Genesis
41 Ná twee volle jare het Farao gedroom+ dat hy by die Nylrivier staan. 2 En hy het gesien hoe daar sewe mooi, vet koeie uit die rivier opkom, en hulle het van die Nylgras geëet.+ 3 Ná hulle het daar sewe ander koeie wat lelik en maer was, uit die Nylrivier opgekom, en hulle het langs die vet koeie op die oewer van die Nylrivier gaan staan. 4 Toe het die lelike, maer koeie die sewe mooi, vet koeie begin opeet. Daarna het Farao wakker geword.
5 Toe het hy weer aan die slaap geraak en ’n tweede droom gehad. Daar was sewe graanare wat aan een stingel opgekom het, vol en goed.+ 6 En ná hulle het sewe dun graanare uitgespruit wat deur die oostewind verskroei was. 7 En die dun graanare het die sewe vol en goeie graanare begin insluk. Daarna het Farao wakker geword en besef dat dit ’n droom was.
8 Maar in die oggend het hy onrustig geraak. Daarom het hy al die towerpriesters van Egipte en al die wyse manne van die land laat roep. Farao het hulle van sy drome vertel, maar daar was niemand wat vir Farao kon sê wat dit beteken nie.
9 Toe het die hoofskinker met Farao gepraat en gesê: “Vandag bely ek my sondes. 10 Farao was kwaad vir sy knegte. Daarom het hy my sowel as die hoofbakker in die tronk van die hoof van die wagte gesit.+ 11 Daarna het ons elkeen in dieselfde nag ’n droom gehad. Ek en hy het elkeen ’n droom gehad, en elke droom het sy eie betekenis gehad.+ 12 En daar was ’n jong Hebreeuse man, ’n kneg van die hoof van die wagte,+ saam met ons. Toe ons hom daarvan vertel het,+ het hy vir ons gesê wat elke droom beteken. 13 Dit het gebeur presies soos hy vir ons gesê het. Ek is in my amp herstel, maar die ander man is gehang.”+
14 Farao het Josef dus laat roep,+ en hulle het hom gou uit die tronk* gebring.+ Hy het geskeer en ander klere aangetrek en na Farao toe gegaan. 15 Toe het Farao vir Josef gesê: “Ek het ’n droom gehad, maar daar is niemand wat vir my kan sê wat dit beteken nie. En hulle vertel my as jy net hoor wat iemand gedroom het, kan jy sê wat dit beteken.”+ 16 Josef het Farao geantwoord: “My opinie is nie belangrik nie. God sal vir Farao goeie nuus gee.”+
17 Farao het verder vir Josef gesê: “In my droom het ek op die oewer van die Nylrivier gestaan. 18 Uit die Nylrivier het daar sewe mooi, vet koeie opgekom, en hulle het van die Nylgras begin eet.+ 19 En daar het sewe ander koeie ná hulle opgekom wat swak, baie lelik en maer was. Ek het nog nooit in die hele Egipte koeie gesien wat so sleg lyk nie. 20 En die maer, lelike koeie het die eerste sewe vet koeie begin opeet. 21 Maar nadat hulle hulle opgeëet het, kon niemand sien dat hulle dit gedoen het nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos voorheen. Toe het ek wakker geword.
22 “Daarna het ek in my droom sewe graanare gesien wat aan een stingel opkom, vol en goed.+ 23 Ná hulle het sewe droë, dun graanare opgekom wat deur die oostewind verskroei was. 24 Toe het die dun graanare die sewe goeie graanare begin insluk. Ek het toe die towerpriesters daarvan vertel,+ maar niemand kon dit aan my verduidelik nie.”+
25 Toe het Josef vir Farao gesê: “Die drome van Farao is een en dieselfde. Die ware God het vir Farao gesê wat Hy gaan doen.+ 26 Die sewe goeie koeie is sewe jaar. Net so is die sewe goeie graanare ook sewe jaar. Die drome is een en dieselfde. 27 Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jaar, en die sewe leë graanare, wat deur die oostewind verskroei was, sal sewe jaar van hongersnood wees. 28 Dit is net soos ek vir Farao gesê het: Die ware God het Farao laat sien wat Hy gaan doen.
29 “Daar sal sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipte wees. 30 Maar daarna sal daar beslis sewe jaar van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed in Egipte sal beslis vergeet word, en die land sal baie swaarkry as gevolg van die hongersnood.+ 31 En die oorvloed wat voorheen in die land was, sal vergeet word as gevolg van die hongersnood wat sal kom, want dit sal baie erg wees. 32 Die droom is twee keer aan Farao gegee omdat die saak deeglik bevestig is deur die ware God, en die ware God sal dit binnekort uitvoer.
33 “Laat Farao dan nou na ’n man soek wat verstandig en wys is en hom oor Egipte aanstel. 34 Laat Farao optree en opsieners in die land aanstel en ’n vyfde van Egipte se opbrengs gedurende die sewe jaar van oorvloed+ insamel. 35 En laat hulle al die kos gedurende hierdie komende goeie jare bymekaarmaak, en laat hulle graan in Farao se voorraadskure in die stede opgaar en bewaar.+ 36 Die kos moet as voorraad dien vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipte sal ontstaan, sodat die mense en die diere in die land nie gedurende die hongersnood sal sterf nie.”+
37 Die voorstel het goed geklink vir Farao en al sy knegte. 38 Farao het dus vir sy knegte gesê: “Kan ’n ander man gevind word soos hierdie een, in wie die gees van God is?” 39 Farao het toe vir Josef gesê: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand so verstandig en wys soos jy nie. 40 Jy sal persoonlik oor my huis wees, en my hele volk sal jou in alles gehoorsaam.+ Net ek, as die koning, sal groter wees as jy.” 41 En Farao het verder vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou oor die hele Egipte aan.”+ 42 Farao het toe sy seëlring van sy hand afgehaal en dit aan Josef se hand gesit en hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang. 43 En hy het hom in Farao se tweede beste strydwa laat ry, en hulle het voor hom uitgeroep: “Awrék!”* Hy het hom dus oor die hele Egipte aangestel.
44 Farao het verder vir Josef gesê: “Ek is Farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in die hele Egipte ’n enkele ding doen nie.”+ 45 Daarna het Farao vir Josef die naam Saʹfenat-Paneʹag gegee en vir hom Aʹsenat+ die dogter van Potifeʹra, die priester van On,* as vrou gegee. En Josef het toesig begin hou oor Egipte.*+ 46 Josef was 30 jaar oud+ toe hy voor Farao, die koning van Egipte, verskyn het.*
Toe het Josef van Farao af weggegaan en deur die hele Egipte gereis. 47 En gedurende die sewe jaar van oorvloed was die land se opbrengste baie groot. 48 En hy het aangehou om al die kos bymekaar te maak wat Egipte in daardie sewe jaar opgelewer het, en hy het dit in die stede gestoor. Hy het in elke stad die graan van die omliggende landerye gestoor. 49 Josef het baie groot hoeveelhede graan bly opgaar, soos die sand van die see, totdat hulle uiteindelik opgehou het om dit te tel, want dit kon nie getel word nie.
50 Voordat die jaar van die hongersnood aangebreek het, het Aʹsenat die dogter van Potifeʹra, die priester van On,* vir Josef aan twee seuns geboorte gegee.+ 51 Josef het die eersgeborene Manasʹse*+ genoem, want hy het gesê: “God het my laat vergeet van die hele huis van my pa en van hoe swaar ek gekry het.” 52 En hy het die tweede seun Eʹfraim*+ genoem, want hy het gesê: “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek swaargekry het.”+
53 Toe het die sewe jaar van oorvloed in Egipte geëindig,+ 54 en die sewe jaar van hongersnood het begin, net soos Josef gesê het.+ Die hongersnood het in al die lande ontstaan, maar in die hele Egipte was daar kos.*+ 55 Uiteindelik het die hele Egipte ook gely as gevolg van die hongersnood, en die volk het Farao begin smeek vir brood.+ Toe het Farao vir al die Egiptenare gesê: “Gaan na Josef toe, en doen wat hy ook al vir julle sê.”+ 56 En daar was hongersnood oor die hele aarde.+ Toe het Josef al die graanskure begin oopmaak en graan aan die Egiptenare verkoop,+ want die hongersnood in Egipte was baie erg. 57 Wat meer is, mense van oral oor die aarde het na Egipte gekom om by Josef te koop, want die hongersnood was baie erg oor die hele aarde.+