Die eerste boek van Samuel
17 Die Filistyne+ het hulle leërmagte* bymekaargebring om oorlog te voer. Hulle het bymekaargekom by Sogo,+ wat aan Juda behoort, en hulle het tussen Sogo en Aseʹka,+ in Efes-Dammim,+ kamp opgeslaan. 2 Saul en die manne van Israel het bymekaargekom en in die Ela-vallei+ kamp opgeslaan, en hulle het in gevegsformasie teen die Filistyne opgetrek. 3 Die Filistyne was teen die een berg, en die Israeliete teen die ander berg, met ’n vallei tussen hulle.
4 Toe het ’n kampioenvegter uit die kampe van die Filistyne gekom. Sy naam was Goʹliat,+ van die stad Gat,+ en hy was ses el en ’n span lank.* 5 Hy het ’n helm van koper op sy kop gedra, asook ’n pantser* met oorvleuelende skubbe. Die pantser+ van koper het 5 000 sikkels* geweeg. 6 Hy het koperplate aan sy bene gehad, en hy het ’n koperspies+ oor sy skouer gedra. 7 Die houtsteel van sy spies was groot, soos die balk van ’n weefraam,+ en die ysterlem van sy spies het 600 sikkels* geweeg. Die man wat sy skild gedra het, het voor hom geloop. 8 Toe het hy gaan staan en uitgeroep na die leërmag van Israel+ en vir hulle gesê: “Hoekom het julle in gevegsformasie uitgekom? Ek is die beste Filistynse vegter, en julle is die knegte van Saul. Kies vir julle ’n man, en laat hom na my toe afkom. 9 As hy teen my kan veg en my kan doodmaak, sal ons julle slawe word. Maar as ek die oorhand oor hom kry en hom doodmaak, sal julle ons slawe word en ons dien.” 10 Die Filistyn het toe gesê: “Vandag daag* ek die leërmag van Israel uit.+ Stuur ’n man na my toe, en laat ons dit uitbaklei!”
11 Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle doodbang geword.
12 Dawid was die seun van Isai, die Efratiet,+ uit Betlehem+ van Juda. Isai+ het agt seuns gehad,+ en in Saul se tyd was hy reeds ’n ou man. 13 Isai se drie oudste seuns het saam met Saul oorlog toe gegaan.+ Die naam van die eersgeborene was Eliʹab,+ die tweede Abinaʹdab+ en die derde Samma.+ 14 Dawid was die jongste,+ en die drie oudstes het saam met Saul gegaan.
15 Terwyl Dawid Saul gedien het, het hy gereeld Betlehem toe gegaan om sy pa se skape op te pas.+ 16 Intussen het die Filistyn elke oggend en elke aand uitgekom om die leërmag uit te daag, 40 dae lank.
17 Toe het Isai vir sy seun Dawid gesê: “Vat asseblief hierdie efa* geroosterde graan en hierdie tien brode vir jou broers in die kamp. 18 En vat hierdie tien stukke kaas* vir die hoof oor 1 000. Vra jou broers hoe dit met hulle gaan, en bring iets van hulle terug sodat ek kan sien dat hulle nog lewe.” 19 Hulle was saam met Saul en al die ander manne van Israel in die Ela-vallei+ om teen die Filistyne te veg.+
20 Dawid het dus vroeg die oggend opgestaan en iemand gekry om die skape op te pas. Daarna het hy gepak en vertrek, net soos Isai vir hom gesê het. Toe hy by die kamp kom, was die leërmag op pad na die slagveld toe, en hulle het ’n oorlogskreet geskree. 21 Die leërmag van Israel en die leërmag van die Filistyne het teenoor mekaar gaan staan. 22 Dawid het onmiddellik sy bagasie gelos by die persoon wat die bagasie oppas en na die slagveld gehardloop. Toe hy daar aankom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan.+
23 Terwyl hy met hulle gepraat het, het Goʹliat,+ die Filistynse kampioenvegter van die stad Gat, uit die leërmag van die Filistyne vorentoe gekom. Hy het dieselfde woorde as voorheen gesê,+ en Dawid het dit gehoor. 24 Toe die manne van Israel Goʹliat sien, het hulle baie bang geword+ en van hom af weggevlug. 25 Hulle het gesê: “Het julle die man gesien wat vorentoe kom? Hy kom om Israel uit te daag.*+ Die koning sal groot rykdom gee aan die man wat hom doodmaak. Hy sal selfs sy dogter+ vir hom gee, en hy sal die huis van sy pa vrystel van alle verpligtinge in Israel.”
26 Dawid het vir die manne wat naby hom gestaan het, gesê: “Wat sal die man kry wat daardie Filistyn daar oorkant doodmaak en Israel se eer red? Hoe durf hierdie onbesnede Filistyn die leërmag van die lewende God uitdaag?”*+ 27 Toe het die manne herhaal wat hulle voorheen gesê het: “Dít is wat die man sal kry wat hom doodmaak.” 28 Toe sy oudste broer, Eliʹab,+ hoor dat hy met die manne praat, het hy vir Dawid kwaad geword en gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom? En wie het jy gekry om daardie paar skape in die wildernis op te pas?+ Ek weet hoe voorbarig en bedrieglik jy is. Jy het net gekom om die geveg te sien.” 29 Toe het Dawid gesê: “Wat het ek nou gedoen? Ek het maar net ’n vraag gevra!” 30 Toe het hy omgedraai en iemand anders dieselfde vraag gevra,+ en die manne het hom dieselfde antwoord gegee.+
31 Party het gehoor wat Dawid gesê het, en hulle het Saul daarvan vertel. Daarom het Saul hom laat haal. 32 Dawid het vir Saul gesê: “Niemand hoef moed te verloor as gevolg van hierdie Filistyn nie. U kneg sal teen hom gaan veg.”+ 33 Maar Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is maar net ’n seun,+ en hy is al van jongs af ’n vegter.” 34 Dawid het toe vir Saul gesê: “U kneg het ’n herder van sy pa se kleinvee geword, en eenkeer het ’n leeu+ ’n skaap uit die trop weggedra. Later het ’n beer dieselfde gedoen. 35 Ek het agter hulle aan gegaan en hulle neergeslaan en die skaap uit hulle bek gered. Toe hulle my wou aanval, het ek hulle aan die keel* gegryp en hulle doodgemaak. 36 U kneg het die leeu sowel as die beer doodgemaak, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos hulle word, want hy het die leërmag van die lewende God uitgedaag.”*+ 37 Toe het Dawid bygevoeg: “Jehovah, wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, hy sal my uit die hand van hierdie Filistyn red.”+ Saul het toe vir Dawid gesê: “Gaan, en mag Jehovah met jou wees.”
38 Saul het toe sy uitrusting vir Dawid gegee om aan te trek. Hy het ’n helm van koper op sy kop gesit, en daarna het hy hom ’n pantser* laat aantrek. 39 Toe het Dawid sy swaard oor sy klere vasgemaak, maar toe hy wou loop, kon hy nie, want hy was nie gewoond aan die uitrusting nie. Dawid het vir Saul gesê: “Ek kan nie loop met hierdie goed aan nie, want ek is nie daaraan gewoond nie.” Dawid het dit toe uitgetrek. 40 Toe het hy sy staf in sy hand geneem en vyf gladde klippe uit die rivierbedding* uitgekies en dit in die kantsak van sy herdersak gesit. Daarna het hy na die Filistyn toe gegaan met sy slingervel+ in sy hand.
41 Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, en die man wat sy skild gedra het, was voor hom. 42 Toe die Filistyn Dawid sien, het hy hom uitgelag omdat hy maar net ’n seun was, ’n mooi seun met ’n rooierige voorkoms.+ 43 Toe het die Filistyn vir Dawid gesê: “Is ek ’n hond,+ dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid in die naam van sy gode vervloek. 44 Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Kom hier, en ek sal jou vir die voëls van die hemel en die diere van die veld voer.”
45 Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard, ’n spies en ’n werpspies,+ maar ek kom na jou toe in die naam van Jehovah van die leërmagte,+ die God van die leërmag van Israel, wat jy uitgedaag* het.+ 46 Vandag sal Jehovah jou in my hand gee,+ en ek sal jou doodmaak en jou kop afkap. En op hierdie dag sal ek die lyke van die kamp van die Filistyne aan die voëls van die hemel en aan die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat daar ’n God in Israel is.+ 47 En almal wat hier is,* sal weet dat Jehovah nie ’n swaard of ’n spies nodig het om te red nie,+ want die geveg behoort aan Jehovah,+ en hy sal julle almal in ons hand gee.”+
48 Toe het die Filistyn al hoe nader aan Dawid gekom, maar Dawid het vinnig na die slagveld gehardloop om die Filistyn te ontmoet. 49 Dawid het sy hand in sy sak gesteek en ’n klip uitgehaal en dit met die slingervel gegooi. Die klip het die Filistyn teen die voorkop getref en in sy voorkop ingegaan, en hy het met sy gesig op die grond neergeval.+ 50 So het Dawid die Filistyn met ’n slingervel en ’n klip oorwin. Hy het die Filistyn doodgemaak, al het hy nie ’n swaard gehad nie.+ 51 Dawid het verder gehardloop en oor hom gaan staan. Toe het hy die Filistyn se swaard+ uitgetrek en seker gemaak dat hy dood is deur sy kop daarmee af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug.+
52 Toe het die manne van Israel en Juda begin skree en die Filistyne van die vallei+ af tot by die poorte van Ekron+ agternagesit. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saäraʹim+ af tot by Gat en Ekron. 53 Toe die Israeliete teruggekeer het, nadat hulle die Filistyne agternagesit het, het hulle hulle kampe gestroop.
54 Toe het Dawid die Filistyn se kop geneem en dit na Jerusalem gebring, maar hy het die Filistyn se wapens in sy eie tent gesit.+
55 Die oomblik toe Saul Dawid sien uitgaan na die Filistyn toe, het hy vir Abner,+ die hoof van sy leërmag, gevra: “Abner, wie se seun is hierdie jong man?”+ Abner het geantwoord: “So waar as wat u lewe, o koning, ek weet nie!” 56 Die koning het gesê: “Vind uit wie se seun die jong man is.” 57 Toe Dawid ná sy oorwinning oor die Filistyn terugkeer, het Abner hom dadelik voor Saul gebring, met die kop van die Filistyn+ in sy hand. 58 Saul het toe vir hom gevra: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u kneg Isai,+ die Betlehemiet.”+