Deuteronomium
29 Dit is die woorde van die verbond wat Jehovah Moses beveel het om met die Israeliete te maak in die land Moab, bo en behalwe die verbond wat hy met hulle by Horeb gemaak het.+
2 Moses het toe die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het alles gesien wat Jehovah voor julle oë in Egipte aan Farao en al sy knegte en sy hele land gedoen het,+ 3 die groot oordele* wat julle met julle eie oë gesien het, daardie groot tekens en wonderwerke.+ 4 Maar tot vandag toe het Jehovah nie vir julle ’n hart gegee wat verstaan en oë wat sien en ore wat hoor nie.+ 5 ‘Terwyl ek julle 40 jaar lank in die wildernis gelei het,+ het die klere en sandale wat julle gedra het, nie stukkend geword nie.+ 6 Julle het nie brood geëet en julle het nie wyn of enige ander alkohol gedrink nie, sodat julle kon weet dat ek Jehovah julle God is.’ 7 Julle het uiteindelik by hierdie plek gekom, en Sihon, die koning van Hesbon,+ en Og, die koning van Basan,+ het uitgekom om teen ons te veg, maar ons het hulle verslaan.+ 8 Daarna het ons hulle land geneem en dit as ’n erfdeel aan die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasʹse gegee.+ 9 Julle moet dus die woorde van hierdie verbond onderhou en gehoorsaam wees daaraan, sodat alles wat julle doen, suksesvol sal wees.+
10 “Julle almal staan vandag voor Jehovah julle God: die hoofde van julle stamme, julle ouermanne, julle beamptes, elke man van Israel, 11 julle kinders, julle vrouens+ en die uitlanders+ wat in julle kamp woon, van die persoon wat hout bymekaarmaak tot die waterdraer. 12 Julle is hier om in te stem tot die verbond van Jehovah julle God wat Jehovah julle God vandag deur middel van ’n eed met julle maak,+ 13 sodat hy julle vandag sy volk kan maak+ en sodat hy julle God kan wees,+ net soos hy julle belowe het en net soos hy vir julle voorvaders, Abraham,+ Isak+ en Jakob,+ gesweer het.
14 “En dit is nie net met julle wat ek hierdie verbond maak deur middel van hierdie eed nie, 15 maar dit is met diegene wat vandag hier saam met ons voor Jehovah ons God staan sowel as met diegene wat nie vandag hier saam met ons is nie. 16 (Want julle weet goed hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons gedurende ons reis tussen verskillende nasies deurgetrek het.+ 17 En julle het hulle afskuwelike dinge gesien en hulle walglike afgode*+ wat onder hulle was, afgode van hout en klip, silwer en goud.) 18 Pasop dat daar nie vandag onder julle ’n man of ’n vrou, ’n familie of ’n stam is wie se hart van Jehovah ons God afwyk om die gode van daardie nasies te gaan dien nie,+ sodat daar nie onder julle ’n wortel mag wees wat giftige vrugte en ook als* dra nie.+
19 “Maar as iemand die woorde van hierdie eed hoor en in sy hart spog en sê: ‘Ek sal vrede geniet, hoewel ek hardkoppig aanhou om die weë van my eie hart te volg,’ en hy sodoende ’n spoor van vernietiging agterlaat,* 20 sal Jehovah nie bereid wees om hom te vergewe nie.+ Jehovah sal eerder woedend word vir daardie man, en die hele vloek wat in hierdie boek geskryf is, sal beslis oor hom kom,+ en Jehovah sal sy naam inderdaad onder die hemel uitwis. 21 Jehovah sal hom dan van al die stamme van Israel afsonder sodat rampspoed hom kan tref volgens die hele vloek van die verbond wat in hierdie Wetboek geskryf is.
22 “Wanneer die toekomstige geslag van julle kinders en die uitlander van ’n verre land die plae van die land sien, die siektes wat Jehovah daaroor gebring het – 23 swael en sout en veldbrande, sodat geen deel van die land besaai sal word en niks sal uitspruit en geen plante daarin sal groei nie, soos die verwoesting van Sodom en Gomorʹra,+ Adma en Seboʹjim,+ wat Jehovah in sy groot woede verwoes het – 24 dan sal hulle en al die nasies vra: ‘Hoekom het Jehovah dit aan hierdie land gedoen?+ Wat was die oorsaak van hierdie groot, brandende woede?’ 25 Dan sal hulle sê: ‘Dit was omdat hulle die verbond van Jehovah,+ die God van hulle voorvaders, verlaat het, wat hy met hulle gemaak het toe hy hulle uit Egipte uitgelei het.+ 26 Maar hulle het ander gode gaan dien en voor hulle neergebuig, gode wat hulle nie geken het nie en wat hy gesê het hulle nie mag aanbid nie.+ 27 Toe het Jehovah se woede teen daardie land opgevlam, en hy het die hele vloek daaroor gebring wat in hierdie boek geskryf is.+ 28 Daarom het Jehovah hulle in sy groot woede+ en groot verontwaardiging uit hulle land uitgeruk en hulle na ’n ander land weggeneem, waar hulle vandag nog is.’+
29 “Die geheime dinge behoort aan Jehovah ons God,+ maar die geopenbaarde dinge behoort vir ewig aan ons en ons nakomelinge, sodat ons al die woorde van hierdie Wet kan uitvoer.+