Aan die Hebreërs
1 God het lank gelede by baie geleenthede en op baie maniere deur middel van die profete met ons voorvaders gepraat.+ 2 Maar nou, aan die einde van hierdie dae, het hy met ons gepraat deur middel van ’n Seun,+ wat hy as erfgenaam van alles aangestel het+ en deur wie hy die dinge in die hemel en die dinge op die aarde gemaak het.*+ 3 Hy is die weerspieëling van God se heerlikheid+ en ’n presiese weergawe van sy persoonlikheid,+ en hy hou alles in stand deur sy kragtige woord. En nadat hy ons van sondes gereinig het,+ het hy aan die regterhand van die Majesteit in die hemel gaan sit.+ 4 So het hy beter as die engele geword+ omdat hy ’n naam geërf het wat hulle s’n oortref.+
5 Vir watter een van die engele het God byvoorbeeld ooit gesê: “Jy is my seun. Vandag het ek jou vader geword”?+ En ook: “Ek sal sy vader word, en hy sal my seun word”?+ 6 Maar wanneer hy sy Eersgeborene+ weer na die aarde stuur, sê hy: “En al God se engele moet aan hom eer bewys.”*
7 Oor die engele sê hy: “Hy maak sy engele geeste en sy dienaars*+ soos die vlamme van ’n vuur.”+ 8 Maar oor die Seun sê hy: “God is u troon+ vir ewig en altyd, en die septer van u Koninkryk is die septer van geregtigheid. 9 U was lief vir regverdigheid en het wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u met die olie van vreugde gesalf,+ meer as u metgeselle.”+ 10 En: “U, o Here, het aan die begin die fondamente van die aarde gelê, en die hemel is die werke van u hande. 11 Hulle sal ophou bestaan, maar u sal bly bestaan. Net soos ’n kledingstuk sal hulle almal oud word, 12 en u sal hulle net soos ’n mantel oprol, soos ’n kledingstuk, en hulle sal vervang word. Maar u is dieselfde, en u jare sal nooit tot ’n einde kom nie.”+
13 Maar oor watter een van die engele het hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak”?+ 14 Is hulle nie almal geeste vir heilige* diens,+ wat uitgestuur word om dié te dien wat redding gaan ontvang nie?