Levitikus
25 Jehovah het verder vir Moses op die berg Siʹnai gesê: 2 “Sê vir die Israeliete: ‘Wanneer julle uiteindelik in die land kom wat ek aan julle gee,+ dan moet die land ’n sabbat hou vir Jehovah.+ 3 Ses jaar lank moet jy saad op jou landery saai en ses jaar lank moet jy jou wingerd snoei, en jy moet die land se oeste insamel.+ 4 Maar in die sewende jaar moet daar ’n sabbat wees, ’n spesiale jaar van rus vir die land, ’n sabbat vir Jehovah. Jy mag nie saad op jou landery saai of jou wingerd snoei nie. 5 Jy mag niks oes wat vanself opkom uit die graan wat ná die oes oorbly nie, en jy mag nie die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok insamel nie. Daar moet ’n spesiale jaar van rus vir die land wees. 6 Maar julle mag wel die kos eet wat gedurende die sabbat op die land groei – jy, jou slawe en slavinne, jou gehuurde werkers en die uitlanders wat by jou woon, 7 sowel as die mak en die wilde diere wat in jou land is. Alles wat die land voortbring, mag geëet word.
8 “‘Jy moet sewe sabbatsjare aftel, sewe maal sewe jaar, en die dae van die sewe sabbatsjare sal 49 jaar wees. 9 Jy moet dan die horing hard blaas in die sewende maand, op die tiende van die maand. Op die Versoendag+ moet julle die geluid van die horing in die hele land laat hoor. 10 Julle moet die 50ste jaar heilig en vrylating in die land aankondig vir al sy inwoners.+ Dit sal vir julle ’n Jubeljaar word, en elkeen van julle moet na sy eiendom terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer.+ 11 Daardie 50ste jaar sal vir julle ’n Jubeljaar word. Julle mag nie saad saai of enigiets oes wat vanself opgekom het uit die oorblywende graan nie, en julle mag nie die druiwe insamel van ongesnoeide wingerdstokke nie.+ 12 Want dit is ’n Jubeljaar. Dit moet vir julle iets heiligs wees. Julle mag net eet wat die land vanself voortgebring het.+
13 “‘In die Jubeljaar moet elkeen van julle na sy eiendom terugkeer.+ 14 As jy enigiets aan jou medemens verkoop of enigiets by hom koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie.+ 15 Wanneer jy ’n stuk grond by jou medemens koop, moet jy die aantal jare ná die Jubeljaar in ag neem, en hy moet die verkoopprys vasstel deur die aantal oorblywende oesjare in ag te neem.+ 16 As daar baie jare oorbly, mag hy die koopprys vermeerder, en as daar min jare oorbly, moet hy die koopprys verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste wat gelewer kan word. 17 Niemand onder julle mag sy medemens uitbuit nie,+ en jy moet jou God vrees,+ want ek is Jehovah julle God.+ 18 As julle my wetsbepalings nakom en my regterlike bevele onderhou, sal julle in veiligheid in die land woon.+ 19 Die land sal sy vrug gee,+ en julle sal genoeg hê om te eet, en julle sal in veiligheid daar woon.+
20 “‘Maar dalk sê julle: “Wat gaan ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saad saai of ons oeste mag insamel nie?”+ 21 Wees gerus, want ek sal in die sesde jaar my seën oor julle uitstort, en die land sal ’n oes oplewer wat genoeg sal wees vir drie jaar.+ 22 Dan moet julle in die agtste jaar saad saai en tot die negende jaar toe van die vorige oes eet. Totdat die nuwe oes inkom, moet julle van die vorige oes eet.
23 “‘Die grond moenie permanent verkoop word nie+ omdat die land myne is.+ Want julle is uitlanders en tydelike inwoners vanuit my standpunt.+ 24 In die hele land wat julle besit, moet die oorspronklike eienaar die reg hê om sy grond terug te koop.
25 “‘As jou broer arm word en ’n deel van sy eiendom moet verkoop, moet ’n terugkoper wat ’n nabye familielid is, kom en terugkoop wat sy broer verkoop het.+ 26 As iemand geen terugkoper het nie, maar hy ryk word en genoeg vind om dit terug te koop, 27 dan moet hy die waarde daarvan uitwerk op grond van die aantal jare vandat hy dit verkoop het en die verskil terugbetaal aan die man aan wie hy dit verkoop het. Dan mag hy na sy eiendom terugkeer.+
28 “‘Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet wat hy verkoop het, die koper s’n bly tot die Jubeljaar+ toe. Dit moet weer syne word in die Jubeljaar, en hy mag na sy eiendom terugkeer.+
29 “‘En as ’n man ’n huis in ’n ommuurde stad verkoop, sal sy terugkoopreg geldig wees vir ’n jaar vanaf die tyd dat hy dit verkoop het. Sy terugkoopreg+ sal ’n volle jaar geldig wees. 30 Maar as dit nie teen die einde van een volle jaar teruggekoop word nie, moet die huis in die ommuurde stad die permanente eiendom van die koper word, vir hom en sy nageslag. Dit moenie in die Jubeljaar teruggegee word nie. 31 Maar ’n huis in ’n dorp wat nie ’n muur om het nie, moet beskou word as deel van die oop veld. Die terugkoopreg moet geldig bly, en dit moet in die Jubeljaar teruggegee word.
32 “‘Wat die huise in die stede van die Leviete+ betref – die Leviete sal die permanente reg hê om dit terug te koop. 33 As die eiendom van die Leviete nie teruggekoop word nie, moet die huis wat in hulle stad verkoop is, ook in die Jubeljaar teruggegee word,+ want die huise in die stede van die Leviete is hulle eiendom onder die Israeliete.+ 34 En die weiveld+ om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is hulle permanente besitting.
35 “‘As jou broer wat naby jou woon, arm word en homself nie kan onderhou nie, moet jy hom help,+ net soos jy ’n uitlander en ’n tydelike inwoner sou help,+ sodat hy by jou aan die lewe kan bly. 36 Moenie rente van hom eis of wins uit hom maak nie.+ Jy moet jou God vrees,+ en jou broer sal by jou aan die lewe bly. 37 Jy mag nie vir hom rente vra wanneer jy vir hom geld leen nie,+ en jy mag nie jou kos teen ’n wins aan hom verkoop nie. 38 Ek is Jehovah julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het+ om julle die land Kanaän te gee, om te bewys dat ek julle God is.+
39 “‘As jou broer wat naby jou woon, arm word en hy hom aan jou moet verkoop,+ mag jy hom nie dwing om as ’n slaaf te werk nie.+ 40 Hy moet soos ’n gehuurde werker behandel word,+ soos ’n tydelike inwoner. Hy moet jou dien tot die Jubeljaar toe. 41 Dan sal hy jou verlaat, hy en sy kinders* saam met hom, en na sy familie terugkeer. Hy moet na die eiendom van sy voorvaders terugkeer.+ 42 Want hulle is my slawe wat ek uit Egipte+ uitgelei het. Hulle mag hulleself nie verkoop soos ’n slaaf verkoop word nie. 43 Jy mag hom nie wreed behandel nie,+ en jy moet jou God vrees.+ 44 Jou slawe en slavinne moet kom uit die nasies om julle. Julle mag by hulle ’n slaaf of ’n slavin koop. 45 Julle mag ook slawe koop uit die kinders van die uitlandse inwoners wat onder julle woon+ – uit hulle en uit hulle families wat vir hulle in julle land gebore is – en hulle sal julle besitting word. 46 Julle mag hulle as ’n erfdeel, as ’n permanente besitting, aan julle kinders gee. Julle mag hulle as werkers gebruik, maar julle mag nie julle Israelitiese broers wreed behandel nie.+
47 “‘Maar as ’n uitlander wat onder julle woon of ’n tydelike inwoner ryk word en jou broer langs hom arm geword het en hy hom aan die uitlander of die tydelike inwoner moet verkoop, of aan ’n familielid van die uitlander, 48 sal hy die terugkoopreg behou nadat hy homself verkoop het. Een van sy broers kan hom terugkoop,+ 49 of sy oom of sy neef of enige nabye familielid* kan hom terugkoop.
“‘Of as hy ryk geword het, mag hy homself terugkoop.+ 50 Hy moet saam met sy koper die lengte van die tydperk uitwerk vandat hy homself verkoop het tot die Jubeljaar,+ en sy terugkoopprys moet met die aantal jare ooreenstem.+ Die waarde van sy werksdae vir hierdie tydperk moet teen die tarief van ’n gehuurde werker uitgewerk word.+ 51 As daar nog baie jare oorbly, moet hy sy terugkoopprys vasstel op grond van die aantal jare wat oor is. 52 Maar as daar net ’n paar jaar voor die Jubeljaar oorbly, moet hy vir homself ’n berekening doen en sy terugkoopprys betaal na gelang van die aantal jare wat oor is. 53 Hy moet aanhou om hom van jaar tot jaar as ’n gehuurde werker te dien, en jy moet sorg dat die koper hom nie wreed behandel nie.+ 54 Maar as hy homself nie op hierdie voorwaardes kan terugkoop nie, moet hy in die Jubeljaar vrygelaat word,+ hy en sy kinders* saam met hom.
55 “‘Want die Israeliete is my slawe. Hulle is my slawe wat ek uit Egipte uitgelei het.+ Ek is Jehovah julle God.