Esegiël
20 En in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende dag van die maand, het daar manne uit die ouer manne van Israel gekom om Jehovah te raadpleeg,+ en hulle het voor my gaan sit.+ 2 Toe het die woord van Jehovah tot my gekom en gesê: 3 “Mensekind, praat met die ouer manne van Israel, en jy moet vir hulle sê: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Kom julle om my te raadpleeg?+ ‘So waar as ek lewe, ek sal my nie deur julle laat raadpleeg nie’,+ is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.”’
4 “Sal jy hulle oordeel? Sal jy hulle oordeel, o mensekind?+ Maak die verfoeilike dinge van hulle voorvaders aan hulle bekend.+ 5 En jy moet vir hulle sê: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Die dag toe ek Israel uitgekies het,+ het ek ook vir die saad van die huis van Jakob+ my hand in ’n eed opgehef+ en my in Egipteland aan hulle bekend gemaak.+ Ja, ek het vir hulle my hand in ’n eed opgehef en gesê: ‘Ek is Jehovah julle God.’+ 6 Dié dag het ek vir hulle my hand in ’n eed opgehef+ om hulle uit Egipteland uit te lei na ’n land wat ek vir hulle verken het, wat oorloop van melk en heuning.+ Dit was die sieraad van al die lande.+ 7 En ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg, elkeen die walglike dinge van sy oë,+ en moet julle nie met die drekgode van Egipte verontreinig nie.+ Ek is Jehovah julle God.’+
8 “‘“En hulle het teen my in opstand begin kom,+ en hulle wou nie na my luister nie. Hulle het nie elkeen die walglike dinge van hulle oë weggegooi nie, en die drekgode van Egipte het hulle nie verlaat nie,+ sodat ek beloof het om my woede oor hulle uit te stort, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.+ 9 En ek het ter wille van my naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle was nie,+ want ek het my voor hulle oë aan hulle bekend gemaak toe ek hulle uit Egipteland uitgelei het.+ 10 En ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die wildernis gebring.+
11 “‘“En ek het hulle my insettinge+ gegee; en my regterlike beslissings+ het ek aan hulle bekend gemaak, sodat die mens wat dit deurentyd nakom, ook daardeur kan bly lewe.+ 12 En my sabbatte het ek ook aan hulle gegee,+ om ’n teken tussen my en hulle te word,+ sodat hulle kan weet dat ek Jehovah is, wat hulle heilig.
13 “‘“Maar hulle, die huis van Israel, het in die wildernis teen my in opstand gekom.+ In my insettinge het hulle nie gewandel nie+ en my regterlike beslissings het hulle verwerp,+ waardeur die mens, as hy dit deurentyd nakom, ook sal bly lewe.+ En my sabbatte het hulle grootliks ontheilig,+ sodat ek beloof het om my grimmigheid in die wildernis oor hulle uit te stort, ten einde hulle uit te roei.+ 14 Maar ek het ter wille van my naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë ek hulle uitgelei het nie.+ 15 En ek het ook vir hulle my hand in ’n eed opgehef in die wildernis,+ dat ek hulle nie sou bring in die land wat ek gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning+ (dit is die sieraad van al die lande),+ 16 omdat hulle my regterlike beslissings verwerp het; en in my insettinge het hulle nie gewandel nie, en my sabbatte het hulle ontheilig, want hulle hart het agter hulle drekgode aan gegaan.+
17 “‘“En my oog het vir hulle jammer begin voel, sodat dit my daarvan weerhou het om hulle te verdelg,+ en ek het hulle nie in die wildernis uitgeroei nie. 18 En ek het vir hulle kinders in die wildernis+ gesê: ‘Moenie volgens die voorskrifte van julle voorvaders wandel nie,+ en moenie hulle regterlike beslissings onderhou nie,+ en moenie julle met hulle drekgode verontreinig nie.+ 19 Ek is Jehovah julle God.+ Wandel in my insettinge,+ en onderhou my regterlike beslissings+ en kom dit na.+ 20 En heilig my sabbatte,+ en hulle sal dien as ’n teken tussen my en julle, sodat julle kan weet dat ek Jehovah julle God is.’+
21 “‘“En die kinders het teen my in opstand begin kom.+ In my insettinge het hulle nie gewandel nie, en my regterlike beslissings het hulle nie onderhou deur dit na te kom nie, waardeur die mens, as hy dit deurentyd nakom, ook sal bly lewe.+ My sabbatte het hulle ontheilig.+ Toe het ek beloof om my woede oor hulle uit te stort, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in die wildernis.+ 22 En ek het my hand teruggetrek+ en ter wille van my naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë ek hulle uitgelei het nie.+ 23 Ook het ek vir hulle my hand in ’n eed opgehef in die wildernis,+ dat ek hulle onder die nasies sou verstrooi en hulle in die lande sou versprei,+ 24 omdat hulle nie my regterlike beslissings uitgevoer het nie+ en hulle my insettinge verwerp het+ en my sabbatte ontheilig het+ en hulle oë agter die drekgode van hulle voorvaders aan gegaan het.+ 25 En ek het hulle ook toegelaat om voorskrifte te hê wat nie goed was nie en regterlike beslissings waardeur hulle nie kon bly lewe nie.+ 26 En ek het hulle onrein laat word deur hulle gawes wanneer hulle elke kind wat die moederskoot open, deur die vuur laat gaan het,+ sodat ek hulle verlate kon maak, sodat hulle kon weet dat ek Jehovah is.”’+
27 “Daarom, praat met die huis van Israel, o mensekind, en jy moet vir hulle sê:+ ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Ook in hierdie opsig het julle voorvaders my gesmaad, deurdat hulle ontrou teenoor my gehandel het.+ 28 En ek het hulle in die land gebring+ waaroor ek my hand in ’n eed opgehef het om dit aan hulle te gee.+ Toe hulle elke hoë heuwel+ en elke digte boom sien, het hulle begin om daar hulle offerandes te bring+ en daar hulle aanstootlike offer te gee en daar hulle rustige geure aan te bied+ en daar hulle drankoffers uit te giet.+ 29 Toe het ek vir hulle gesê: ‘Wat beteken die hoogte waarheen julle kom, dat dit tot vandag toe Hoogte genoem moet word?’”’+
30 “Daarom, sê vir die huis van Israel: ‘Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Verontreinig julle julle in die weg van julle voorvaders,+ en loop julle in onsedelike gemeenskap agter hulle walglike dinge aan?+ 31 En verontreinig julle julle tot vandag toe vir al julle drekgode+ deur julle gawes omhoog te hef, deurdat julle julle seuns deur die vuur laat gaan?+ Sal ek my terselfdertyd deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel?”’+
“‘So waar as ek lewe’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘ek sal my nie deur julle laat raadpleeg nie.+ 32 En wat in julle gees opkom,+ sal gewis nie gebeur nie,+ naamlik dat julle sê: “Laat ons soos die nasies word, soos die families van die lande,+ deur hout en klip te dien.”’”+
33 “‘So waar as ek lewe’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘met ’n sterk hand en met ’n uitgestrekte arm+ en met uitgestorte woede sal ek as koning oor julle heers.+ 34 En ek sal julle onder die volke uitlei, en ek sal julle bymekaarmaak uit die lande waarheen julle verstrooi is met ’n sterk hand en met ’n uitgestrekte arm en met uitgestorte woede.+ 35 En ek sal julle in die wildernis van die volke bring+ en daar van aangesig tot aangesig met julle in die gerig tree.+
36 “‘Soos ek met julle voorvaders in die wildernis van Egipteland in die gerig getree het,+ so sal ek met julle in die gerig tree’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah. 37 ‘En ek sal julle onder die staf laat deurgaan+ en julle in die band van die verbond bring.+ 38 En ek sal julle suiwer van die opstandelinge en die oortreders+ teen my, want uit die land van hulle vreemdelingskap sal ek hulle uitlei, maar in die land van Israel sal hulle nie kom nie;+ en julle sal moet weet dat ek Jehovah is.’+
39 “En julle, o huis van Israel, só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: ‘Gaan dien elkeen sy drekgode.+ En daarna, as julle nie na my luister nie, dan sal julle my heilige naam nie meer ontheilig deur julle gawes en deur julle drekgode nie.’+
40 “‘Want op my heilige berg, op die berg van die hoogte van Israel’,+ is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘daar sal hulle almal, die hele huis van Israel, my dien in die land.+ Daar sal ek behae in hulle hê, en daar sal ek julle bydraes en die eerstelinge van julle aanbiedinge, al julle heilige dinge, eis.+ 41 Weens die rustige geur sal ek behae in julle hê+ wanneer ek julle onder die volke uitlei en julle bymekaarmaak uit die lande waarheen julle verstrooi is,+ en ek sal deur middel van julle geheilig word voor die oë van die nasies.’+
42 “‘En julle sal moet weet dat ek Jehovah is+ wanneer ek julle in die land van Israel bring,+ in die land waaroor ek my hand in ’n eed opgehef het om dit aan julle voorvaders te gee. 43 En daar sal julle beslis dink aan julle weë+ en al julle handelinge waardeur julle julle verontreinig het,+ en julle sal ’n weersin in julleself hê weens al julle slegte dinge wat julle gedoen het.+ 44 En julle sal moet weet dat ek Jehovah is+ wanneer ek met julle handel ter wille van my naam,+ nie volgens julle slegte weë of volgens julle verdorwe handelinge nie,+ o huis van Israel’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.”
45 En die woord van Jehovah het verder tot my gekom en gesê: 46 “Mensekind, keer jou gesig+ in die rigting van die suidelike deel en laat woorde na die suide drup,+ en profeteer teen die woud van die suidland. 47 En jy moet vir die woud van die suide sê: ‘Hoor die woord van Jehovah. Só het die Soewereine Heer Jehovah gesê: “Kyk, ek steek ’n vuur aan teen jou,+ en dit sal elke boom wat nog vogtig is en elke droë boom in jou verteer.+ Die brandende vlam sal nie geblus word nie,+ en alle gesigte sal daardeur geskroei word van die suide tot die noorde.+ 48 En alle vlees sal sien dat ek, Jehovah, dit aangesteek het, sodat dit nie geblus sal word nie.”’”+
49 En ek het gesê: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Hulle sê van my: ‘Stel hy nie spreekwoorde saam nie?’”+