Die tweede boek van Samuel
15 Ná al hierdie dinge het Absalom vir hom ’n wa en perde aangeskaf, sowel as 50 manne om voor hom uit te hardloop.+ 2 Absalom het elke oggend vroeg opgestaan en langs die pad gaan staan wat na die stadspoort lei.+ Wanneer iemand ’n regsaak gehad het waaroor die koning moes oordeel,+ het Absalom hom geroep en gevra: “Van watter stad is jy?” en dan sou die man vir hom sê aan watter stam van Israel hy behoort. 3 Absalom sou dan vir hom sê: “Kyk, jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand by die koning om jou saak aan te hoor nie.” 4 Daarna sou Absalom sê: “As ek maar net as regter in die land aangestel was! Dan sou elkeen wat ’n regsaak of klagte het, na my toe kon kom, en ek sou seker maak dat hy geregtigheid kry.”
5 En wanneer iemand nader gekom het om voor hom neer te buig, het Absalom sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesoen.+ 6 Absalom het dit gedoen met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het met ’n regsaak waaroor hy moes oordeel. So het Absalom die harte van die manne van Israel bly steel.+
7 Ná vier jaar* het Absalom vir die koning gesê: “Laat my asseblief na Heʹbron+ gaan om my gelofte te betaal wat ek aan Jehovah gemaak het. 8 Want toe u kneg in Gesur+ in Sirië gewoon het, het ek ’n gelofte gemaak+ en gesê: ‘As Jehovah my na Jerusalem terugbring, sal ek ’n offer aan Jehovah bring.’”* 9 Toe het die koning vir hom gesê: “Gaan in vrede.” Hy het toe opgestaan en na Heʹbron gegaan.
10 Daarna het Absalom spioene deur al die stamme van Israel gestuur om te sê: “Sodra julle die geluid van die horing hoor, moet julle uitroep: ‘Absalom het koning geword in Heʹbron!’”+ 11 En Absalom het 200 manne van Jerusalem genooi. Hulle het ewe onskuldig saamgegaan en het van niks geweet nie. 12 En toe Absalom die offerandes bring, het hy Agitoʹfel,+ die Giloniet, Dawid se raadgewer,+ uit sy stad, Gilo,+ laat roep. Die sameswering het al hoe groter geword, en al hoe meer mense het Absalom begin ondersteun.+
13 Later het ’n boodskapper na Dawid toe gekom en gesê: “Die manne van Israel ondersteun nou vir Absalom.” 14 Dawid het dadelik vir al sy knegte wat by hom in Jerusalem was, gesê: “Staan op, en laat ons vlug,+ want nie een van ons sal van Absalom ontsnap nie! Maak gou, sodat hy ons nie inhaal en rampspoed oor ons bring en die inwoners van die stad met die swaard doodmaak nie!”+ 15 Die koning se knegte het vir hom gesê: “Ons sal doen wat my heer die koning ook al besluit om te doen.”+ 16 Toe het die koning en sy hele huisgesin vertrek, maar die koning het tien byvrouens+ agtergelaat om die paleis* op te pas. 17 En die koning en die mense wat hom uit die stad gevolg het, het by Bet-Merhak gestop.
18 Al die koning se knegte wat saam met hom gegaan het* en al die Keretiete, die Peletiete+ en al die Gittiete+ (600 manne wat hom vanaf die stad Gat+ gevolg het) het voor die koning verbygegaan terwyl hy hulle geïnspekteer het. 19 Toe het die koning vir Ittai,+ die Gittiet, gesê: “Hoekom wil jy saam met ons gaan? Gaan terug en bly by die nuwe koning, want jy is ’n uitlander en jy is uit jou plek verban. 20 Jy het nou net hier aangekom. Hoe kan ek jou dan vra om saam met ons te gaan as ek nie eers weet waarheen ek gaan nie? Gaan terug en neem jou manne saam met jou, en mag Jehovah lojale liefde en getrouheid aan jou betoon!”+ 21 Maar Ittai het die koning geantwoord: “So waar as wat Jehovah lewe en so waar as wat my heer die koning lewe, waar my heer die koning ook al gaan, sal u kneg gaan, selfs al beteken dit dat ek moet sterf!”+ 22 Toe het Dawid vir Ittai+ gesê: “Trek deur die vallei.” Toe het Ittai, die Gittiet, saam met al sy manne en kinders deur die vallei getrek.
23 Almal in die land het hard gehuil terwyl al hierdie mense deurgetrek het, en die koning het by die Kidron-vallei+ gestaan. Al die mense het na die pad gegaan wat na die wildernis lei. 24 Sadok,+ sowel as al die Leviete+ wat die ark+ van die verbond van die ware God+ gedra het, was daar. En hulle het die Ark van die ware God neergesit. En Abjaʹtar+ was ook daar terwyl die mense uit die stad gekom het en deur die vallei getrek het. 25 Maar die koning het vir Sadok gesê: “Neem die Ark van die ware God terug na die stad toe.+ As ek Jehovah se goedkeuring het, sal hy my terugbring, en hy sal my die Ark en die woonplek daarvan weer laat sien.+ 26 Maar as hy sê dat ek nie sy goedkeuring het nie, laat hy dan met my doen wat hy ook al wil.” 27 Die koning het vir Sadok die priester gesê: “Jy is mos ’n siener,+ nie waar nie? Gaan in vrede terug na die stad toe, en neem jou seun Ahiʹmaäs sowel as Joʹnatan,+ die seun van Abjaʹtar, saam. 28 Ek sal by die driwwe naby die wildernis bly totdat ek ’n boodskap van julle kry.”+ 29 Toe het Sadok en Abjaʹtar die Ark van die ware God na Jerusalem teruggeneem, en hulle het daar gebly.
30 Dawid het gehuil terwyl hy teen die Olyfberg*+ opgegaan het. Sy kop was bedek, en hy het kaalvoet geloop. Al die mense wat by hom was, het ook hulle koppe bedek en al huilende opgegaan. 31 Daar is toe vir Dawid gesê: “Agitoʹfel konkel+ ook saam met Absalom.”+ Toe het Dawid gesê: “O Jehovah,+ verander die raad van Agitoʹfel asseblief in dwaasheid!”+
32 Toe Dawid bo-op die berg kom waar mense God altyd kom aanbid het,* was Husai,+ die Arkiet,+ daar om hom te ontmoet. Sy kleed was geskeur en daar was grond op sy kop. 33 Maar Dawid het vir hom gesê: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees. 34 Dit sal beter wees as jy na die stad teruggaan en vir Absalom sê: ‘Ek is u kneg,+ o koning. In die verlede was ek ’n kneg van u pa, maar nou is ek u kneg’. Dan kan jy Agitoʹfel se plan* laat misluk.+ 35 Die priesters Sadok en Abjaʹtar is mos daar by jou. Jy moet die priesters Sadok en Abjaʹtar alles vertel wat jy by die huis van die koning hoor.+ 36 En hulle twee seuns, Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok, en Joʹnatan,+ die seun van Abjaʹtar, is ook daar by hulle. Jy kan hulle stuur om vir my alles te vertel wat jy hoor.” 37 En Husai, Dawid se vriend,*+ het op dieselfde tyd as Absalom in Jerusalem aangekom.