Bybelboek nommer 9—1 Samuel
Skrywers: Samuel, Gad, Natan
Waar geskryf: Israel
Geskrif voltooi: ca. 1078 v.G.J.
Beskrewe tydperk: ca. 1180–1078 v.G.J.
1. Watter groot verandering in die organisasie van die nasie Israel het in 1117 v.G.J. plaasgevind, en watter toestande sou daarop volg?
IN DIE jaar 1117 v.G.J. het daar ’n gewigtige verandering in Israel se nasionale organisasie plaasgevind. ’n Menslike koning is aangestel! Dit het gebeur terwyl Samuel as Jehovah se profeet in Israel gedien het. Hoewel Jehovah dit vooruit geweet en voorspel het, was die oorgang tot ’n monargie, wat deur die volk Israel geëis is, ’n geweldige slag vir Samuel. Omdat Samuel van geboorte af aan Jehovah se diens toegewy en met eerbiedige erkenning van Jehovah se koningskap vervul was, het hy rampspoedige gevolge vir sy medelede van God se heilige nasie voorsien. Slegs op Jehovah se bevel het Samuel aan hulle eise toegegee. “Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in ’n boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê” (1 Sam. 10:25). So het die tydperk van die rigters ten einde geloop en die tydperk van menslike konings begin, waartydens Israel tot ongekende mag en aansien sou styg en dan uiteindelik in ongenade sou val en Jehovah se guns sou verloor.
2. Wie het Eerste Samuel geskryf, en waarom was hulle geskik vir hierdie taak?
2 Wie sou in aanmerking kom om die goddelike verslag van hierdie gewigtige tydperk op te teken? Jehovah het gepas die getroue Samuel gekies om met die skrywe daarvan te begin. Samuel beteken “Naam van God”, en hy het inderdaad in daardie dae uitgemunt as iemand wat Jehovah se naam hooggehou het. Samuel het blykbaar die eerste 24 hoofstukke van die boek geskryf. Na sy dood het Gad en Natan verder geskryf en die laaste paar jaar van die verslag tot met Saul se dood voltooi. Dit blyk uit 1 Kronieke 29:29, wat lui: “En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad.” In teenstelling met Konings en Kronieke verwys die boeke van Samuel feitlik glad nie na vroeëre verslae nie, en dit bevestig dat Dawid se tydgenote Samuel, Gad en Natan die skrywers is. Al drie hierdie mans het vertrouensampte as profete van Jehovah beklee en was gekant teen die afgodery wat die krag van die nasie ondermyn het.
3. (a) Hoe het Eerste Samuel ’n afsonderlike Bybelboek geword? (b) Wanneer is dit voltooi, en watter tydperk dek dit?
3 Die twee boeke van Samuel was oorspronklik een rol, of volume. Samuel is in twee boeke verdeel toe hierdie deel van die Griekse Septuagint uitgegee is. In die Septuagint is Eerste Samuel Eerste Koninkryke genoem. Hierdie verdeling en die naam Eerste Konings is deur die Latynse Vulgaat aangeneem en verskyn vandag nog so in Katolieke Bybels. Dat Eerste en Tweede Samuel oorspronklik een boek gevorm het, blyk uit die Masoretiese aantekening by 1 Samuel 28:24, wat sê dat hierdie vers in die middel van die boek Samuel is. Die boek is blykbaar omstreeks 1078 v.G.J. voltooi. Gevolglik dek Eerste Samuel waarskynlik ’n tydperk van net meer as honderd jaar, vanaf om en by 1180 tot 1078 v.G.J.
4. Hoe is die akkuraatheid van die verslag in Eerste Samuel gestaaf?
4 Daar is ’n oorvloed van bewyse van die akkuraatheid van die verslag. Geografiese liggings pas by die beskrewe gebeure. Dit is interessant dat Jonatan se suksesvolle aanval op ’n Filistynse garnisoen by Migmas, wat tot die algehele verdrywing van die Filistyne gelei het, in die Eerste Wêreldoorlog deur ’n Britse leëroffisier herhaal is, wat glo die Turke verdryf het deur die beskrewe landmerke in Samuel se geïnspireerde verslag te volg.—14:4-14.a
5. Hoe getuig Bybelskrywers van die egtheid van Eerste Samuel?
5 Maar daar is selfs kragtiger bewyse van die inspirasie en egtheid van die boek. Dit bevat die treffende vervulling van Jehovah se profesie dat Israel ’n koning sou vra (Deut. 17:14; 1 Sam. 8:5). Jare later het Hosea die verslag gestaaf deur Jehovah se woorde aan te haal: “Ek gee jou ’n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid” (Hos. 13:11). Petrus het te kenne gegee dat Samuel geïnspireerd was toe hy Samuel geïdentifiseer het as ’n profeet wat ‘die dae van Jesus aangekondig het’ (Hand. 3:24). Paulus het 1 Samuel 13:14 in ’n kort oorsig van die geskiedenis van Israel aangehaal (Hand. 13:20-22). Jesus self het die verslag as eg gestempel toe hy die Fariseërs in sy dag gevra het: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het?” Hy het toe vertel hoe Dawid om die toonbrode gevra het (Matt. 12:1-4; 1 Sam. 21:1-6). Esra het ook die verslag as eg aanvaar, soos reeds gemeld.—1 Kron. 29:29.
6. Watter ander interne Bybelbewys toon dat Eerste Samuel eg is?
6 Aangesien dit die oorspronklike verslag van Dawid se bedrywighede is, bevestig elke vermelding van Dawid in die Skrif dat die boek Samuel ’n deel van God se geïnspireerde Woord is. Party van die gebeure in die boek word selfs in opskrifte van die psalms van Dawid gemeld, soos dié van Psalm 59 (1 Sam. 19:11), Psalm 34 (1 Sam. 21:13, 14) en Psalm 142 (1 Sam. 22:1 of 1 Sam. 24:1, 3). Die interne getuienis van God se eie Woord verskaf dus voldoende bewys van die egtheid van Eerste Samuel.
INHOUD VAN EERSTE SAMUEL
7. Oor die lewe van watter leiers in Israel handel die geskiedenis in die boek?
7 Die boek bevat ’n gedeeltelike of algehele beskrywing van die lewe van vier van Israel se leiers: die hoëpriester Eli, die profeet Samuel, Saul, die eerste koning, en Dawid wat gesalf is om die volgende koning te wees.
8. Onder watter omstandighede word Samuel gebore en begin hy ‘Jehovah dien’?
8 Eli se rigterskap en die jeugdige Samuel (1:1–4:22). Wanneer die verslag begin, word ons voorgestel aan Hanna, die lieflingsvrou van Elkana, ’n Leviet. Sy is kinderloos en word hieroor bespot deur Elkana se ander vrou, Peninna. Wanneer die gesin een van sy jaarlikse besoeke aan Silo bring, waar die ark van Jehovah se verbond is, bid Hanna vurig tot Jehovah om ’n seun. Sy belowe dat sy die kind aan die diens van Jehovah sal afstaan as haar gebed verhoor word. God verhoor haar gebed en sy skenk die lewe aan ’n seun, Samuel. Sodra hy gespeen is, bring sy hom na die huis van Jehovah en plaas sy hom in die sorg van die hoëpriester Eli, as iemand wat ‘aan Jehovah afgestaan is’ (1:28). Dan gee Hanna in ’n jubelsang uiting aan haar dankbaarheid en vreugde. Die seun ‘dien Jehovah by die priester Eli’.—2:11.
9. Hoe word Samuel ’n profeet in Israel?
9 Alles is nie pluis met Eli nie. Hy is oud en sy twee seuns het nikswerd skurke geword wat “die HERE nie erken nie” (2:12). Hulle gebruik hulle priesteramp om hulle hebsug en welluste te bevredig. Eli versuim om hulle tereg te wys. Jehovah stuur derhalwe goddelike boodskappe teen die huis van Eli en waarsku dat “daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie” en dat albei Eli se seuns op dieselfde dag sal sterf (1 Sam. 2:30-34; 1 Kon. 2:27). Ten slotte stuur Hy die seun Samuel na Eli met ’n oordeelsboodskap wat die ore laat tuit. So word jong Samuel amptelik as profeet in Israel erken.—1 Sam. 3:1, 11.
10. Hoe voltrek Jehovah oordeel aan Eli se huis?
10 Mettertyd voltrek Jehovah hierdie oordeel deur die Filistyne te laat optrek. Wanneer die stryd ’n ongunstige wending teen Israel begin neem, bring die Israeliete die verbondsark met luide geskreeu van Silo na hulle laer. Wanneer die Filistyne die geskreeu hoor en verneem dat die Ark in die laer van die Israeliete ingebring is, versterk hulle hulle en behaal hulle ’n opsienbarende oorwinning deur die Israeliete heeltemal op die vlug te jaag. Die Ark word buitgemaak en Eli se twee seuns sterf. Met bewende hart hoor Eli die verslag aan. Wanneer die Ark gemeld word, val hy agteroor van sy stoel af en sterf hy aan ’n gebreekte nek. So eindig sy 40-jarige rigterskap. Ja, “weggevoer is die eer uit Israel”, want die Ark verteenwoordig Jehovah se teenwoordigheid by sy volk.—4:22.
11. Hoe blyk dit dat die Ark geen gelukbringer is nie?
11 Samuel rig Israel (5:1–7:17). Nou moet die Filistyne ook tot hulle leedwese leer dat die ark van Jehovah nie as ’n gelukbringer gebruik moet word nie. Wanneer hulle die Ark in die tempel van Dagon in Asdod inbring, val hulle god plat op sy gesig. Die volgende dag val Dagon weer by die drumpel neer, terwyl sy kop en albei handpalms hierdie keer afbreek. Dit gee aanleiding tot die Filistynse bygeloof om ‘nie op die drumpel van Dagon te trap nie’ (5:5). Die Filistyne neem die Ark inderhaas na Gat en dan na Ekron, maar alles tevergeefs! Hulle word deur paniek, geswelle, of aambeie, en ’n muisplaag geteister. Uit uiterste wanhoop omdat die sterfgevalle steeds toeneem, stuur die Filistynse vorste die Ark op ’n nuwe wa wat deur twee melkkoeie getrek word terug na Israel. By Bet-Semes tref onheil sommige Israeliete omdat hulle die Ark aanskou (1 Sam. 6:19; Num. 4:6, 20). Uiteindelik word die Ark in die huis van Abinadab in die Levitiese stad Kirjat-Jearim geplaas.
12. Watter seëninge spruit uit Samuel se bevordering van ware aanbidding?
12 Die Ark bly 20 jaar in die huis van Abinadab. Samuel, nou ’n volwasse man, spoor Israel aan om die Baäls en die Astarte-beelde te verwyder en om Jehovah met hulle hele hart te dien. Hulle doen dit. Wanneer hulle vir aanbidding by Mispa vergader, gryp die vorste van die Filistyne die geleentheid aan om Israel onverwags aan te val. Israel roep Jehovah deur Samuel aan. Jehovah laat dit met ’n groot geluid oor die Filistyne donder en bring hulle in verwarring, en die Israeliete, versterk deur offerande en deur gebed, behaal ’n oorweldigende oorwinning. Van toe af ‘is die hand van Jehovah teen die Filistyne al die dae van Samuel’ (7:13). Vir Samuel is daar egter geen sprake van aftrede nie. Hy bly sy hele lewe lank rigter oor Israel en doen jaarliks die ronde van Rama, net noord van Jerusalem, na Bet-el, Gilgal en Mispa. In Rama bou hy ’n altaar vir Jehovah.
13. Hoe verwerp Israel Jehovah as Koning, en teen watter gevolge waarsku Samuel?
13 Israel se eerste koning, Saul (8:1–12:25). Samuel het oud geword in Jehovah se diens, maar sy seuns wandel nie in die weë van hulle vader nie, want hulle aanvaar omkoopgeskenke en verdraai die reg. In hierdie tyd kom die oudstes van Israel na Samuel en eis: “Stel nou ’n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies” (8:5). Baie ontsteld bid Samuel tot Jehovah. Jehovah antwoord: “Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie. . . . Luister dan nou na hulle” (8:7-9). Maar Samuel moet hulle eers oor die droewe gevolge van hulle opstandige versoek waarsku: reglementering, belasting, verlies van vryheid en uiteindelik bittere smart en hulpgeroep tot Jehovah. Dit laat die volk nie van hulle wense afsien nie en hulle eis ’n koning.
14. Hoe word Saul in die koningskap bevestig?
14 Nou maak ons kennis met Saul, ’n seun van Kis van die stam van Benjamin en verreweg die aantreklikste en langste man in Israel. Hy word na Samuel gelei, wat hom met ’n fees eer, hom salf en hom dan by ’n vergadering in Mispa aan die hele Israel voorstel. Hoewel Saul aanvanklik tussen die bagasie wegkruip, word hy uiteindelik as Jehovah se keuse na vore gebring. Samuel herinner Israel weer eens aan die reg van die koningskap en skryf dit in ’n boek. Maar dit is eers na Saul se oorwinning oor die Ammoniete, waardeur die beleëring van Jabes in Gilead opgehef word, dat Saul se posisie as koning versterk word; gevolglik bevestig die volk sy koningskap by Gilgal. Samuel maan hulle weer om Jehovah te vrees, te dien en te gehoorsaam, en hy versoek Jehovah om ’n teken in die vorm van ontydige donderslae en reën in die oestyd te stuur. In ’n skrikwekkende vertoning toon Jehovah sy toorn oor die feit dat hulle hom as Koning verwerp het.
15. Watter aanmatigende sonde lei tot Saul se val?
15 Saul se ongehoorsaamheid (13:1–15:35). Wanneer die Filistyne Israel bly teister, verslaan Saul se dapper seun Jonatan ’n Filistynse garnisoen. Om dit te wreek, stuur die vyand ’n groot leër, so talryk ‘soos die sand op die seestrand’, en hulle slaan laer op by Migmas. Onrus heers in die Israelitiese geledere. ‘As Samuel maar net wil kom om ons Jehovah se instruksies te gee!’ Te ongeduldig om langer vir Samuel te wag, sondig Saul deur aanmatigend te wees en self die brandoffer op te offer. Meteens verskyn Samuel. Hy neem geen notisie van Saul se flou verskonings nie en maak Jehovah se oordeel bekend: “Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ’n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.”—13:14.
16. Tot watter moeilikhede lei Saul se onbesonnenheid?
16 Jonatan, wat ywerig vir Jehovah se naam is, val weer ’n Filistynse buitepos aan, hierdie keer slegs met sy wapendraer, en hulle verslaan gou nagenoeg 20 man. ’n Aardbewing vergroot die vyand se verwarring, hulle word op die vlug gedryf en Israel sit hulle vasberade agterna. Die oorwinning is egter nie so groot soos dit kon gewees het nie as gevolg van Saul se onbesonne eed wat die manskappe verbied om te eet totdat die geveg oor is. Die manne raak gou uitgeput en sondig dan teen Jehovah deur pas geslagte vleis te eet sonder om die tyd te neem om die bloed te laat uitloop. Jonatan het hom egter met ’n heuningkoek verfris voor hy van die eed gehoor het, wat hy moedig as ’n belemmering veroordeel. Hy word deur die volk van die dood gered danksy die groot redding wat hy in Israel bewerk het.
17. Watter verdere verwerping van Saul volg op sy tweede ernstige sonde?
17 Nou breek die tyd aan om Jehovah se oordeel aan die veragtelike Amalekiete te voltrek (Deut. 25:17-19). Hulle moet heeltemal uitgeroei word. Niks mag gespaar bly nie, nie mens of dier nie. Geen buit mag geneem word nie. Alles moet vernietig word. Saul is egter ongehoorsaam en spaar Agag, die koning van Amalek, en die beste van die kleinvee en die beeste, kastig om dit aan Jehovah te offer. Dit mishaag die God van Israel dermate dat hy Samuel inspireer om ’n tweede verwerping van Saul uit te spreek. Samuel ignoreer die verskonings wat Saul aanvoer om sy aansien te red en sê: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer . . . Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Sam. 15:22, 23). Saul gryp dan na Samuel om ’n smeekbede tot hom te rig en skeur die slip van sy mantel af. Samuel verseker hom dat Jehovah net so seker die koninkryk van Saul sal afskeur en dit aan ’n beter man sal gee. Samuel tel self ’n swaard op, stel Agag tereg en keer Saul die rug toe, om hom nooit weer te sien nie.
18. Op grond waarvan kies Jehovah Dawid?
18 Dawid se salwing, sy dapperheid (16:1–17:58). Jehovah lei Samuel vervolgens na die huis van Isai in Betlehem van Juda om die toekomstige koning te kies en te salf. Een vir een kom die seuns van Isai voor Samuel, maar hulle word verwerp. Jehovah herinner Samuel: “Nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (16:7). Uiteindelik dui Jehovah aan dat hy Dawid, die jongste, wat as “rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms” beskryf word, goedkeur, en Samuel salf hom met olie (16:12). Jehovah se gees kom nou oor Dawid, maar Saul ontwikkel ’n bose gees.
19. Watter vroeë oorwinning behaal Dawid in Jehovah se naam?
19 Die Filistyne doen weer ’n aanval in Israel en laat hulle baasvegter, Goliat, ’n reus van ses el en ’n span (2,9 meter), na vore tree. Hy is so enorm dat sy pantser sowat 57 kilogram weeg, en die lem van sy spies nagenoeg 6,8 kilogram (17:4, 5, 7). Dag na dag daag hierdie Goliat Israel godslasterlik en smalend uit om ’n man te kies en hom te laat uitkom om te veg, maar niemand antwoord nie. Saul bewe in sy tent. Dawid kom egter die Filistyn se uittartings te hore. Met regverdige verontwaardiging en geïnspireerde moed roep Dawid uit: “Wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” (17:26). Dawid wys Saul se wapenrusting van die hand omdat hy dit nog nooit probeer het nie en gaan uit om te veg, toegerus met slegs ’n herderstaf, ’n slinger en vyf gladde klippe. Goliat, wat ’n geveg met hierdie jong herderseun as benede sy waardigheid beskou, vervloek hom. Vol vertroue weerklink die antwoord: “Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van [Jehovah] van die leërskare” (17:45, vgl. NW). Een goed gemikte klip uit Dawid se slinger en die baasvegter van die Filistyne stort op die grond neer! Dawid, wat goed deur albei leërs gesien kan word, hardloop na die reus toe, trek dié se swaard uit sy skede en kap Goliat se kop met sy eie swaard af. Wat ’n grootse bevryding van Jehovah! Watter vreugde in die laer van Israel! Noudat hulle baasvegter dood is, vlug die Filistyne, met die juigende Israeliete op hulle hakke.
20. Hoe verskil Jonatan se gesindheid teenoor Dawid van dié van Saul?
20 Saul se vervolging van Dawid (18:1–27:12). Dawid se onbevreesde optrede ter wille van Jehovah se naam bring vir hom ’n wonderlike vriendskap mee. Dit is met Jonatan, die seun van Saul en die een wat natuurlikerwys vir die koningskap in aanmerking sal kom. Jonatan kry ‘hom so lief soos sy eie siel’, sodat die twee ’n vriendskapsverbond sluit (18:1-3). Wanneer Dawid se roem in Israel gevier word, raak Saul woedend en probeer hy hom doodmaak, ondanks die feit dat hy hom sy dogter Migal ten huwelik gee. Saul se vyandskap raak al hoe waansinniger, sodat Dawid uiteindelik gedwing word om met Jonatan se liefdevolle hulp te vlug. Die twee ween wanneer hulle afskeid neem en Jonatan herbevestig sy lojaliteit teenoor Dawid en sê: “Die HERE sal tussen my en jou wees, en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd.”—20:42.
21. Watter gebeure kenmerk Dawid se vlug van Saul?
21 In sy vlug van die verbitterde Saul kom Dawid en sy groepie uitgehongerde aanhangers in Nob aan. Hier laat die priester Ahimeleg hulle toe om die heilige toonbrode te eet nadat hy die versekering ontvang het dat Dawid en sy manne rein is van vroue. Dawid, wat nou gewapen is met die swaard van Goliat, vlug na Gat in Filistynse gebied, waar hy voorgee dat hy kranksinnig is. Dan gaan hy na die spelonk van Adullam, dan na Moab en later, op advies van die profeet Gad, terug na die land Juda. Bang vir ’n opstand ten gunste van Dawid, beveel die kranksinnig jaloerse Saul Doëg, die Edomiet, om die priesterlike bevolking van Nob te vermoor, en net Abjatar ontvlug en sluit hom by Dawid aan. Hy word die priester vir die groep.
22. Hoe openbaar Dawid lojaliteit teenoor Jehovah en respek vir Sy organisasie?
22 As ’n lojale kneg van Jehovah voer Dawid nou ’n doeltreffende guerrillaoorlog teen die Filistyne. Saul sit egter sy hewige veldtog om Dawid in die hande te kry voort deur sy manskappe bymekaar te roep en hom “in die woestyn van Engedi” te jag (24:2). Dawid, die geliefde van Jehovah, slaag daarin om die vervolgers altyd een tree voor te wees. Hy het eenkeer die geleentheid om Saul dood te maak, maar hy doen dit nie en sny net die slip van Saul se mantel af as bewys dat hy sy lewe gespaar het. Selfs hierdie onskuldige daad pla Dawid se gewete, want hy meen dat hy teen die gesalfde van Jehovah opgetree het. Watter groot respek het hy tog vir Jehovah se organisasie!
23. Hoe maak Abigail vrede met Dawid en word sy uiteindelik sy vrou?
23 Hoewel Samuel se dood nou opgeteken word (25:1), sit die skrywer wat hom opvolg die verslag voort. Dawid versoek dat Nabal, van Maon in Juda, hom en sy manne van voedsel voorsien in ruil vir die vriendskap wat hulle aan Nabal se herders betoon het. Nabal ‘vaar net uit’ teen Dawid se manne, en Dawid gaan om hom te straf (25:14). Nabal se vrou, Abigail, besef die gevaar en neem in die geheim vir Dawid voorrade en paai hom. Dawid seën haar vir hierdie verstandige optrede en stuur haar in vrede terug. Wanneer Abigail vir Nabal van die gebeure vertel, kry hy ’n hartaanval en sterf hy tien dae later. Dawid self trou nou met die bevallige en pragtige Abigail.
24. Hoe spaar Dawid weer Saul se lewe?
24 Vir ’n derde maal sit Saul Dawid fanatiek agterna, en weer eens ervaar hy Dawid se barmhartigheid. “’n Diepe slaap van die HERE” val op Saul en sy manne. Dit stel Dawid in staat om die laer binne te gaan en Saul se spies te neem, maar hy slaan nie sy hand “aan die gesalfde van die HERE” nie (26:11, 12). Dawid word ’n tweede maal gedwing om na die Filistyne te vlug en daar skuiling te soek, en hulle gee hom Siklag as woonplek. Van hier af sit hy sy uitvalle teen ander vyande van Israel voort.
25. Watter derde ernstige sonde pleeg Saul?
25 Saul se selfmoord (28:1–31:13). Die vorste van die Filistyne laat ’n verenigde leër na Sunem optrek. In ’n teenhandeling neem Saul stelling in op die berg Gilboa. Hy soek wanhopig leiding, maar kry geen antwoord van Jehovah nie. As hy maar net met Samuel in aanraking kon kom! Saul vermom homself en maak hom aan nog ’n ernstige sonde skuldig wanneer hy ’n geesmedium in Endor, agter die Filistynse linies, gaan opsoek. Wanneer hy haar vind, smeek hy haar om namens hom met Samuel in aanraking te kom. Gretig om oorylde gevolgtrekkings te maak, neem Saul aan dat die verskynsel die afgestorwe Samuel is. “Samuel” het egter geen vertroostende boodskap vir die koning nie. Môre sal hy sterf, en ooreenkomstig Jehovah se woorde sal die koninkryk van hom weggeneem word. In die ander kamp trek die vorste van die Filistyne op vir die geveg. Wanneer hulle Dawid en sy manne onder hulle sien, word hulle agterdogtig en stuur hulle hul huis toe. Dawid se manne kom net betyds in Siklag aan! ’n Stroopbende Amalekiete het die gesinne en besittings van Dawid en sy manne weggevoer, maar Dawid en sy manne sit hulle agterna en almal word ongedeerd teruggebring.
26. Hoe eindig die rampspoedige regering van Israel se eerste koning?
26 Op die berg Gilboa bars die stryd nou los. Israel lei ’n rampspoedige neerlaag en die Filistyne neem strategiese dele van die land in. Jonatan en ander seuns van Saul sneuwel, en die dodelik gewonde Saul maak homself met sy eie swaard dood—selfmoord. Die seëvierende Filistyne hang die lyke van Saul en sy drie seuns teen die mure van die stad Bet-San, maar die manne van Jabes in Gilead verwyder hulle uit hierdie skandelike posisie. Die rampspoedige regering van Israel se eerste koning het tot ’n jammerlike einde gekom.
WAAROM NUTTIG
27. (a) Waarin het Eli en Saul gefaal? (b) In watter opsigte is Samuel en Dawid goeie voorbeelde vir opsieners en vir jong bedienaars?
27 Wat ’n geskiedenis bevat Eerste Samuel tog! Daar dit volkome eerlik is in elke besonderheid, openbaar dit terselfdertyd die swakheid en die krag van Israel. Hier word vier leiers in Israel beskryf, twee wat die wet van God gehoorsaam het en twee wat dit nie gedoen het nie. Let op hoe Eli en Saul gefaal het: Eersgenoemde het versuim om op te tree en laasgenoemde het aanmatigend opgetree. Daarenteen het Samuel en Dawid van jongs af liefde vir Jehovah se weg geopenbaar, en hulle was dienooreenkomstig voorspoedig. Watter waardevolle lesse sien ons tog hier vir alle opsieners! Hoe noodsaaklik is dit tog vir hulle om ferm te wees, oor die reinheid en orde in Jehovah se organisasie te waak, respek vir sy reëlings te hê, onbevrees, bedaard en moedig te wees en liefdevolle bedagsaamheid teenoor ander te toon! (2:23-25; 24:6, 8; 18:5, 14-16). Let ook daarop dat die twee wat suksesvol was van jongs af die voordeel van ’n goeie teokratiese opleiding gehad het en dat hulle reeds op ’n jeugdige ouderdom moedig Jehovah se boodskap gespreek het en omgesien het na die belange wat aan hulle toevertrou is (3:19; 17:33-37). Mag alle hedendaagse jeugdige aanbidders van Jehovah jong “Samuels” en “Dawids” word!
28. Hoe word gehoorsaamheid benadruk, en watter raad in Eerste Samuel word later deur ander Bybelskrywers herhaal?
28 Van al die nuttige woorde van hierdie boek moet dié wat Samuel onder inspirasie van Jehovah uitgespreek het ter veroordeling van Saul se versuim om ‘die gedagtenis van Amalek onder die hemel uit te delg’ goed onthou word (Deut. 25:19). Die les dat ‘gehoorsaamheid beter as slagoffer is’, word in verskillende kontekste in Hosea 6:6, Miga 6:6-8 en Markus 12:33 herhaal (1 Sam. 15:22). Dit is noodsaaklik dat ons vandag baat vind by hierdie geïnspireerde verslag deur die stem van Jehovah ons God in alles te gehoorsaam! Ook gehoorsaamheid wat die erkenning van die heiligheid van bloed betref, word in 1 Samuel 14:32, 33 onder ons aandag gebring. Om vleis te eet sonder om die bloed deeglik te laat uitloop, is as ‘sonde teen Jehovah’ beskou. Dit is ook op die Christengemeente van toepassing, soos duidelik in Handelinge 15:28, 29 getoon word.
29. Eerste Samuel lig die gevolge van watter nasionale fout aan die kant van Israel toe, met watter waarskuwing vir eiesinnige mense?
29 Die boek Eerste Samuel lig die jammerlike fout toe van ’n nasie wat God se heerskappy vanuit die hemel as onprakties begin beskou het (1 Sam. 8:5, 19, 20; 10:18, 19). Die slaggate en vergeefsheid van menseheerskappy word aanskoulik sowel as profeties uitgebeeld (8:11-18; 12:1-17). Saul was aanvanklik ’n beskeie man wat God se gees gehad het (9:21; 11:6), maar sy oordeel het vertroebel en sy hart het verbitterd geraak namate liefde vir regverdigheid en geloof in God afgeneem het (14:24, 29, 44). Sy vroeë reputasie van ywer is ongedaan gemaak deur sy latere aanmatigende dade, ongehoorsaamheid en ontrou aan God (1 Sam. 13:9; 15:9; 28:7; Eseg. 18:24). Sy gebrek aan geloof het onsekerheid veroorsaak, wat in afguns, haat en moord ontaard het (1 Sam. 18:9, 11; 20:33; 22:18, 19). Hy het gesterf soos hy gelewe het, ’n man wat sy God en sy volk in die steek gelaat het, en sy dood dien as ’n waarskuwing vir enigiemand wat dalk geneig is om “aanmatigend”, of eiesinnig, soos hy te word.—2 Pet. 2:10-12, vgl. NW.
30. Watter eienskappe van Samuel kan hedendaagse bedienaars met nut aankweek?
30 Daar is egter die goeie as teenstelling. Let byvoorbeeld op die handelwyse van die getroue Samuel, wat Israel sy lewe lank gedien het sonder om iemand te bedrieg, partydig te wees of gunste te soek (1 Sam. 12:3-5). Hy was van jongs af gou om te gehoorsaam (3:5), beleef en eerbiedig (3:6-8), betroubaar in die nakoming van sy pligte (3:15), onwankelbaar in sy toewyding en toegewydheid (7:3-6; 12:2), gewillig om te luister (8:21), bereid om Jehovah se beslissings hoog te hou (10:24), standvastig in sy oordeel sonder aansien van persoonlikhede (13:13), gesteld op gehoorsaamheid (15:22) en volhardend in die vervulling van ’n opdrag (16:6, 11). Hy het ook ’n gunstige reputasie by ander gehad (2:26; 9:6). Nie alleen moet sy bediening in sy jeug hedendaagse jongmense aanspoor om die bediening op te neem nie (2:11, 18), maar sy volgehoue diens sonder aftrede tot aan die einde van sy lewe moet ook vermoeide bejaardes onderskraag.—7:15.
31. Waarin was Jonatan ’n voortreflike voorbeeld?
31 Dan is daar die uitstekende voorbeeld van Jonatan. Hy het geen wrok gekoester oor die feit dat Dawid gesalf is vir die koningskap wat hy moontlik sou geërf het nie. Hy het eerder Dawid se goeie eienskappe erken en ’n vriendskapsverbond met hom gesluit. Soortgelyke onselfsugtige vriendskappe kan uiters opbouend en bemoedigend wees onder diegene wat Jehovah vandag getrou dien.—23:16-18.
32. Watter goeie eienskappe sien ons in die vroue Hanna en Abigail?
32 Vir vroue is daar die voorbeeld van Hanna, wat haar man gereeld na die plek van Jehovah se aanbidding vergesel het. Sy was ’n vroom, nederige vrou, wat daarvan afgesien het om haar seun by haar te hê ten einde haar woord te hou en waardering vir Jehovah se goedheid te toon. Dit was vir haar inderdaad ’n wonderlike beloning om hom ’n loopbaan van vrugbare diens aan Jehovah te sien betree (1:11, 21-23, 27, 28). Dan is daar die voorbeeld van Abigail, wat vroulike onderdanigheid en verstandigheid aan die dag gelê het, met die gevolg dat sy Dawid se lof ontvang en later sy vrou geword het.—25:32-35.
33. Tot watter handelwyse moet Dawid se onbevreesde liefde en lojaliteit ons aanspoor?
33 Dawid se liefde vir Jehovah word roerend betuig in die psalms wat Dawid gekomponeer het terwyl hy in die woestyn deur Saul, die afvallige ‘gesalfde van Jehovah’, agtervolg is (1 Sam. 24:7; Ps. 34:7, 8; 52:10; 7:25, 8, 10). En met watter hartgrondige waardering het Dawid tog nie Jehovah se naam geheilig toe hy die smader Goliat openlik uitgedaag het nie! “Ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare . . . Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, . . . sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee” (1 Sam. 17:45-47). Dawid, die dapper en lojale “gesalfde” van Jehovah, het Jehovah as God van die hele aarde en die enigste ware Bron van redding verheerlik (2 Sam. 22:51). Mag ons altyd hierdie onbevreesde voorbeeld volg!
34. Hoe ontvou Jehovah se Koninkryksvoornemens hulle verder in verband met Dawid?
34 Wat het Eerste Samuel oor die ontvouing van God se Koninkryksvoornemens te sê? A, dit bring ons by die ware hoogtepunt van hierdie Bybelboek! Want hier maak ons kennis met Dawid, wie se naam waarskynlik “Geliefde” beteken. Jehovah het Dawid liefgehad en hom gekies as die “man na sy hart”, die een wat geskik was om koning in Israel te wees (1 Sam. 13:14). So het die koninkryk oorgegaan na die stam van Juda, ooreenkomstig Jakob se seën in Genesis 49:9, 10, en die koningskap sou in die stam van Juda bly totdat die Heerser kom aan wie die gehoorsaamheid van alle volke behoort.
35. Hoe het ’n verband tussen Dawid se naam en dié van die Koninkryksaad ontstaan, en watter eienskappe van Dawid sal daardie Saad nog openbaar?
35 Daarbenewens word Dawid se naam geassosieer met dié van die Koninkryksaad, wat ook in Betlehem gebore is en in Dawid se geslagslyn was (Matt. 1:1, 6; 2:1; 21:9, 15). Dit is die verheerlikte Jesus Christus, “die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid” en “die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Openb. 5:5; 22:16). Tydens sy heerskappy in Koninkryksmag sal hierdie “seun van Dawid” al die standvastigheid en moed van sy roemryke voorvader openbaar wanneer hy God se vyande beveg en tot ’n val bring en Jehovah se naam in die hele aarde heilig. Hoe sterk is ons vertroue tog in hierdie Koninkryksaad!
[Voetnoot]
a The Romance of the Last Crusade, 1923, majoor Vivian Gilbert, bladsye 183-6.