Volgens Johannes
12 Ses dae voor die Pasga het Jesus in Betaʹnië aangekom, waar Laʹsarus+ was, wat deur Jesus uit die dood opgewek is. 2 Daar het hulle vir hom ’n aandete voorberei, en Marta het hulle bedien.+ Laʹsarus was een van dié wat saam met hom geëet het. 3 Maria het toe ’n pond* lekkerruik-olie geneem, egte nardus, baie duur, en sy het dit op Jesus se voete gegooi en sy voete met haar hare afgedroog. Die huis is gevul met die reuk van die olie.+ 4 Maar Judas Iskaʹriot,+ een van sy dissipels, wat op die punt gestaan het om hom te verraai, het gevra: 5 “Hoekom is hierdie olie nie vir 300 denaʹrii* verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” 6 Maar hy het dit nie gesê omdat hy bekommerd was oor die armes nie. Hy het dit eerder gesê omdat hy ’n dief was en die geldkissie gehad het en dikwels die geld daarin gesteel het. 7 Toe het Jesus gesê: “Los haar, sodat sy dit kan doen om my liggaam vir my begrafnis voor te berei.+ 8 Want julle het altyd die armes by julle,+ maar julle sal my nie altyd hê nie.”+
9 Intussen het ’n groot groep Jode uitgevind dat hy daar is, en hulle het nie net gekom om Jesus te sien nie, maar ook om Laʹsarus te sien, wat hy uit die dood opgewek het.+ 10 Die hoofpriesters het toe planne beraam om Laʹsarus ook dood te maak, 11 want as gevolg van hom het baie van die Jode daarheen gegaan en geloof in Jesus gestel.+
12 Die volgende dag het die groot skare wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13 Toe het hulle takke van palmbome gevat en uitgegaan om hom te ontmoet, en hulle het begin uitroep: “Red hom, asseblief! Geseënd is die een wat in Jehovah* se naam kom,+ die Koning van Israel!”+ 14 Toe Jesus ’n jong donkie gevind het, het hy daarop gaan sit,+ net soos daar geskryf is: 15 “Moenie bang wees nie, dogter van Sion. Jou koning kom, en hy sit op die vul* van ’n donkie.”+ 16 Eers het sy dissipels nie hierdie dinge verstaan nie, maar toe Jesus verheerlik is,+ het hulle onthou dat hierdie dinge oor hom geskryf was en dat hulle hierdie dinge aan hom gedoen het.+
17 En die skare wat saam met hom was toe hy Laʹsarus uit die graf geroep+ en uit die dood opgewek het, het aangehou om ander daarvan te vertel.+ 18 Daarom het die skare ook na hom toe gegaan, want hulle het gehoor dat hy hierdie teken gedoen het. 19 Die Fariseërs het dus onder mekaar gesê: “Sien julle? Ons bereik absoluut niks nie. Kyk! Die hele wêreld het agter hom aan geloop.”+
20 Daar was ’n paar Grieke onder dié wat gekom het om by die fees te aanbid. 21 Hulle het na Filippus+ toe gegaan, wat van Betsaiʹda in Galileʹa was, en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil Jesus sien.” 22 Filippus het gekom en dit vir Andreʹas vertel. Andreʹas en Filippus het gekom en dit vir Jesus vertel.
23 Maar Jesus het hulle geantwoord: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.+ 24 Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie op die grond val en sterf nie, sal dit net een korrel bly, maar as dit wel sterf,+ sal dit baie vrug dra. 25 Enigiemand wat lief is vir sy lewe,* vernietig dit, maar enigiemand wat sy lewe* in hierdie wêreld haat,+ sal dit vir die ewige lewe veilig bewaar.+ 26 As iemand my wil dien, moet hy my volg, en waar ek is, daar sal my dienaar ook wees.+ As iemand my wil dien, sal die Vader hom eer. 27 Nou is ek* diep ontsteld,+ en wat moet ek sê? Vader, red my uit hierdie uur.+ Tog het ek juis vir hierdie uur gekom. 28 Vader, verheerlik u naam.” Toe het ’n stem+ uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.”+
29 Die skare wat daar gestaan het, het dit gehoor en begin sê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.” 30 Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van my gepraat nie, maar ter wille van julle. 31 Nou vind daar ’n oordeel van hierdie wêreld plaas. Nou sal die heerser van hierdie wêreld+ uitgedryf word.+ 32 En tog sal ek, as ek van die aarde af opgelig* word,+ alle soorte mense na my toe trek.” 33 Hy het dit in werklikheid gesê om aan te dui op watter manier hy binnekort sou sterf.+ 34 Toe het die skare hom geantwoord: “Ons het uit die Wet gehoor dat die Christus vir ewig bly.+ Hoe kan u sê dat die Seun van die mens van die aarde af opgelig moet word?+ Wie is hierdie Seun van die mens?” 35 Jesus het dus vir hulle gesê: “Die lig sal nog ’n klein rukkie onder julle wees. Loop terwyl julle nog die lig het, sodat duisternis julle nie oorweldig nie. Enigiemand wat in die duisternis loop, weet nie waarheen hy gaan nie.+ 36 Terwyl julle die lig het, moet julle geloof in die lig beoefen, sodat julle kinders van die lig kan word.”+
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het hy weggegaan, en die mense het nie geweet waar hy is nie. 37 Al het hy so baie wonderwerke* voor hulle gedoen, het hulle nie geloof in hom gestel nie, 38 sodat die woorde van die profeet Jesaja vervul kan word: “Jehovah,* wie het geloof gestel in wat ons gesê het?+ En aan wie is die mag* van Jehovah* geopenbaar?”+ 39 Die rede waarom hulle nie kon glo nie, is omdat Jesaja ook gesê het: 40 “Hy het hulle oë verblind en hulle hart hard gemaak, sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle hart kon verstaan en kon omdraai sodat hulle deur my genees kon word nie.”+ 41 Jesaja het hierdie dinge gesê omdat hy Christus se heerlikheid gesien het, en hy het van hom gepraat.+ 42 Tog het selfs baie van die leiers geloof in hom gestel,+ maar omdat hulle bang was vir die Fariseërs, wou hulle dit nie erken nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie,+ 43 want hulle wou eerder deur mense geëer word as deur God.+
44 Jesus het egter uitgeroep: “Enigiemand wat geloof in my stel, stel nie net geloof in my nie, maar ook in hom wat my gestuur het,+ 45 en enigiemand wat my sien, sien ook die Een wat my gestuur het.+ 46 Ek het as ’n lig in die wêreld ingekom,+ sodat elkeen wat geloof in my stel, nie in die duisternis sal bly nie.+ 47 Maar as iemand my woorde hoor en dit nie gehoorsaam nie, oordeel ek hom nie, want ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.+ 48 Enigiemand wat my verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het iemand wat hom sal oordeel. Die woorde wat ek gesê het, sal hom op die laaste dag oordeel. 49 Want ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n opdrag gegee oor wat om te sê en wat om te verkondig.+ 50 En ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken.+ Alles wat ek dus sê, sê ek net soos die Vader vir my gesê het.”+