Die eerste boek van Samuel
1 Daar was ’n sekere man van Ramataʹim-Soʹfim*+ van die bergstreek van Eʹfraim+ wie se naam Elkaʹna+ was, die seun van Jeroʹham, die seun van Eliʹhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, ’n Efraimiet. 2 Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna, en die ander een se naam was Peninʹna. Peninʹna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie. 3 Hierdie man het elke jaar van sy stad na Silo+ gegaan om Jehovah van die leërmagte te aanbid en offerandes aan hom te bring. Dit is waar die twee seuns van Eli, Hofni en Piʹnehas,+ as priesters vir Jehovah gedien het.+
4 Eendag, toe Elkaʹna ’n offerande gebring het, het hy dele van die offerande aan sy vrou Peninʹna en aan al haar seuns en dogters gegee.+ 5 Hy het egter ’n spesiale deel aan Hanna gegee, want hy het Hanna meer liefgehad, maar Jehovah het nie vir haar kinders gegee nie.* 6 Wat meer is, Peninʹna* het haar heeltyd uitgetart om haar te ontstel omdat Jehovah nie vir haar kinders gegee het nie. 7 Sy het dit jaar ná jaar gedoen. Elke keer wanneer Hanna na die huis van Jehovah gegaan het,+ het Peninʹna haar so uitgetart dat sy gehuil het en nie geëet het nie. 8 Maar haar man, Elkaʹna, het vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy, en hoekom eet jy nie, en hoekom is jy so hartseer? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”
9 Toe hulle klaar geëet en gedrink het in Silo, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die ingang van die tempel*+ van Jehovah gesit. 10 Hanna was bitter hartseer, en sy het tot Jehovah begin bid+ en kon nie ophou huil nie. 11 Sy het toe die volgende gelofte gemaak: “O Jehovah van die leërmagte, kyk hoe swaar kry u diensmeisie. As u aan my dink en my nie vergeet nie en vir u diensmeisie ’n seun gee,+ sal ek hom vir Jehovah gee, sodat hy aan u kan behoort solank as wat hy lewe, en geen skeermes sal naby sy kop kom nie.”+
12 Terwyl sy lank tot Jehovah gebid het, het Eli haar mond dopgehou. 13 Hanna het in haar hart gepraat. Haar lippe het gebewe, maar haar stem kon nie gehoor word nie. Daarom het Eli gedink dat sy dronk is. 14 Eli het vir haar gesê: “Hoekom kom jy dronk hier aan? Jy moet ophou wyn drink.” 15 Toe het Hanna geantwoord: “Nee, my heer! Ek is ’n vrou wat deur ’n baie moeilike tyd gaan. Ek het nie wyn of enige ander alkohol gedrink nie, maar ek stort my siel* voor Jehovah uit.+ 16 Moenie dink dat u diensmeisie ’n slegte vrou is nie, want ek het tot nou toe gebid omdat ek baie hartseer en ontsteld is.” 17 Toe het Eli geantwoord: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou gee wat jy van hom gevra het.”+ 18 Toe het sy gesê: “Mag u diensmeisie u goedkeuring geniet.” En die vrou het weggegaan en geëet, en sy was nie meer hartseer nie.
19 Toe het hulle vroeg die oggend opgestaan en voor Jehovah neergebuig, en daarna het hulle teruggegaan na hulle huis in Rama.+ Elkaʹna het seksuele omgang met sy vrou Hanna gehad, en Jehovah het aan haar gedink.+ 20 Binne ’n jaar* het Hanna swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en hom Samuel* genoem,+ want sy het gesê: “Ek het hom van Jehovah gevra.”
21 Ná verloop van tyd het Elkaʹna saam met sy hele huisgesin gegaan om die jaarlikse offerande aan Jehovah te bring+ en sy gelofte-offer aan te bied. 22 Maar Hanna het nie gegaan nie,+ want sy het vir haar man gesê: “Sodra ek ophou om die seun te borsvoed, sal ek hom bring. Hy sal dan voor Jehovah verskyn en van daardie dag af daar woon.”+ 23 Haar man, Elkaʹna, het toe vir haar gesê: “Doen wat jy dink die beste is. Bly by die huis totdat jy hom nie meer borsvoed nie. Mag Jehovah vervul wat jy gesê het.” Toe het die vrou by die huis gebly en haar seun geborsvoed totdat sy hom gespeen het.
24 Toe sy die seun nie meer geborsvoed het nie, het sy hom na Silo geneem, en sy het ’n drie jaar oue bul, een efa* meel en ’n groot kruik wyn+ saamgeneem. Sy het na die huis van Jehovah in Silo+ gegaan en die jong seun saamgeneem. 25 Hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring. 26 Sy het toe gesê: “Verskoon my, my heer! So waar as wat u lewe, my heer, ek is die vrou wat op hierdie plek by u gestaan het om tot Jehovah te bid.+ 27 Ek het gebid en vir hierdie seun gevra, en Jehovah het vir my gegee wat ek van hom gevra het.+ 28 Daarom leen ek hom nou aan Jehovah. Ek leen hom sy hele lewe lank aan Jehovah.”
En hy* het daar voor Jehovah neergebuig.