VIERDE BOEK
(Psalm 90 – 106)
’n Gebed van Moses, die man van die ware God.+
90 O Jehovah, u was vir ons ’n ware woonplek+
Van geslag tot geslag.+
2 Voordat die berge gebore is,+
Of u die aarde+ en die vrugbare land+ voortgebring het asof met geboortepyne,
Ja, van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God.+
3 U laat die sterflike mens tot stof terugkeer,+
En u sê: “Keer terug, o mensekinders.”+
4 Want duisend jaar is in u oë net soos gister wanneer dit verby is,+
En soos ’n nagwaak.+
5 U het hulle weggevee;+ hulle word ’n blote slaap;+
In die oggend is hulle net soos groen gras wat verander.+
6 In die oggend bring dit bloeisels voort en sal dit verander;+
In die aand verwelk dit, en dit verdroog beslis.+
7 Want ons het aan ons einde gekom in u toorn,+
En deur u woede is ons ontstel.+
8 U het ons oortredings reg voor u gestel,+
Ons verborge dinge voor u glansende aangesig.+
9 Want al ons dae het tot ’n einde begin kom in u grimmigheid;+
Ons het ons jare voleindig net soos ’n fluistering.+
10 Die dae van ons jare is op sigself sewentig jaar;+
En as dit weens besondere krag tagtig jaar is,+
Is dit nietemin vol moeite en skadelike dinge;+
Want gou sal dit verbygaan, en ons vlieg daarheen.+
11 Wie ken die sterkte van u toorn+
En u grimmigheid ooreenkomstig die vrees vir u?+
12 Toon ons hoe om ons dae so te tel+
Dat ons ’n wyse hart+ kan bekom.
13 Keer tog terug, o Jehovah!+ Hoe lank sal dit wees?+
En voel spyt oor u knegte.+
14 Versadig ons in die oggend met u liefderyke goedhartigheid,+
Sodat ons met vreugde kan uitroep en bly kan wees gedurende al ons dae.+
15 Gee ons vreugde ooreenkomstig die dae waarin u ons geteister het,+
Die jare waarin ons rampspoed gesien het.+
16 Laat u werk vir u knegte sigbaar word+
En u prag oor hulle kinders.+
17 En laat die lieflikheid van Jehovah ons God oor ons wees,+
En bevestig tog die werk van ons hande stewig oor ons.+
Ja, die werk van ons hande, bevestig dit tog stewig.+