Volgens Markus
11 En toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfaʹge en Betaʹnië+ teen die Olyfberg, het hy twee van sy dissipels gestuur+ 2 en vir hulle gesê: “Gaan in die dorpie in wat julle voor julle sien, en sodra julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie vind wat vasgemaak is en waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 3 En as iemand vir julle vra: ‘Hoekom doen julle dit?’ moet julle sê: ‘Die Here het hom nodig en sal hom dadelik hierheen terugstuur.’” 4 Toe het hulle gegaan en die jong donkie gevind. Hy was by ’n deur vasgemaak, buite op die systraat, en hulle het hom losgemaak.+ 5 Maar party wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Hoekom maak julle die donkie los?” 6 Hulle het vir hulle gesê presies wat Jesus gesê het, en hulle het hulle laat gaan.
7 Hulle het toe die jong donkie+ na Jesus toe gebring, en hulle het hulle bo-klere op die donkie gesit. Toe het Jesus op die donkie gaan sit.+ 8 Baie mense het hulle bo-klere op die pad uitgesprei, en ander het takke in die veld afgekap.+ 9 En dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het bly uitroep: “Red hom, asseblief!+ Geseënd is die een wat in Jehovah* se naam kom!+ 10 Geseënd is die komende Koninkryk van ons vader Dawid!+ Red hom* asseblief in die hoogtes daar bo!” 11 En toe hy in Jerusalem aankom, het hy in die tempel ingegaan, en hy het na alles om hom gekyk, maar omdat dit reeds laat was, het hy met die Twaalf uitgegaan na Betaʹnië.+
12 Die volgende dag, toe hulle Betaʹnië verlaat, het hy honger geword.+ 13 Hy het van ver af ’n vyeboom met blare gesien, en hy het gaan kyk of hy miskien iets daaraan kan vind. Maar toe hy by die boom kom, het hy net blare gevind, want dit was nie die tyd vir vye nie. 14 Toe het hy vir die boom gesê: “Laat niemand ooit weer vrugte van jou eet nie.”+ En sy dissipels het gehoor wat hy gesê het.
15 Toe het hulle in Jerusalem aangekom. Daar het hy in die tempel ingegaan en die mense begin uitjaag wat in die tempel koop en verkoop, en hy het die tafels van die geldwisselaars* en die stoele van die duiweverkopers omgegooi,+ 16 en hy het niemand toegelaat om enigiets deur die tempel te dra nie. 17 Hy het die mense geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie?+ Maar julle het dit ’n skuilplek vir rowers gemaak.”+ 18 En die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het dit gehoor, en hulle het na ’n manier begin soek om hom dood te maak,+ want hulle was bang vir hom omdat die hele skare beïndruk was deur die manier waarop hy onderrig het.+
19 Laat daardie dag het hulle die stad verlaat. 20 Maar toe hulle vroeg in die oggend by die vyeboom verbygaan, het hulle gesien dat die boom reeds van sy wortels af uitgedroog het.+ 21 Petrus het onthou wat gebeur het en het vir hom gesê: “Rabbi, kyk! die vyeboom wat u vervloek het, het uitgedroog.”+ 22 Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet geloof in God hê. 23 Ek verseker julle: As iemand vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en hy nie in sy hart twyfel nie maar geloof het, sal dit vir hom so gebeur.+ 24 Daarom sê ek vir julle: Glo dat julle alles waarvoor julle bid en vra, reeds ontvang het, en julle sal dit hê.+ 25 En wanneer julle staan en bid en julle iets teen iemand het, moet julle hom vergewe, sodat julle Vader wat in die hemel is, ook julle oortredings kan vergewe.”+ 26 *——
27 Hulle het weer in Jerusalem aangekom. En terwyl hy in die tempel geloop het, het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes en die ouermanne gekom 28 en vir hom gevra: “Met watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het jou hierdie gesag gegee om hierdie dinge te doen?”+ 29 Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord my eers, en dan sal ek vir julle sê met watter gesag ek hierdie dinge doen. 30 Het Johannes se gesag om te doop+ uit die hemel of van mense gekom? Antwoord my.”+ 31 Toe het hulle onder mekaar begin redeneer en gesê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32 Maar as ons sê: ‘Van mense,’ wat sal dan gebeur?” Hulle was bang vir die skare, want die mense het almal geglo dat Johannes werklik ’n profeet was.+ 33 Hulle het dus vir Jesus gesê: “Ons weet nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.”