Die tweede boek van Kronieke
32 Nadat Hiskiʹa al hierdie dinge getrou gedoen het,+ het koning Sanʹherib van Assiʹrië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër met die doel om deur hulle mure te breek en die stede in te neem.+
2 Toe Hiskiʹa sien dat Sanʹherib gekom het om teen Jerusalem oorlog te voer, 3 het hy met sy hoë amptenare en vegters gepraat en toe besluit om die fonteine buite die stad toe te stop,+ en hulle het hom ondersteun. 4 Baie mense is bymekaargeroep, en hulle het al die fonteine en die stroom wat deur die land vloei, toegestop en gesê: “Ons wil nie hê dat die konings van Assiʹrië baie water moet vind wanneer hulle kom nie.”
5 En hy het hard gewerk om die deel van die muur wat afgebreek was, te herstel, en hy het torings daarop gebou en aan die buitekant nog ’n muur gebou. Hy het ook die Wal*+ van die Stad van Dawid herstel, en hy het baie wapens* en skilde gemaak. 6 Hy het hoofde van die leërmag oor die volk aangestel en hulle laat bymekaarkom op die openbare plein van die stadspoort. Hy het hulle moed ingepraat en gesê: 7 “Wees moedig en sterk. Moenie vrees nie en moenie bang wees vir die koning van Assiʹrië+ en sy groot leërmag nie, want daar is meer by ons as by hom.+ 8 Hy het net mense om hom te help,* maar ons het Jehovah ons God om ons te help en om vir ons te veg.”+ En die woorde van koning Hiskiʹa van Juda het die volk versterk.+
9 Daarna het koning Sanʹherib van Assiʹrië, wat toe met sy hele leërmag by Lagis was,+ knegte na koning Hiskiʹa van Juda en na al die Judeërs in Jerusalem gestuur+ om te sê:
10 “Dít is wat koning Sanʹherib van Assiʹrië, sê: ‘Waarop vertrou julle dat julle in Jerusalem bly, al weet julle dat ek dit gaan aanval?+ 11 Hiskiʹa mislei julle en hy gaan julle van honger en dors laat sterf, want hy sê: “Jehovah ons God sal ons van die koning van Assiʹrië red.”+ 12 Maar hierdie einste Hiskiʹa het julle God se offerhoogtes+ en altare+ verwyder en toe vir Juda en Jerusalem gesê: “Julle moet voor een altaar buig en julle offers daarop offer.”+ 13 Weet julle nie wat ek en my voorvaders aan die volke van al die ander lande gedoen het nie?+ Kon die gode van daardie nasies hulle land uit my hand red?+ 14 Kon enigeen van die gode van daardie nasies wat deur my voorvaders vernietig is, sy volk uit my hand red? Hoekom dink julle dan dat julle God julle van my sal kan red?+ 15 Moenie dat Hiskiʹa julle so bedrieg en mislei nie!+ Moenie julle vertroue in hom stel nie, want nie een van die gode van enige nasie of koninkryk kon sy volk van my en my voorvaders red nie. Hoe sal julle God julle dan van my kan red?’”+
16 Sy knegte het nog meer beledigende dinge oor Jehovah, die ware God, en oor sy kneg Hiskiʹa gesê. 17 Hy het ook briewe geskryf+ om Jehovah, die God van Israel,+ te beledig. Hy het gesê: “Net soos die gode van ander lande nie hulle volk van my kon red nie,+ so sal die God van Hiskiʹa nie sy volk van my kan red nie.” 18 Hulle het heeltyd hard uitgeroep in die Jode se taal, want hulle wou die mense van Jerusalem wat op die muur was, bang en paniekerig maak sodat hulle die stad kon inneem.+ 19 Hulle het van die God van Jerusalem gepraat asof hy soos die gode van die ander volke was, gode wat deur mense gemaak is. 20 Maar koning Hiskiʹa en die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, het hieroor bly bid en God gevra om hulle te help.+
21 Toe het Jehovah ’n engel gestuur en elke magtige soldaat, leier en hoof in die kamp van die koning van Assiʹrië doodgemaak,+ en die koning van Assiʹrië het vernederd na sy land teruggegaan. Later het hy in die tempel van sy god ingegaan, waar party van sy eie seuns hom met die swaard doodgemaak het.+ 22 So het Jehovah Hiskiʹa en die inwoners van Jerusalem gered van koning Sanʹherib van Assiʹrië en van al die ander, en daar was vrede in die land. 23 En baie het geskenke vir Jehovah na Jerusalem gebring, en waardevolle dinge vir koning Hiskiʹa van Juda.+ Van toe af het al die nasies groot respek vir hom gehad.
24 In daardie dae het Hiskiʹa dodelik siek geword, en hy het tot Jehovah gebid.+ God het hom geantwoord en vir hom ’n teken* gegee.+ 25 Maar Hiskiʹa het nie waardering getoon vir die goedheid wat aan hom betoon is nie, want hy het hoogmoedig geword. Daarom het God vir hom en vir Juda en Jerusalem kwaad geword. 26 Maar Hiskiʹa het nederig berou getoon,+ en die inwoners van Jerusalem het ook nederig berou getoon, en Jehovah het hulle nie in Hiskiʹa se tyd gestraf nie.+
27 En Hiskiʹa het baie ryk geword en het baie eer ontvang.+ Hy het stoorkamers gemaak+ vir sy silwer, goud, edelstene, balsemolie, skilde en al sy ander waardevolle dinge. 28 Hy het ook stoorplekke gemaak vir sy graan, nuwe wyn en olie, en ook stalle vir sy beeste en vir sy skape en bokke. 29 Hy het ook stede vir hom laat bou en baie skape, bokke en beeste verkry, want God het hom baie besittings gegee. 30 Dit was Hiskiʹa wat die boonste uitloop van die Gihon-fontein+ toegestop het+ en die water in ’n westelike rigting na die Stad van Dawid+ gelei het. En Hiskiʹa was suksesvol in alles wat hy gedoen het. 31 Maar toe die leiers van Babilon woordvoerders na hom toe gestuur het om hom te vra oor die teken*+ wat in die land plaasgevind het,+ het die ware God Hiskiʹa self laat besluit wat om te doen sodat hy hom kon toets+ en kon uitvind wat in sy hart is.+
32 Die res van die geskiedenis van Hiskiʹa en sy dade van lojale liefde+ is opgeteken in die verslag van die visioen van die profeet Jesaja,+ die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en van Israel.+ 33 Hiskiʹa het gesterf,* en hulle het hom begrawe teen die skuinste van die heuwel waar die grafte van die seuns van Dawid was.+ En die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het by sy dood aan hom eer bewys. En sy seun Manasʹse het in sy plek koning geword.