Deuteronomium
15 “Aan die einde van elke sewe jaar moet jy skuld afskryf.+ 2 Dit is hoe die skuld afgeskryf moet word: Elke skuldeiser moet sy naaste se skuld afskryf. Hy moenie aandring dat sy naaste of sy broer hom moet betaal nie, want daar sal aangekondig word dat die skuld ter ere van Jehovah afgeskryf word.+ 3 Jy mag daarop aandring dat die uitlander moet betaal,+ maar wat jou broer jou ook al skuld, moet jy afskryf. 4 Niemand onder julle hoef egter arm te word nie, want Jehovah sal julle vir seker seën+ in die land wat Jehovah julle God aan julle as ’n erfdeel gee om te besit, 5 maar dit sal net gebeur as julle die stem van Jehovah julle God streng gehoorsaam en streng bly by hierdie hele gebod wat ek julle vandag beveel.+ 6 Want Jehovah julle God sal julle seën net soos hy julle belowe het, en julle sal aan baie nasies leen, maar julle sal van niemand hoef te leen nie.+ En julle sal oor baie nasies heers, maar hulle sal nie oor julle heers nie.+
7 “As een van julle broers onder julle arm word in een van julle stede in die land wat Jehovah julle God aan julle gee, moet jy nie jou hart verhard of jou hand toehou vir jou arm broer nie.+ 8 Want jy moet jou hand met vrygewigheid vir hom oopmaak+ en vir hom leen wat hy ook al nodig het of kortkom. 9 Wees versigtig dat jy nie slegte gedagtes in jou hart koester en dan suinig is teenoor jou arm broer en vir hom niks gee nie omdat jy dink: ‘Die sewende jaar, die jaar wanneer skuld afgeskryf moet word, het naby gekom.’+ As hy tot Jehovah roep om oor jou te kla, sal dit vir jou ’n sonde wees.+ 10 Jy moet vryelik aan hom gee,+ en jy* moenie teësinnig aan hom gee nie, want dan sal Jehovah jou God jou seën in al jou werk en in alles wat jy aanpak.+ 11 Want daar sal altyd arm mense in die land wees.+ Daarom beveel ek jou: ‘Jy moet jou hand met vrygewigheid oopmaak vir jou behoeftige en arm broer in jou land.’+
12 “As een van jou broers, ’n Hebreeuse man of vrou, aan jou verkoop word en jou ses jaar lank gedien het, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat.+ 13 En wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande wegstuur nie. 14 Jy moet vrygewig wees en vir hom iets gee van jou kleinvee, jou dorsvloer, jou oliepers en jou wynpers. Jy moet aan hom gee volgens die seën wat Jehovah jou God jou gegee het. 15 Onthou dat jy ’n slaaf in Egipte geword het en dat Jehovah jou God jou verlos het. Daarom beveel ek jou vandag om hierdie dinge te doen.
16 “Maar as hy vir jou sê: ‘Ek sal nie van u af weggaan nie!’ omdat hy jou en jou huisgesin liefhet en hy gelukkig was by jou,+ 17 dan moet jy hom teen ’n deur laat staan, ’n els neem en dit deur sy oor tot in die deur steek, en hy sal vir die res van sy lewe jou slaaf word. Jy moet dieselfde met jou slavin doen. 18 Dit moenie vir jou moeilik wees wanneer jy hom vrylaat en hy jou verlaat nie, want sy ses jaar lange diens aan jou was twee keer meer werd as dié van ’n gehuurde werker, en Jehovah jou God het jou in alles geseën.
19 “Jy moet elke manlike eersgeborene van jou beeste en jou kleinvee vir Jehovah jou God heilig.+ Jy mag geen werk met die eersgeborene van jou beeste* doen nie, en jy mag ook nie die eersgeborene van jou kleinvee skeer nie. 20 Jy en jou huisgesin moet dit jaar ná jaar voor Jehovah jou God eet op die plek wat Jehovah sal uitkies.+ 21 Maar as dit ’n gebrek het – hetsy dit kreupel of blind is of enige ander ernstige gebrek het – mag jy dit nie aan Jehovah jou God offer nie.+ 22 Julle moet dit in julle stede* eet, die onrein persoon sowel as die rein persoon, net soos julle ’n wildsbok*+ sou eet. 23 Maar julle mag nie die bloed eet nie.+ Julle moet dit op die grond uitgooi soos water.+