Genesis
37 Jakob het in die land Kanaän bly woon, waar sy pa as ’n uitlander gewoon het.+
2 Dít is die geskiedenis van Jakob:
Toe Josef+ 17 jaar oud was, het hy die kleinvee opgepas+ saam met die seuns van Bilha+ en Silpa,+ sy pa se vrouens. En Josef het vir sy pa vertel dat hulle slegte dinge doen. 3 En Israel het Josef meer liefgehad as al sy ander seuns+ omdat hy die seun van sy oudag was, en hy het vir hom ’n spesiale kleed* laat maak. 4 Toe sy broers sien dat hulle pa liewer is vir hom as vir hulle, het hulle hom begin haat, en hulle kon nie op ’n mooi manier met hom praat nie.
5 Later het Josef ’n droom gehad en sy broers daarvan vertel,+ en dit het hulle nog meer rede gegee om hom te haat. 6 Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het. 7 Ons was in die middel van die landery besig om graanbondels te bind toe my bondel regop gaan staan het en julle bondels om myne gaan staan het en daarvoor neergebuig het.”+ 8 Sy broers het vir hom gesê: “Gaan jy jou nou regtig koning oor ons maak en oor ons regeer?”+ As gevolg van sy drome en wat hy gesê het, het hulle dus nog ’n rede gevind om hom te haat.
9 Daarna het hy nog ’n droom gehad, en hy het vir sy broers daarvan vertel en gesê: “Ek het nog ’n droom gehad. Hierdie keer het die son en die maan en 11 sterre voor my neergebuig.”+ 10 Toe het hy sy pa en sy broers daarvan vertel, en sy pa het hom tereggewys en vir hom gesê: “Wat beteken hierdie droom wat jy gehad het? Gaan ek en jou ma en jou broers regtig voor jou kom neerbuig?” 11 En sy broers het jaloers geword op hom,+ maar sy pa het onthou wat hy gesê het.
12 Op ’n dag het sy broers gegaan om hulle pa se kleinvee naby Sigem+ te laat wei. 13 Later het Israel vir Josef gesê: “Jou broers pas mos die kleinvee naby Sigem op. Ek wil hê dat jy na hulle toe moet gaan.” Josef het geantwoord: “Ek sal gaan!” 14 Toe het Israel vir hom gesê: “Gaan kyk asseblief of dit goed gaan met jou broers. Kyk hoe dit met die kleinvee gaan, en kom sê vir my.” En hy het hom uit die vallei van Heʹbron+ na Sigem gestuur. 15 Later het ’n man Josef teëgekom terwyl hy in die veld geloop het. Die man het hom gevra: “Waarna soek jy?” 16 Hy het geantwoord: “Ek soek na my broers. Sê asseblief vir my waar hulle die kleinvee oppas.” 17 Die man het gesê: “Hulle is hier weg, en ek het hulle hoor sê: ‘Kom ons gaan na Dotan.’” Josef het toe na Dotan gegaan en sy broers daar gevind.
18 Hulle het hom van ver af gesien, en nog voordat hy by hulle aangekom het, het hulle ’n plan begin beraam om hom dood te maak. 19 Hulle het vir mekaar gesê: “Kyk! Hier kom daardie dromer.+ 20 Kom ons maak hom dood en gooi hom in een van die waterputte, en dan sê ons dat ’n wilde dier hom verslind het. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” 21 Toe Ruben+ dit hoor, het hy hom probeer red. Daarom het hy gesê: “Ons moenie sy lewe* neem nie.”+ 22 Ruben het vir hulle gesê: “Moenie hom doodmaak nie.+ Gooi hom in hierdie waterput in die wildernis, maar moet hom nie seermaak nie.”+ Hy wou hom red sodat hy hom na sy pa kon terugbring.
23 Die oomblik toe Josef by sy broers kom, het hulle sy kleed uitgetrek, die spesiale kleed wat hy gedra het,+ 24 en hulle het hom geneem en hom in die waterput gegooi. Die put was op daardie stadium leeg.
25 Toe het hulle gaan sit om te eet. Toe hulle opkyk, was daar ’n karavaan Ismaeliete+ wat uit Giʹlead gekom het. Hulle kamele het gom,* balsem en die bas van gombome+ vervoer, en hulle was op pad Egipte toe. 26 Juda het vir sy broers gesê: “Wat kry ons daaruit as ons ons broer doodmaak en dit geheim hou?*+ 27 Kom ons verkoop hom+ aan die Ismaeliete eerder as om hom seer te maak. Hy is tog ons broer, ons vlees en bloed.” Toe het hulle na hulle broer geluister. 28 En toe die Midianitiese+ handelaars verbykom, het hulle Josef uit die waterput uitgetrek en hom vir 20 silwerstukke aan die Ismaeliete verkoop.+ Hierdie manne het Josef Egipte toe geneem.
29 Later, toe Ruben na die waterput terugkeer en sien dat Josef nie in die waterput is nie, het hy sy klere geskeur. 30 Toe hy weer by sy broers kom, het hy uitgeroep: “Die kind is weg! Wat gaan ek nou doen?”
31 Hulle het toe Josef se kleed geneem en ’n bokram geslag en die kleed in die bloed gedruk. 32 Daarna het hulle die spesiale kleed na hulle pa gestuur en gesê: “Dit is wat ons gevind het. Kyk asseblief of dit Josef se kleed is of nie.”+ 33 Toe het hy dit ondersoek en uitgeroep: “Dit ís my seun se kleed! ’n Wilde dier moes hom verslind het! Josef is sekerlik verskeur!” 34 Jakob het toe sy klere geskeur en saklinne om sy middel gesit en baie dae oor sy seun getreur. 35 En al sy seuns en dogters het hom heeltyd probeer troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en het gesê: “Ek sal oor my seun treur totdat ek in die Graf*+ afgaan!” En sy pa het oor hom bly huil.
36 Intussen het die Midianiete Josef in Egipte verkoop aan Poʹtifar, ’n hofbeampte van Farao+ en die hoof van die wagte.+