135 Loof Jah!
Loof die naam van Jehovah.
Bring lof, o knegte van Jehovah,+
2 julle wat in die huis van Jehovah staan,
in die voorhowe van die huis van ons God.+
3 Loof Jah, want Jehovah is goed.+
Sing liedere om sy naam te loof, want dit is aangenaam.
4 Want Jah het Jakob vir hom uitgekies,
Israel as sy spesiale eiendom.+
5 Want ek weet goed dat Jehovah groot is.
Ons Here is groter as alle ander gode.+
6 Jehovah doen alles wat hy wil doen,+
in die hemel en op die aarde, in die seë en in al die dieptes.
7 Hy laat wolke van die eindes van die aarde af opstyg.
Hy maak weerlig vir die reën,
en hy bring die wind uit sy stoorkamers uit.+
8 Hy het die eersgeborenes van Egipte doodgemaak,
mens sowel as dier.+
9 Hy het tekens en wonderwerke tussen julle ingestuur, o Egipte,+
teen Farao en al sy knegte.+
10 Hy het baie nasies verslaan+
en magtige konings doodgemaak:+
11 Sihon, die koning van die Amoriete,+
Og, die koning van Basan,+
en al die koninkryke van Kanaän.
12 Hy het hulle land as ’n erfdeel gegee,
as ’n erfdeel aan sy volk Israel.+
13 O Jehovah, u naam bly vir ewig.
O Jehovah, u roem duur van geslag tot geslag.+
14 Want Jehovah sal sy volk verdedig,+
en hy sal medelye hê met sy knegte.+
15 Die afgode van die nasies is silwer en goud,
die werk van mensehande.+
16 Hulle het ’n mond, maar hulle kan nie praat nie,+
oë, maar hulle kan nie sien nie.
17 Hulle het ore, maar hulle kan nie hoor nie.
Daar is geen asem in hulle mond nie.+
18 Die mense wat hulle maak, sal net soos hulle word,+
en so ook almal wat op hulle vertrou.+
19 O huis van Israel, loof Jehovah.
O huis van Aäron, loof Jehovah.
20 O huis van Levi, loof Jehovah.+
Julle wat Jehovah vrees, loof Jehovah.
21 Mag Jehovah vanuit Sion geloof word,+
hy wat in Jerusalem woon.+
Loof Jah!+