Die tweede boek van Konings
18 Hiskiʹa,+ die seun van koning Agas+ van Juda, het in die derde jaar van koning Hoseʹa+ van Israel, die seun van Ela, koning geword. 2 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi,* die dogter van Sagariʹa.+ 3 Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë,+ net soos sy voorvader Dawid gedoen het.+ 4 Dit was Hiskiʹa wat die offerhoogtes verwyder het,+ die heilige pilare stukkend gekap het en die heilige paal* afgekap het.+ Hy het ook die koperslang wat Moses gemaak het,+ stukkend geslaan, want tot op daardie tyd het die Israeliete offerrook daarvoor laat opgaan, en dit is die koperslang-afgod* genoem. 5 Hy het op Jehovah,+ die God van Israel, vertrou. Onder al die konings van Juda was daar nie voor hom of ná hom ’n koning soos hy nie. 6 Hy het lojaal aan Jehovah gebly.+ Hy was altyd gehoorsaam aan hom. En hy het aangehou om die gebooie te gehoorsaam wat Jehovah aan Moses gegee het. 7 En Jehovah was met hom. Waar hy ook al gegaan het, het hy wyslik opgetree. Hy het teen die koning van Assiʹrië in opstand gekom en geweier om hom te dien.+ 8 Hy het ook die Filistyne verslaan+ tot by Gasa en die omliggende gebiede, van wagtoring tot versterkte stad.*
9 Koning Salmaneʹser van Assiʹrië het in die vierde jaar van koning Hiskiʹa (dit wil sê die sewende jaar van koning Hoseʹa+ van Israel, die seun van Ela) teen Samariʹa opgetrek en dit begin beleër.+ 10 Ná drie jaar het hulle dit ingeneem.+ Dit was in die sesde jaar van Hiskiʹa (dit wil sê die negende jaar van koning Hoseʹa van Israel) dat Samariʹa ingeneem is. 11 Toe het die koning van Assiʹrië die Israeliete in ballingskap+ na Assiʹrië geneem en hulle in Halag en in Habor by die Gosanrivier en in die stede van die Mede laat woon.+ 12 Dit het gebeur omdat hulle nie na die stem van Jehovah hulle God geluister het nie en nie gebly het by sy verbond, by alles wat Moses, die kneg van Jehovah, beveel het, nie.+ Hulle het nie geluister nie en hulle was nie gehoorsaam nie.
13 In die 14de jaar van koning Hiskiʹa het Sanʹherib, die koning van Assiʹrië,+ teen al die versterkte stede van Juda opgetrek en hulle ingeneem.+ 14 Toe het koning Hiskiʹa van Juda hierdie boodskap aan die koning van Assiʹrië in Lagis gestuur: “Ek het verkeerd opgetree. As u van my af terugtrek, sal ek vir u gee wat u ook al van my eis.” Die koning van Assiʹrië het koning Hiskiʹa van Juda ’n boete van 300 talente* silwer en 30 talente goud opgelê. 15 Daarom het Hiskiʹa al die silwer gegee wat in die huis van Jehovah en in die skatkamers van die koning se paleis was.+ 16 Op daardie tyd het Hiskiʹa die deure van die tempel+ van Jehovah en die deurposte wat koning Hiskiʹa van Juda self oorgetrek* het,+ afgehaal* en dit aan die koning van Assiʹrië gegee.
17 Die koning van Assiʹrië het die Tartan,* die Rabʹsaris* en die Rabʹsake* toe met ’n groot leërmag van Lagis+ af na koning Hiskiʹa in Jerusalem gestuur.+ Hulle het na Jerusalem gegaan en gaan staan by die kanaal van die boonste dam, wat langs die grootpad van die wassersveld is.+ 18 Toe hulle vra dat die koning na hulle toe uitkom, het Eljaʹkim,+ die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna,+ die sekretaris en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, na hulle toe uitgekom.
19 Toe het die Rabʹsake vir hulle gesê: “Sê asseblief vir Hiskiʹa: ‘Dít is wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê: “Hoekom is jy so vol vertroue?+ 20 Jy sê: ‘Ek het ’n strategie en die mag om oorlog te voer,’ maar dit is leë woorde. Op wie vertrou jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom?+ 21 Jy vertrou op Egipte,+ daardie geknakte riet wat ’n gat dwarsdeur ’n mens se hand sal steek as jy daarop leun. Dít is hoe Farao, die koning van Egipte, is vir almal wat op hom vertrou. 22 Maar dalk sal julle vir my sê: ‘Ons vertrou op Jehovah ons God.’+ Is dit dan nie sy offerhoogtes en altare wat Hiskiʹa verwyder het nie,+ terwyl hy vir Juda en Jerusalem sê: ‘Julle moet voor hierdie altaar in Jerusalem neerbuig’?”’+ 23 Aanvaar dan nou asseblief hierdie uitdaging van my heer, die koning van Assiʹrië: Ek sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg ruiters vir hulle kan vind.+ 24 Hoe sou jy dan selfs een van my heer se onbelangrikste goewerneurs kan terugdryf as jy op Egipte moet vertrou vir strydwaens en vir ruiters? 25 En dink jy dat ek sonder Jehovah se toestemming teen hierdie plek opgetrek het om dit te verwoes? Dit was Jehovah wat vir my gesê het: ‘Trek op teen hierdie land en verwoes dit.’”
26 Toe het Eljaʹkim, die seun van Hilkiʹa, Sebna+ en Joag vir die Rabʹsake+ gesê: “Praat asseblief met u knegte in die Aramese* taal,+ want ons verstaan dit. Moenie in die taal van die Jode met ons praat nie, want die mense op die muur kan hoor wat ons sê.”+ 27 Maar die Rabʹsake het vir hulle gesê: “Dink julle dat my heer my net na julle heer en na julle toe gestuur het om hierdie dinge te sê? Hierdie boodskap is ook bedoel vir die manne wat op die muur sit, wat hulle eie ontlasting sal eet en hulle eie urine sal drink, net soos julle.”
28 Daarna het die Rabʹsake met ’n harde stem in die taal van die Jode uitgeroep: “Hoor wat die groot koning, die koning van Assiʹrië, sê.+ 29 Dít is wat die koning sê: ‘Moenie dat Hiskiʹa julle bedrieg nie, want hy kan julle nie uit my hand red nie.+ 30 En moenie dat Hiskiʹa julle op Jehovah laat vertrou nie deur te sê: “Jehovah sal ons vir seker red. Hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assiʹrië gegee word nie.”+ 31 Moenie na Hiskiʹa luister nie, want dít is wat die koning van Assiʹrië sê: “Maak vrede met my en gee julle aan my oor. Dan sal elkeen van julle van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en die water van sy eie reënput drink, 32 totdat ek kom en julle na ’n land neem soos julle land,+ ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde, ’n land van olyfbome en heuning. En dan sal julle lewe en nie sterf nie. Moenie na Hiskiʹa luister nie, want hy mislei julle deur te sê: ‘Jehovah sal ons red.’ 33 Het enige van die gode van die nasies sy land uit die hand van die koning van Assiʹrië gered? 34 Waar is die gode van Hamat+ en Arpad? Waar is die gode van Sefarwaʹim,+ Hena en Iwwa? Het hulle Samariʹa uit my hand gered?+ 35 Kon enigeen van die gode van daardie lande hulle land uit my hand red? Sal Jehovah Jerusalem dan uit my hand kan red?”’”+
36 Maar die mense het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om hom nie te antwoord nie.+ 37 Eljaʹkim, die seun van Hilkiʹa, wat oor die huishouding* was, Sebna, die sekretaris, en Joag, die seun van Asaf, die geskiedskrywer, het met geskeurde klere na Hiskiʹa toe gegaan en hom vertel wat die Rabʹsake gesê het.