Aan die Hebreërs
3 Daarom, heilige broers, wat geroep* is om hemel toe te gaan,+ dink na oor die apostel en hoëpriester wat ons erken – Jesus.+ 2 Hy was getrou aan die Een wat hom aangestel het,+ net soos Moses ook in die hele huis van God was.+ 3 Want Jesus verdien meer eer as Moses,+ aangesien die een wat ’n huis bou, meer eer as die huis self het. 4 Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar die een wat alles gebou het, is God. 5 Moses was getrou as ’n dienaar in die hele huis van daardie Een, en sy diens was ’n getuienis van die dinge wat later bekend gemaak sou word. 6 Maar Christus was getrou as ’n seun+ oor God se huis. Ons is Sy huis+ as ons tot die einde toe aanhou om moedig te praat en stewig vashou aan die hoop waarop ons trots is.
7 Daarom, net soos die heilige gees sê:+ “Vandag, as julle na sy stem luister, 8 moet julle nie julle harte verhard soos die keer toe julle my bitter kwaad gemaak het, soos op die dag toe julle my in die wildernis getoets het nie.+ 9 Daar het julle voorvaders my getoets en uitgedaag, al het hulle 40 jaar lank my werke gesien.+ 10 Daarom het hierdie geslag vir my iets walgliks geword, en ek het gesê: ‘Hulle dwaal altyd in hulle harte af, en hulle het nie my weë leer ken nie.’ 11 Ek het dus in my woede gesweer: ‘Hulle sal nie in my rus ingaan nie.’”+
12 Pasop, broers, dat nie een van julle ooit ’n goddelose, ongelowige hart ontwikkel deurdat hy van die lewende God wegbeweeg nie.+ 13 Maar hou aan om mekaar elke dag aan te moedig, solank dit “Vandag”+ genoem word, sodat niemand van julle verhard word omdat hy deur die krag van sonde bedrieg is nie. 14 Want ons sal slegs ontvang wat die Christus ontvang het* as ons tot die einde toe stewig vashou aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het.+ 15 Soos daar gesê is: “Vandag, as julle na sy stem luister, moet julle nie julle harte verhard soos die keer toe julle my bitter kwaad gemaak het nie.”+
16 Want wie het sy stem gehoor en hom tog bitter kwaad gemaak? Was dit nie in werklikheid almal wat onder Moses se leiding uit Egipte uitgegaan het nie?+ 17 En wie het 40 jaar lank vir God walglik geword?+ Was dit nie dié wat gesondig het, wie se lyke in die wildernis geval het nie?+ 18 En aan wie het hy gesweer dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Was dit nie aan dié wat ongehoorsaam was nie? 19 Ons sien dus dat hulle weens ’n gebrek aan geloof nie kon ingaan nie.+