en gaan gou na Raʹmot-Giʹlead.+ 2 Wanneer jy daar aankom, moet jy na Jehu,+ die seun van Joʹsafat, die seun van Nimsi, soek. Gaan in en neem hom na die binneste vertrek, weg van sy broers af. 3 Neem dan die fles olie en gooi dit op sy kop uit en sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek salf jou as koning oor Israel.”’+ Dan moet jy die deur oopmaak en dadelik vlug.”
4 Toe het die profeet se dienaar na Raʹmot-Giʹlead gegaan. 5 Toe hy daar aankom, het die hoofde van die leërmag daar gesit. Hy het gesê: “Ek het ’n boodskap vir u, o hoofman.” Jehu het gevra: “Vir watter een van ons?” Hy het gesê: “Vir u, o hoofman.” 6 Jehu het toe opgestaan en in die huis ingegaan. Die dienaar het die olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor Jehovah se volk, oor Israel.+ 7 Jy moet die huis van jou heer Agab uitroei, en ek sal die bloed wreek van my knegte, die profete, en van al die knegte van Jehovah wat deur Iseʹbel+ doodgemaak is. 8 En die hele huis van Agab sal doodgemaak word. Ek sal almal wat manlik is* uit die huis van Agab uitroei, insluitende die hulpeloses en die swakkes in Israel.+ 9 En ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, en soos die huis van Baäsa,+ die seun van Ahiʹa. 10 En wat Iseʹbel betref, die honde sal haar opeet op die stuk grond in Jisʹreël,+ en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het hy die deur oopgemaak en gevlug.+
11 Toe Jehu na die knegte van sy heer teruggegaan het, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?” Hy het geantwoord: “Julle weet mos hoe daardie manne is en hoe hulle praat.” 12 Maar hulle het gesê: “Nee! Vertel ons asseblief die waarheid.” Toe het hy gesê: “Hy het dit en dat gesê en toe sê hy: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Ek salf jou as koning oor Israel.”’”+ 13 Elkeen van hulle het toe dadelik sy kleed geneem en dit voor Jehu op die trappe neergesit,+ en hulle het op die horing geblaas en gesê: “Jehu het koning geword!”+ 14 Daarna het Jehu,+ die seun van Joʹsafat, die seun van Nimsi, teen Joram saamgesweer.
Joram en die hele Israel het by Raʹmot-Giʹlead+ wag gehou weens koning Haʹsael+ van Sirië. 15 Koning Joram het later na Jisʹreël+ teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen die Siriërs toe hy teen koning Haʹsael van Sirië+ geveg het.
Jehu het toe gesê: “As julle aan my kant is, moet julle niemand uit die stad laat ontsnap om in Jisʹreël te gaan vertel wat gebeur het nie.” 16 Daarna het Jehu met sy strydwa na Jisʹreël gegaan, want Joram het daar gelê as gevolg van sy wonde, en koning Ahaʹsia van Juda het afgegaan om Joram te besoek. 17 Terwyl die wag op die toring in Jisʹreël gestaan het, het hy Jehu se manne sien aankom. Hy het dadelik gesê: “Ek sien ’n groot groep manne wat aankom.” Joram het gesê: “Stuur ’n perderuiter na hulle toe, en laat hom vra: ‘Kom julle in vrede?’” 18 Toe het ’n perderuiter na hom gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.” Maar Jehu het gesê: “Hoe kan jy van ‘vrede’ praat? Ry agter my aan!”
Die wag het toe gesê: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie.” 19 Daarna het Joram ’n tweede perderuiter uitgestuur. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.” Maar Jehu het gesê: “Hoe kan jy van ‘vrede’ praat? Ry agter my aan!”
20 Die wag het toe gesê: “Hy het tot by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie, en dit lyk asof dit Jehu, die kleinseun* van Nimsi, is wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens.” 21 Joram het gesê: “Kry my strydwa gereed!” Toe het hulle sy strydwa gereed gekry, en koning Joram van Israel en koning Ahaʹsia+ van Juda het elkeen in sy eie strydwa na Jehu uitgegaan. Hulle het hom op die stuk grond van Nabot,+ die Jisreëliet, ontmoet.
22 Toe Joram Jehu sien, het hy gevra: “Kom jy in vrede, Jehu?” Maar hy het gesê: “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma, Iseʹbel,+ voortgaan om prostitusie en towery te beoefen?”+ 23 Joram het sy strydwa dadelik omgedraai om te vlug, en hy het vir Ahaʹsia gesê: “Ahaʹsia, dit is ’n lokval!” 24 Jehu het sy boog geneem en Joram tussen die skouers geskiet, en die pyl het by sy hart uitgekom, en hy het in sy strydwa inmekaargesak. 25 Hy het toe vir Bidkar, die offisier wat by hom was, gesê: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet.+ Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, gery het? Toe het Jehovah hierdie oordeel teen hom uitgespreek:+ 26 ‘“So seker as wat ek gister die bloed van Nabot+ en die bloed van sy seuns gesien het,” sê Jehovah, “so seker sal ek op jou wraak neem+ op hierdie stuk grond,” sê Jehovah.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond, soos Jehovah gesê het.”+
27 Toe koning Ahaʹsia+ van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van die tuinhuis gevlug. (Later het Jehu hom agternagesit en gesê: “Maak hom ook dood!” Hulle het hom toe in die strydwa gewond toe hy op pad was na Gur, wat by Jibʹleam+ is. Maar hy het na Megidʹdo gevlug en daar gesterf. 28 Toe het sy knegte hom in ’n strydwa na Jerusalem geneem, en hulle het hom in sy graf by sy voorvaders in die Stad van Dawid+ begrawe. 29 Dit was in die 11de jaar van Joram, die seun van Agab, dat Ahaʹsia+ koning oor Juda geword het.)
30 Toe Jehu by Jisʹreël+ aankom, het Iseʹbel+ daarvan gehoor. En sy het haar oë met swart verf* geverf en haar kop versier en deur die venster afgekyk. 31 Toe Jehu by die poort inkom, het sy gevra: “Het dit goed gegaan met Simri, wat sy heer vermoor het?”+ 32 Hy het na die venster opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?”+ Onmiddellik het twee of drie hofbeamptes na hom toe afgekyk. 33 Hy het gesê: “Gooi haar af!” Toe het hulle haar afgegooi, en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hy het haar met sy perde vertrap. 34 Daarna het hy ingegaan en geëet en gedrink. Toe het hy gesê: “Neem hierdie vervloekte vrou asseblief en begrawe haar. Sy is darem die dogter van ’n koning.”+ 35 Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, het hulle niks gevind nie behalwe haar skedel en haar voete en haar handpalms.+ 36 Toe hulle teruggaan en hom hiervan vertel, het hy gesê: “Dit vervul wat Jehovah+ deur middel van sy kneg Eliʹa, die Tisbiet, gesê het: ‘Op die stuk grond in Jisʹreël sal die honde Iseʹbel+ opeet. 37 En die lyk van Iseʹbel sal op die stuk grond in Jisʹreël soos mis op die oppervlak van die veld word, sodat hulle nie sal kan sê: “Dit is Iseʹbel” nie.’”