Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die Tweede Boek van Psalms
AS KNEGTE van Jehovah verwag ons dat ons voor beproewinge en toetse te staan sal kom. “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word”, het die apostel Paulus geskryf (2 Timoteus 3:12). Wat sal ons help om beproewinge en vervolging te verduur en sodoende ons onkreukbaarheid teenoor God te bewys?
Die tweede van die vyf versamelings psalms voorsien daardie hulp. Psalm 42 tot 72 toon dat ons ons volle vertroue in Jehovah moet stel en moet leer om op hom te wag vir verlossing as ons beproewinge met welslae wil verduur. Wat ’n waardevolle les is dit tog vir ons! Die boodskap van die Tweede Boek van Psalms is, soos die res van God se Woord, selfs vandag waarlik “lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.
JEHOVAH IS ONS “TOEVLUG EN STERKTE”
’n Leviet is in ballingskap. Hy is bedroef omdat hy nie na Jehovah se heiligdom kan gaan om te aanbid nie en troos homself deur te sê: “Waarom is jy wanhopig, o my siel, en waarom is jy onstuimig in my? Wag op God” (Psalm 42:5, 11; 43:5). Hierdie vers, wat ’n paar keer voorkom, verbind die drie stansas van Psalm 42 en 43 sodat dit een gedig vorm. Psalm 44 is ’n pleidooi ten behoewe van Juda—’n nasie wat in nood verkeer, moontlik weens die bedreiging van ’n Assiriese inval in die dae van koning Hiskia.
Psalm 45, ’n lied oor ’n koninklike troue, is ’n profesie oor die Messiaanse Koning. Die volgende drie psalms beeld Jehovah uit as “’n toevlug en sterkte”, “’n groot Koning oor die hele aarde” en “’n veilige hoogte” (Psalm 46:1; 47:2; 48:3). Hoe pragtig toon Psalm 49 tog dat geen mens “ooit selfs ’n broer [kan] loskoop” nie! (Psalm 49:7). Die eerste agt psalms van die tweede versameling word aan die seuns van Korag toegeskryf. Die negende, Psalm 50, is deur Asaf geskryf.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
44:19—Wat was “die plek van jakkalse”? Die psalmis het moontlik verwys na ’n slagveld, waar die gesneuweldes voedsel vir jakkalse word.
45:13, 14a—Wie is “die koning se dogter” wat “na die koning toe gelei word”? Sy is die dogter van die “Koning van die ewigheid”, Jehovah God (Openbaring 15:3). Sy verteenwoordig die verheerlikte gemeente van 144- 000 Christene, wat Jehovah as sy kinders aanneem deur hulle met sy gees te salf (Romeine 8:16). Hierdie “dogter” van Jehovah sal, “toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is”, na die bruidegom—die Messiaanse Koning—gelei word.—Openbaring 21:2.
45:14b, 15—Wie word deur “die maagde” afgebeeld? Hulle is die “groot menigte” ware aanbidders, wat by die gesalfde oorblyfsel aansluit en hulle ondersteun. Aangesien hulle lewend “uit die groot verdrukking kom”, sal hulle op die aarde wees wanneer die huwelik van die Messiaanse Koning in die hemel plaasvind (Openbaring 7:9, 13, 14). By daardie geleentheid sal hulle met “blydskap en vreugde” vervul word.
45:16—Hoe sal daar seuns in die plek van die koning se voorvaders wees? Toe Jesus op die aarde gebore is, het hy aardse voorvaders gehad. Hulle sal sy seuns word wanneer hy hulle gedurende sy Duisendjarige Heerskappy uit die dode opwek. Party van hulle sal onder dié wees wat as “vorste op die hele aarde” aangestel sal word.
50:2—Waarom word Jerusalem “die vervolmaking van skoonheid” genoem? Dit was nie as gevolg van die stad se voorkoms nie. Dit was eerder omdat Jehovah dit gebruik het en prag daaraan verleen het deur dit die plek vir sy tempel en die hoofstad van sy gesalfde konings te maak.
Lesse vir ons:
42:1-3. Net soos ’n takbokooi in ’n droë gebied na water verlang, het die Leviet na Jehovah verlang. Die man was so diep bedroef omdat hy Jehovah nie by Sy heiligdom kon aanbid nie, dat ‘sy trane dag en nag vir hom voedsel geword het’—hy het sy eetlus verloor. Moet ons nie innige waardering daarvoor opbou om Jehovah saam met medegelowiges te aanbid nie?
42:4, 5, 11; 43:3-5. As ons om die een of ander rede buite ons beheer tydelik van die Christengemeente afgesny word, kan die vreugdevolle herinneringe aan die omgang wat ons in die verlede daarmee geniet het, ons onderskraag. Hoewel dit aanvanklik die pyn van eensaamheid kan vererger, sal dit ons ook daaraan herinner dat God ons toevlug is en dat ons op hom moet wag vir verligting.
46:1-3. Watter rampspoed ons ook al tref, ons moet onwrikbare vertroue hê dat ‘God vir ons ’n toevlug en sterkte is’.
50:16-19. Enigiemand wat bedrog spreek en veragtelike dinge beoefen, het geen reg om God te verteenwoordig nie.
50:20. Ons moet eerder ander se foute oorsien as om gretig te wees om dit bekend te maak.—Kolossense 3:13.
“WAG STIL OP GOD, O MY SIEL”
Hierdie groep psalms begin met Dawid se opregte gebed ná sy sonde met Batseba. Psalm 52 tot 57 toon dat Jehovah diegene sal verlos wat hulle las op hom werp en op hom wag vir redding. Soos ons in Psalm 58-64 kan sien, maak Dawid Jehovah sy toevlug tydens al sy benoudhede. Hy sing: “Ja, wag stil op God, o my siel, want van hom kom my hoop.”—Psalm 62:5.
Ons intieme verhouding met ons Verlosser moet ons beweeg om ‘die heerlikheid van sy naam met melodieë te besing’ (Psalm 66:2). In Psalm 65 word Jehovah geloof as ’n vrygewige voorsiener, in Psalm 67 en 68 as ’n God van reddingsdade en in Psalm 70 en 71 as die Een wat ontkoming verskaf.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
51:12—Met wie se “gewillige gees” het Dawid gevra om ondersteun te word? Dit verwys, nie na God se gewilligheid om Dawid te help of na Jehovah se heilige gees nie, maar na Dawid se eie gees—na sy geestesneiging. Hy vra God om hom die begeerte te gee om te doen wat reg is.
53:1—Hoe is iemand wat ontken dat God bestaan, ’n “verstandelose”? Verstandeloosheid verwys hier nie na ’n gebrek aan intelligensie nie. Die feit dat so iemand sedelik verstandeloos is, kan gesien word uit die gevolglike sedelike verval wat in Psalm 53:1-4 beskryf word.
58:3-5—In watter opsig is die goddeloses soos ’n slang? Die leuens wat hulle oor ander vertel, is soos ’n slang se gif. Dit vergiftig, of skend, die goeie naam van hulle slagoffers. “Soos die kobra wat sy oor toestop”, luister die goddeloses nie na raad of teregwysing nie.
58:7—Hoe ‘los die goddeloses op soos in waters wat wegloop’? Dawid het moontlik gedink aan die waters van sekere stroomvalleie in die Beloofde Land. Hoewel ’n stortvloed die watervlak in so ’n vallei sal laat styg, vloei hierdie waters vinnig weg en verdwyn dit. Dawid het gebid dat die goddeloses gou moet verdwyn.
68:13—Hoe was ‘die vlerke van ’n duif met silwer en sy vlerkpunte met geelgroen goud oorgetrek’? Party vere van sommige blougrys duiwe het ’n reënboogkleurige skynsel. Hulle vere kry ’n metaalglans in die goue sonlig. Dawid het moontlik die seëvierende Israelitiese soldate wat van ’n stryd terugkeer, met so ’n duif vergelyk—wat ’n sterk vlieër is en ’n skitterende voorkoms het. Soos sommige geleerdes aan die hand doen, kan dit ook ’n beskrywing van ’n kunswerk, ’n trofee, wees wat as buit geneem is. Hoe dit ook al sy, Dawid het verwys na die oorwinnings wat Jehovah sy volk oor hulle vyande gegee het.
68:18—Wie was die “gawes in die vorm van mense”? Dit was manne onder dié wat gedurende die verowering van die Beloofde Land gevange geneem is. Hierdie manne het later die toewysing gekry om die Leviete met hulle werk te help.—Esra 8:20.
68:30—Wat beteken die versoek om ‘die wilde dier van die riete te bestraf’? Dawid het in figuurlike sin na die vyande van Jehovah se volk as wilde diere verwys en God gevra om hulle te bestraf, of om hulle krag om skade aan te rig, te beperk.
69:23—Wat beteken dit om ‘vyande se heupe te laat wankel’? Die spiere in die heupe is noodsaaklik om harde werk te doen, soos om swaar vragte op te tel en te dra. Wankelrige heupe dui op ’n verlies van krag. Dawid het gebid dat sy vyande hulle krag ontneem moet word.
Lesse vir ons:
51:1-4, 17. Die feit dat ons gesondig het, hoef ons nie van Jehovah God te vervreem nie. As ons berou toon, kan ons vertroue in sy barmhartigheid hê.
51:5, 7-10. As ons gesondig het, kan ons Jehovah om vergifnis vra op grond van ons oorgeërfde sondigheid. Ons moet ook tot hom bid om ons te reinig, ons te herstel, ons te help om sondige neigings uit ons hart te verwyder en ons ’n standvastige gees te gee.
51:18. Dawid se sondes het die welsyn van die hele nasie in gevaar gestel. Hy het dus gebid dat God welwillendheid teenoor Sion moet bewys. Wanneer ons ’n ernstige sonde pleeg, word Jehovah se naam en die gemeente dikwels oneer aangedoen. Ons moet tot God bid om die skade te herstel wat ons moontlik aangerig het.
52:8. Ons kan “soos ’n blaarryke olyfboom in God se huis” wees—na aan Jehovah en produktief in sy diens—deur hom te gehoorsaam en gewillig sy dissipline te aanvaar.—Hebreërs 12:5, 6.
55:4, 5, 12-14, 16-18. Die sameswering van sy eie seun Absalom en die verraad van die vertroude raadgewer Agitofel het Dawid groot emosionele pyn besorg. Maar dit het nie Dawid se vertroue in Jehovah laat afneem nie. Ons moenie toelaat dat emosionele spanning ons vertroue in God laat verswak nie.
55:22. Hoe werp ons ons las op Jehovah? Ons doen dit (1) deur tot hom te bid oor enigiets wat ons kwel, (2) deur ons tot sy Woord en organisasie te wend vir leiding en ondersteuning en (3) deur te doen wat ons redelikerwys kan om die situasie te verbeter.—Spreuke 3:5, 6; 11:14; 15:22; Filippense 4:6, 7.
56:8. Jehovah is nie net van ons situasie bewus nie, maar ook van die emosionele uitwerking wat dit op ons het.
62:11. God is nie afhanklik van enige eksterne energiebron nie. Hy is die bron van krag. ‘Die sterkte behoort aan hom.’
63:3. God se ‘liefderyke goedhartigheid is beter as die lewe’, want daarsonder is die lewe sinloos en doelloos. Ons is verstandig wanneer ons vriendskap met Jehovah aankweek.
63:6. Snags—wanneer dit stil is en niks ons aandag aftrek nie—kan ’n uitstekende tyd vir bepeinsing wees.
64:2-4. Skadelike skinderpraatjies kan ’n onskuldige persoon se goeie naam vernietig. Ons moenie na sulke skinderpraatjies luister of dit versprei nie.
69:4. As ons die vrede wil bewaar, is dit soms verstandig om ‘terug te gee’ deur verskoning te vra, selfs al is ons nie daarvan oortuig dat ons verkeerd is nie.
70:1-5. Jehovah hoor ons ernstige smekinge om hulp (1 Tessalonisense 5:17; Jakobus 1:13; 2 Petrus 2:9). God laat moontlik toe dat ’n beproewing voortduur, maar hy sal ons die wysheid gee om die situasie die hoof te bied en die krag om dit te verduur. Hy sal nie toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie.—1 Korintiërs 10:13; Hebreërs 10:36; Jakobus 1:5-8.
71:5, 17. Dawid het moed en krag opgebou deur Jehovah sy vertroue te maak in sy jeug—selfs voordat hy teenoor die Filistynse reus Goliat te staan gekom het (1 Samuel 17:34-37). Dit sal verstandig wees van jongmense om op Jehovah te vertrou in alles wat hulle doen.
“Laat sy heerlikheid die hele aarde vul”
Die laaste lied in die tweede versameling psalms, Psalm 72, handel oor Salomo se heerskappy, wat toestande voorafgeskadu het wat onder die Messias se heerskappy sal heers. Watter wonderlike seëninge word tog hier beskryf—oorvloedige vrede, die einde van onderdrukking en geweld, volop graan op die aarde! Sal ons onder diegene wees wat hierdie en ander Koninkrykseëninge sal ontvang? Ons kan as ons, soos die psalmis, tevrede is om op Jehovah te wag en hom ons toevlug en sterkte maak.
“Die gebede van Dawid [kom] tot ’n einde” met die woorde: “Mag Jehovah God, Israel se God, geloof word, wat alleen wonderlike werke doen. En mag sy glorieryke naam tot onbepaalde tyd geloof word, en laat sy heerlikheid die hele aarde vul. Amen en Amen” (Psalm 72:18-20). Laat ons Jehovah eweneens heelhartig loof en sy glorieryke naam verheerlik.
[Prent op bladsy 9]
Weet jy wie deur “die koning se dogter” afgebeeld word?
[Prent op bladsy 10, 11]
Jerusalem word “die vervolmaking van skoonheid” genoem. Weet jy waarom?