Die tweede boek van Konings
5 Naäman, die hoof van die leërmag van die koning van Sirië, was ’n belangrike man, en sy heer het groot respek vir hom gehad omdat Jehovah hom gebruik het om vir Sirië ’n oorwinning* te gee. Hy was ’n magtige vegter, hoewel hy ’n melaatse was.* 2 Eendag, toe die Siriërs die Israeliete gaan stroop het, het hulle ’n meisietjie uit die land van Israel gevange geneem, en sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword. 3 Sy het vir haar meesteres gesê: “As my heer tog maar net na die profeet+ in Samariʹa sou gaan, dan sal hy hom van sy melaatsheid genees.”+ 4 Toe het hy* vir sy heer gaan vertel wat die meisie van Israel gesê het.
5 Die koning van Sirië het gesê: “Gaan! Ek sal ’n brief aan die koning van Israel stuur.” Hy het dus gegaan en tien talente* silwer, 6 000 stukke goud en tien stelle klere saamgeneem. 6 Hy het die brief na die koning van Israel geneem, wat gesê het: “Saam met hierdie brief stuur ek my kneg Naäman na u toe, sodat u hom van sy melaatsheid kan genees.” 7 Toe die koning van Israel die brief lees, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek God, wat mense kan doodmaak en hulle aan die lewe kan hou?+ Want hy stuur hierdie man na my toe en sê dat ek hom van sy melaatsheid moet genees! Julle kan mos sien dat hy moeilikheid soek.”
8 Maar toe Eliʹsa, die man van die ware God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy dadelik ’n boodskap na die koning toe gestuur en gesê: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat hom asseblief na my toe kom sodat hy kan weet dat daar ’n profeet in Israel is.”+ 9 Toe het Naäman met sy perde en sy strydwaens gekom en by die ingang van die huis van Eliʹsa gaan staan. 10 Eliʹsa het ’n boodskapper na hom toe gestuur om vir hom te sê: “Gaan was jou sewe keer+ in die Jordaanrivier,+ en dan sal jy gesond word, en jy sal rein wees.” 11 Maar Naäman het kwaad geword en begin wegstap en gesê: “Ek het gedink dat hy na my toe sou uitkom en hier sou staan en die naam van Jehovah sy God sou aanroep terwyl hy sy hand heen en weer oor die melaatsheid beweeg om dit te genees. 12 Is die Abaʹna en die Farpar, die riviere van Damaskus,+ nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie in hulle was en rein word nie?” Toe het hy omgedraai en woedend weggegaan.
13 Sy knegte het toe na hom toe gegaan en vir hom gesê: “My vader, sou u nie gedoen het wat die profeet gesê het as hy vir u gesê het om iets buitengewoons te doen nie? Maar al wat hy vir u gesê het, is: ‘Was jou en wees rein.’ Moet u dit nie maar doen nie?” 14 Toe het hy sewe keer in die Jordaanrivier onder die water gegaan,* net soos die man van die ware God gesê het.+ Daarna het sy vel gesond geword, soos die vel van ’n klein seuntjie,+ en hy het rein geword.+
15 Daarna het hy en al sy manne* teruggegaan na die man van die ware God,+ en hy het voor hom gaan staan en gesê: “Nou weet ek dat daar nêrens op aarde ’n God is, behalwe in Israel nie.+ Aanvaar asseblief ’n geskenk* van u kneg.” 16 Maar Eliʹsa het gesê: “So waar as wat Jehovah, wat ek dien,* lewe, ek sal dit nie aanvaar nie.”+ Hy het daarop aangedring dat hy dit aanvaar, maar hy het bly weier. 17 Uiteindelik het Naäman gesê: “Goed dan, maar laat daar asseblief aan u kneg grond van hierdie land gegee word, soveel as wat twee muile kan dra, want u kneg sal nie meer ’n brandoffer of ’n offerande aan enige ander god as Jehovah offer nie. 18 Maar mag Jehovah my hierdie een ding vergewe: Wanneer my heer in die tempel* van Rimmon ingaan om daar neer te buig, leun hy op my arm, en dan moet ek in die tempel* van Rimmon neerbuig. Mag Jehovah my asseblief vergewe wanneer ek in die tempel* van Rimmon neerbuig.” 19 Toe het hy vir hom gesê: “Gaan in vrede.” Nadat hy van hom af weggegaan het en ’n hele ent gereis het, 20 het Gehaʹsi,+ die dienaar van Eliʹsa, die man van die ware God,+ gedink: ‘My meester het hierdie Siriër Naäman+ laat gaan sonder om die geskenk te aanvaar wat hy gebring het. So waar as wat Jehovah lewe, ek sal agter hom aan hardloop en iets van hom neem.’ 21 En Gehaʹsi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien dat iemand agter hom aan hardloop, het hy van sy strydwa afgeklim en na hom toe gegaan en gevra: “Is alles in orde?” 22 Hy het geantwoord: “Alles is in orde. My meester het my gestuur om te sê: ‘Twee jong manne uit die seuns van die profete het nou net uit die bergstreek van Eʹfraim na my toe gekom. Gee asseblief vir hulle ’n talent silwer en twee stelle klere.’”+ 23 Naäman het gesê: “Neem twee talente.” En hy het by hom aangedring+ en twee talente silwer in twee sakke toegebind, met twee stelle klere, en dit vir twee van sy dienaars gegee, wat dit voor Gehaʹsi gedra het.
24 Toe hy by Ofel* kom, het hy dit by hulle geneem en dit in die huis neergesit en die manne weggestuur. Nadat hulle weggegaan het, 25 het hy ingegaan en by sy meester gaan staan. Eliʹsa het toe vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan, Gehaʹsi?” Maar hy het gesê: “U kneg het nêrens gegaan nie.”+ 26 Eliʹsa het toe vir hom gesê: “Was my hart nie daar by jou toe die man van sy strydwa afgeklim het en na jou toe gegaan het nie? Is dit die tyd om silwer te aanvaar of om klere of olyfboorde of wingerde of skape of beeste of diensknegte of diensmeisies te aanvaar?+ 27 Nou sal jy en jou nageslag vir ewig ly aan die melaatsheid van Naäman.”+ Gehaʹsi het onmiddellik as ’n melaatse van hom af weggegaan, so wit soos sneeu.+