DIE EERSTE BOEK VAN KONINGS
1 Koning Dawid was baie oud,+ en al het hulle hom met komberse toegemaak, het hy nie warm geword nie. 2 Toe het sy knegte vir hom gesê: “Laat ons vir my heer die koning ’n meisie vind, ’n maagd, wat die koning kan bedien en versorg. Sy sal in u arms lê sodat my heer die koning warm kan word.” 3 En hulle het deur die hele gebied van Israel na ’n pragtige meisie gesoek, en hulle het Abiʹsag,+ die Sunammiet,+ gevind en haar na die koning toe geneem. 4 Die meisie was baie mooi en sy het die koning se versorgster geword en hom bedien, maar die koning het nie seksuele omgang met haar gehad nie.
5 Intussen het Adoʹnia,+ die seun van Haggit, meer mag probeer verkry en gesê: “Ek gaan koning wees!” Hy het vir hom ’n strydwa laat maak en perderuiters gekry, sowel as 50 manne om voor hom uit te hardloop.+ 6 Sy pa het hom nooit reggehelp* deur te vra: “Hoekom het jy dit gedoen?” nie. Hy was ook baie aantreklik, en hy is ná Absalom gebore. 7 Hy het met Joab, die seun van Seruʹja, en met die priester Abjaʹtar+ gaan praat, en hulle het ingestem om Adoʹnia te help en te ondersteun.+ 8 Maar die priester Sadok,+ Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, die profeet Natan,+ Siʹmeï,+ Reï en Dawid se magtige vegters+ het Adoʹnia nie ondersteun nie.
9 Later het Adoʹnia skape, beeste en vetgemaakte diere geoffer+ by die klip Soheʹlet, wat naby En-Rogel is, en hy het al sy broers, die koning se seuns, en al die manne van Juda, die koning se knegte, genooi. 10 Maar hy het nie die profeet Natan, Benaʹja en die magtige vegters of sy broer Salomo genooi nie. 11 Natan+ het toe vir Batseʹba,+ Salomo se ma,+ gevra: “Het u nie gehoor dat Adoʹnia,+ die seun van Haggit, koning geword het sonder dat Dawid daarvan weet nie? 12 Laat ek asseblief vir u raad gee sodat u u lewe en die lewe van u seun Salomo+ kan red. 13 Gaan na koning Dawid en vra vir hom: ‘Het my heer die koning nie vir u diensmeisie gesweer en gesê: “Jou seun Salomo sal ná my koning word, en hy is die een wat op my troon sal sit” nie?+ Hoekom het Adoʹnia dan koning geword?’ 14 Terwyl u nog met die koning praat, sal ek inkom en bevestig wat u sê.”
15 Batseʹba het toe na die koning in sy kamer gegaan. Die koning was baie oud, en Abiʹsag,+ die Sunammiet, het die koning bedien. 16 Toe het Batseʹba voor die koning op haar knieë gegaan en neergebuig, en die koning het gevra: “Wat kan ek vir jou doen?” 17 Sy het geantwoord: “My heer, u het by Jehovah u God vir u diensmeisie gesweer: ‘Jou seun Salomo sal ná my koning word, en hy is die een wat op my troon sal sit.’+ 18 Maar nou het Adoʹnia koning geword sonder dat my heer die koning daarvan weet.+ 19 Hy het baie bulle, vetgemaakte diere en skape geoffer, en hy het al die seuns van die koning en die priester Abjaʹtar en Joab, die hoof van die leërmag,+ genooi; maar hy het nie u kneg Salomo genooi nie.+ 20 En nou is die oë van die hele Israel op u, my heer die koning, om vir hulle te sê wie ná my heer die koning op u troon gaan sit. 21 Anders sal ek en my seun Salomo as verraaiers beskou word sodra my heer die koning sterf.”*
22 En terwyl sy nog met die koning gepraat het, het die profeet Natan ingekom.+ 23 Dadelik is daar vir die koning gesê: “Die profeet Natan is hier!” Hy het na die koning toe gegaan, gekniel en neergebuig met sy gesig na die grond toe. 24 Toe het Natan gesê: “My heer die koning, het u gesê dat Adoʹnia ná u koning sal word en dat hy op u troon sal sit?+ 25 Want hy het vandag baie bulle, vetgemaakte diere en skape gaan offer,+ en hy het al die seuns van die koning, die hoofde van die leërmag en die priester Abjaʹtar+ genooi. Hulle eet en drink saam met hom en hulle sê aanhoudend: ‘Lank lewe koning Adoʹnia!’ 26 Maar hy het my, u kneg, nie genooi nie en ook nie vir Sadok, die priester, of vir Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, of u kneg Salomo nie. 27 Het my heer die koning dalk hierdie besluit geneem sonder om vir my te sê wie ná u op u troon moet sit?”
28 Koning Dawid het toe geantwoord: “Roep Batseʹba vir my.” Toe het sy ingekom en voor die koning gaan staan. 29 Die koning het toe gesweer: “So waar as wat Jehovah lewe, wat my uit alle moeilikhede gered het,+ 30 vandag sal ek doen wat ek vir jou by Jehovah, die God van Israel, gesweer het: ‘Jou seun Salomo sal ná my koning word, en hy is die een wat in my plek op my troon sal sit!’” 31 Toe het Batseʹba voor die koning op haar knieë gegaan en met haar gesig na die grond toe neergebuig en gesê: “Lank lewe koning Dawid!”
32 Koning Dawid het dadelik gesê: “Roep vir my die priester Sadok, die profeet Natan en Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda.”+ Toe het hulle na die koning gegaan. 33 Die koning het vir hulle gesê: “Neem die knegte van julle heer saam met julle, en julle moet my seun Salomo op my eie muil laat ry+ en hom na Gihon+ neem. 34 Die priester Sadok en die profeet Natan moet hom daar as koning oor Israel salf.+ Daarna moet julle op die horing blaas en sê: ‘Lank lewe koning Salomo!’+ 35 Volg hom dan terug hierheen, en hy moet inkom en op my troon sit. En hy sal in my plek koning wees, en ek sal hom as leier oor Israel en oor Juda aanstel.” 36 Dadelik het Benaʹja, die seun van Jojaʹda, vir die koning gesê: “Amen! Mag Jehovah, die God van my heer die koning, dit bevestig. 37 Mag Jehovah met Salomo wees net soos hy met my heer die koning was,+ en mag Hy sy troon groter maak as die troon van my heer koning Dawid.”+
38 Die priester Sadok, die profeet Natan, Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, en die Keretiete en die Peletiete+ het Salomo op koning Dawid se muil laat ry+ en hom na Gihon+ gebring. 39 Die priester Sadok het toe die horing met olie+ uit die tent+ geneem en Salomo gesalf,+ en hulle het op die horing geblaas, en almal het uitgeroep: “Lank lewe koning Salomo!” 40 Daarna het almal hom gevolg, en hulle het op fluite gespeel en was baie vreugdevol, en hulle het soveel geraas gemaak dat die aarde gebewe het.+
41 Adoʹnia en almal wat hy genooi het, het dit gehoor nadat hulle geëet het.+ Toe Joab die geluid van die horing hoor, het hy gevra: “Hoekom is daar soveel geraas in die stad?” 42 Terwyl hy nog gepraat het, het Joʹnatan,+ die seun van die priester Abjaʹtar, daar aangekom. Toe het Adoʹnia gesê: “Kom in, want jy is ’n goeie man, en jy bring seker goeie nuus.” 43 Maar Joʹnatan het Adoʹnia geantwoord: “Nee! Ons heer koning Dawid het Salomo koning gemaak. 44 Die koning het die priester Sadok, die profeet Natan, Benaʹja, die seun van Jojaʹda, en die Keretiete en die Peletiete saam met hom gestuur, en hulle het hom op die koning se muil laat ry.+ 45 Toe het die priester Sadok en die profeet Natan hom in Gihon as koning gesalf. Daarna het hulle met vreugde teruggekeer, en nou is daar ’n groot lawaai in die stad. Dít was die geraas wat julle gehoor het. 46 Salomo het selfs op die koninklike troon gaan sit. 47 En die knegte van die koning het na ons heer koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God die naam van Salomo groter maak as u naam, en mag Hy sy troon groter maak as u troon!’ Toe het die koning op sy bed voor God neergebuig. 48 Die koning het ook gesê: ‘Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat my vandag iemand gegee het om op my troon te sit en wat my dit met my eie oë laat sien het!’”
49 En almal wat deur Adoʹnia genooi is, het baie bang geword, en elkeen het opgestaan en sy eie pad gegaan. 50 Adoʹnia was ook bang vir Salomo, en daarom het hy opgestaan en aan die horings van die altaar+ gaan vashou. 51 Salomo het die volgende boodskap ontvang: “Adoʹnia het bang geword vir koning Salomo, en hy het die horings van die altaar vasgegryp en gesê: ‘Koning Salomo moet eers vir my sweer dat hy sy kneg nie met die swaard sal doodmaak nie.’” 52 Salomo het toe gesê: “As hy reg optree, sal daar nie eers ’n enkele haar van sy kop op die grond val nie, maar as iets slegs in hom gevind word,+ dan sal hy moet sterf.” 53 Koning Salomo het hom toe van die altaar af laat kom. Toe het hy ingekom en voor koning Salomo neergebuig, en daarna het Salomo vir hom gesê: “Gaan na jou huis toe.”
2 Toe Dawid op sterwe gelê het, het hy vir sy seun Salomo die volgende instruksies gegee: 2 “Ek het nie meer lank om te lewe nie. Daarom moet jy sterk wees+ en wys dat jy ’n man is.+ 3 Jy moet jou verpligting teenoor Jehovah jou God nakom deur sy weë te volg en deur sy wetsbepalings, sy gebooie, sy oordele en sy herinneringe te gehoorsaam soos dit in die Wet van Moses geskryf is.+ Dan sal jy suksesvol wees* oral waar jy gaan en in alles wat jy doen. 4 En Jehovah sal sy belofte hou wat hy aan my gemaak het: ‘As jou seuns seker maak dat hulle my weg getrou volg met hulle hele hart en siel,*+ sal daar altyd ’n man van jou geslagslyn wees wat op die troon van Israel sit.’+
5 “Jy weet ook goed wat Joab, die seun van Seruʹja, aan my gedoen het deur wat hy met twee hoofde van die leërmag van Israel gedoen het – Abner,+ die seun van Ner, en Amaʹsa,+ die seun van Jeter. Hy het hulle doodgemaak en oorlogsbloed in ’n tyd van vrede laat vloei.+ En hy het die lyfband om sy heupe en die sandale aan sy voete met oorlogsbloed bevlek. 6 Doen wat jy dink wys is, en moenie toelaat dat sy grys hare in vrede na die Graf* afgaan nie.+
7 “Maar betoon lojale liefde aan die seuns van Barsilʹlai,+ die Gileadiet. Gee vir hulle ’n plek by dié wat aan jou tafel eet, want hulle het my bygestaan+ toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.+
8 “Dan is daar Siʹmeï, die seun van Gera, die Benjaminiet uit Bahuʹrim. Hy het ’n vreeslike vloek oor my uitgespreek+ op die dag toe ek na Mahanaʹim+ gegaan het, maar toe hy my by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek vir hom by Jehovah gesweer en gesê: ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’+ 9 Moet hom nie ongestraf laat bly nie,+ want jy is ’n wyse man en jy weet wat jy met hom moet doen. Jy moet sy grys hare met bloed na die Graf* laat afgaan.”+
10 Dawid het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid+ begrawe. 11 Dawid het 40 jaar lank oor Israel regeer. Hy het 7 jaar lank in Heʹbron+ regeer, en hy het 33 jaar lank in Jerusalem regeer.+
12 Salomo het toe op die troon van sy pa, Dawid, gaan sit, en sy koningskap het geleidelik stewig gevestig geword.+
13 Ná verloop van tyd het Adoʹnia, die seun van Haggit, na Batseʹba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het gevra: “Kom jy in vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, ek kom in vrede.” 14 Hy het toe gesê: “Ek wil iets met u bespreek.” En sy het gesê: “Praat gerus.” 15 Hy het gesê: “U weet goed dat die koningskap myne moes word, en die hele Israel het verwag dat ek koning sou word.+ Maar ek het nie die koningskap gekry nie. Dit het my broer s’n geword, want dit was Jehovah se wil dat dit syne moes word.+ 16 Maar nou is daar net een ding wat ek van u wil vra. Moet asseblief nie nee sê nie.” Toe het sy vir hom gesê: “Vra gerus.” 17 Hy het gesê: “Vra asseblief vir koning Salomo om Abiʹsag,+ die Sunammiet, aan my as vrou te gee, want hy sal nie vir u nee sê nie.” 18 Toe het Batseʹba gesê: “Goed! Ek sal vir die koning gaan vra.”
19 Batseʹba het na koning Salomo gegaan om met hom te praat oor Adoʹnia se versoek. Die koning het dadelik opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar neergebuig. Toe het hy op sy troon gaan sit en vir sy ma ’n troon laat haal, sodat sy aan sy regterkant kon sit. 20 Sy het toe gesê: “Daar is iets kleins wat ek van jou wil vra. Moet asseblief nie nee sê nie.” En die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, Ma, want ek sal nie nee sê nie.” 21 Sy het gesê: “Laat Abiʹsag, die Sunammiet, aan jou broer Adoʹnia as vrou gegee word.” 22 Toe het koning Salomo haar geantwoord: “Hoekom vra Ma dat Abiʹsag, die Sunammiet, aan Adoʹnia gegee word? Ma kan net sowel vra dat die koningskap aan hom gegee word,+ want hy is my ouer broer,+ en die priester Abjaʹtar en Joab,+ die seun van Seruʹja,+ ondersteun hom.”
23 Toe het koning Salomo by Jehovah gesweer en gesê: “Mag God my swaar straf* as Adoʹnia nie sy lewe verloor omdat hy my dit gevra het nie. 24 En nou, so waar as wat Jehovah lewe, wat my op die troon van my pa, Dawid, laat sit het en wat my koningskap stewig gevestig het+ en ’n koningshuis aan my gegee het,+ soos hy belowe het, vandag sal Adoʹnia doodgemaak word.”+ 25 Koning Salomo het Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, onmiddellik gestuur, en Benaʹja het Adoʹnia doodgemaak.*
26 Die koning het vir die priester Abjaʹtar+ gesê: “Gaan na jou grond in Aʹnatot!+ Jy verdien die dood, maar ek sal jou nie vandag doodmaak nie omdat jy die Ark van die Soewereine Heer Jehovah voor my pa, Dawid, gedra het+ en omdat jy al my pa se moeilike tye saam met hom deurgemaak het.”+ 27 So het Salomo Abjaʹtar uitgedryf en sy diens as ’n priester van Jehovah beëindig, om Jehovah se woord te vervul teen die huis van Eli+ in Silo.+
28 Toe Joab die nuus hoor, het hy na die tent van Jehovah gevlug+ en die horings van die altaar vasgegryp (want Joab het Adoʹnia ondersteun,+ hoewel hy Absalom nie ondersteun het nie).+ 29 Daar is toe vir koning Salomo gesê: “Joab het na die tent van Jehovah gevlug, en hy staan langs die altaar.” Daarna het Salomo Benaʹja, die seun van Jojaʹda, gestuur en gesê: “Gaan, maak hom dood!” 30 Benaʹja het na die tent van Jehovah gegaan en vir Joab gesê: “Dít is wat die koning sê: ‘Kom uit!’” Maar hy het gesê: “Nee! Ek sal hier sterf.” Benaʹja het toe vir die koning gaan sê wat Joab gesê het. 31 En die koning het vir hom gesê: “Doen net soos hy gesê het. Maak hom dood en begrawe hom en verwyder van my en van die huis van my vader die bloed van die mense wat Joab sonder rede doodgemaak het.+ 32 Jehovah sal hom terugbetaal* omdat hy twee manne wat regverdiger en beter as hy was, aangeval en met die swaard doodgemaak het sonder dat my pa, Dawid, daarvan geweet het, naamlik: Abner,+ die seun van Ner, die hoof van die leërmag van Israel,+ en Amaʹsa,+ die seun van Jeter, die hoof van die leërmag van Juda.+ 33 Joab en sy nageslag sal vir ewig vir hulle dood* verantwoordelik gehou word.+ Maar mag daar vir Dawid, sy nageslag, sy huis en sy troon vir ewig vrede van Jehovah af wees.” 34 Toe het Benaʹja, die seun van Jojaʹda, vir Joab gaan doodmaak, en hy is by sy huis in die wildernis begrawe. 35 Toe het die koning Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, in sy plek oor die leërmag aangestel, en die koning het die priester Sadok+ in die plek van Abjaʹtar aangestel.
36 Daarna het die koning Siʹmeï+ laat roep en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis in Jerusalem, en gaan woon daar. Moenie die stad verlaat om na enige ander plek te gaan nie. 37 Die dag dat jy uitgaan en deur die Kidron-vallei+ gaan, sal jy sekerlik sterf. Jy sal vir jou eie dood verantwoordelik wees.”* 38 Siʹmeï het vir die koning gesê: “Wat u gesê het, is redelik. U kneg sal doen net soos my heer die koning gesê het.” Siʹmeï het toe ’n hele tyd lank in Jerusalem gebly.
39 Maar drie jaar later het twee van Siʹmeï se slawe weggeloop na Agis,+ die seun van Maʹäga, die koning van Gat. Toe Siʹmeï hoor dat sy slawe in Gat is, 40 het hy sy donkie dadelik opgesaal en na Agis in Gat gegaan om na sy slawe te gaan soek. Toe Siʹmeï met sy slawe van Gat af terugkeer, 41 is daar vir Salomo gesê: “Siʹmeï het uit Jerusalem na Gat gegaan, en hy is nou weer terug.” 42 Toe het die koning Siʹmeï laat roep en vir hom gesê: “Ek het jou voor Jehovah onder ’n eed geplaas en jou gewaarsku deur te sê: ‘Jy moet weet dat jy sal sterf as jy hier uitgaan en na enige ander plek gaan.’ En jy het vir my gesê: ‘Wat u gesê het, is redelik. Ek sal dit doen.’+ 43 Hoekom het jy dan nie die eed van Jehovah gehou en my bevel gehoorsaam nie?” 44 Die koning het toe vir Siʹmeï gesê: “Jy weet in jou hart wat jy alles aan my pa, Dawid, gedoen het,+ en Jehovah sal jou daarvoor terugbetaal.+ 45 Maar koning Salomo sal geseënd wees,+ en die troon van Dawid sal vir ewig stewig gevestig wees voor Jehovah.” 46 Die koning het toe vir Benaʹja, die seun van Jojaʹda, ’n bevel gegee, en hy het Siʹmeï gaan doodmaak.+
So is die koninkryk stewig gevestig in die hand van Salomo.+
3 Salomo het ’n huweliksverbintenis met Farao, die koning van Egipte, aangegaan. Hy het met Farao se dogter getrou+ en haar na die Stad van Dawid+ gebring en haar daar laat woon totdat hy sy eie huis+ en die huis van Jehovah+ en die muur rondom Jerusalem+ klaar gebou het. 2 Die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes gebring,+ want daar was nog nie ’n huis vir die naam van Jehovah gebou nie.+ 3 Salomo het gewys dat hy lief is vir Jehovah deur die wetsbepalings van sy pa, Dawid, te volg, maar hy het op die offerhoogtes offerandes gebring en offers laat rook.+
4 Die koning het na Giʹbeon gegaan om daar offerandes te bring, want dit is waar die belangrikste* offerhoogte was.+ Salomo het 1 000 brandoffers op daardie altaar geoffer.+ 5 In Giʹbeon het Jehovah in die nag in ’n droom aan Salomo verskyn, en God het gevra: “Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?”+ 6 Toe het Salomo gesê: “U het groot lojale liefde aan u kneg Dawid, my pa, betoon omdat hy u met getrouheid, regverdigheid en ’n opregte hart gedien het. U betoon nog steeds hierdie groot lojale liefde aan hom deurdat u hom ’n seun gegee het om op sy troon te sit.+ 7 En nou, Jehovah my God, het u u kneg koning gemaak in die plek van my pa, Dawid, hoewel ek nog jonk* en onervare is.*+ 8 U kneg regeer oor u volk wat u uitgekies het,+ ’n volk wat so groot is dat hulle nie getel kan word nie. 9 Gee dus vir u kneg ’n gehoorsame hart om as regter vir u volk op te tree+ en om te onderskei tussen wat goed en wat sleg is,+ want wie kan as regter optree vir u groot* volk?”
10 Dit het Jehovah bly gemaak dat Salomo dit gevra het.+ 11 God het toe vir hom gesê: “Omdat jy nie vir ’n lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande gevra het nie, maar eerder vir insig om regsake te verhoor,+ 12 sal ek jou gee waarvoor jy gevra het.+ Ek sal jou ’n wyse en verstandige hart gee+ soos niemand voor jou gehad het of ná jou sal hê nie.+ 13 Ek sal ook vir jou dinge gee waarvoor jy nie gevra het nie.+ Ek sal jou soveel rykdom sowel as heerlikheid gee+ dat daar in jou leeftyd geen koning sal wees wat met jou vergelyk kan word nie.+ 14 En as jy my weë volg deur my wetsvoorskrifte en my gebooie te onderhou, net soos jou pa, Dawid, gedoen het,+ sal ek ook vir jou ’n lang lewe gee.”+
15 Toe Salomo wakker word, het hy besef dat dit ’n droom was. Hy het toe na Jerusalem gegaan en voor die ark van die verbond van Jehovah gaan staan en brandoffers en vrede-offers*+ geoffer en vir al sy knegte ’n feesmaal gehou.
16 In daardie tyd het twee prostitute na die koning toe gegaan en voor hom gaan staan. 17 Die eerste vrou het gesê: “My heer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het geboorte gegee terwyl sy in die huis was. 18 Drie dae nadat ek geboorte gegee het, het hierdie vrou ook geboorte gegee. Ons twee was alleen. Daar was niemand anders by ons in die huis nie. 19 Gedurende die nag het hierdie vrou se seun gesterf omdat sy op hom gelê het. 20 Toe het sy in die middel van die nag opgestaan terwyl u slavin geslaap het en my seun langs my weggeneem en hom langs haar gesit, en sy het haar dooie seun langs my gesit. 21 Toe ek die oggend opstaan om my seun te borsvoed, het ek gesien dat hy dood is. Maar toe ek mooi na hom kyk, het ek gesien dat dit nie my seun is aan wie ek geboorte gegee het nie.” 22 Die ander vrou het gesê: “Nee, die lewende een is my seun en die dooie een is jou seun!” Maar die eerste vrou het die hele tyd gesê: “Nee, die dooie een is jou seun en die lewende een is my seun.” Dit is hoe hulle voor die koning gestry het.
23 Uiteindelik het die koning gesê: “Die een sê: ‘Die lewende seun is myne en die dooie seun is joune!’ en die ander een sê: ‘Nee, die dooie seun is joune en die lewende seun is myne!’” 24 Die koning het gesê: “Bring vir my ’n swaard.” Toe het hulle vir die koning ’n swaard gebring. 25 Die koning het toe gesê: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte aan die een vrou en die ander helfte aan die ander vrou.” 26 Maar uit liefde het die ma van die lewende seun die koning dadelik gesmeek: “Asseblief, my heer! Gee die lewende kind vir haar. Moet hom nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het die hele tyd gesê: “Hy sal nie myne of joune wees nie. Laat hulle hom in twee sny!” 27 Die koning het toe geantwoord: “Gee die lewende kind vir die eerste vrou! Moet hom nie doodmaak nie, want sy is sy ma.”
28 Die hele Israel het gehoor wat die koning besluit het in verband met hierdie saak, en hulle het groot respek* vir die koning gekry,+ want hulle het gesien dat hy wysheid van God ontvang het om regverdig te oordeel.+
4 Koning Salomo het oor die hele Israel regeer.+ 2 Dít was sy hoë amptenare: Asarʹja, die seun van Sadok,+ was die priester; 3 Elihoʹref en Ahiʹa, die seuns van Sisa, was sekretarisse;+ Joʹsafat,+ die seun van Ahiʹlud, was die geskiedskrywer; 4 Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda, was oor die leërmag; Sadok en Abjaʹtar+ was priesters; 5 Asarʹja, die seun van Natan,+ was oor die beamptes; Sabud, die seun van Natan, was ’n priester en een van die koning se vriende;+ 6 Ahiʹsar was oor die huishouding, en Adoniʹram,+ die seun van Abda, was oor die mense wat opgeroep is om vir die koning te werk.+
7 Salomo het 12 beamptes oor die hele Israel gehad, en hulle het die koning en sy huishouding van kos voorsien. Elkeen het die verantwoordelikheid gehad om kos vir een maand van die jaar te voorsien.+ 8 Dít was hulle name: Die seun van Hur, oor die bergstreek van Eʹfraim; 9 die seun van Deker, oor Makas, Saʹälbim,+ Bet-Semes en Elon-Bet-Hanan; 10 die seun van Hesed, oor Arubʹbot (hy het Sogo en die hele land Hefer gehad); 11 die seun van Abinaʹdab, oor al die heuwels van Dor (Salomo se dogter Tafat het sy vrou geword); 12 Baäna, die seun van Ahiʹlud, oor Taʹänag, Megidʹdo+ en die hele Bet-Sean,+ wat langs Sartan onder Jisʹreël is, van Bet-Sean af tot by Aʹbel-Mehoʹla tot by die streek van Jokʹmeam;+ 13 die seun van Geber, oor Raʹmot-Giʹlead+ (hy het die tentdorpe gehad van Jaïr,+ die seun van Manasʹse, wat in Giʹlead+ is; hy het ook die Argobstreek+ gehad, wat in Basan+ is: 60 groot stede met mure en kopergrendels); 14 Ahinaʹdab, die seun van Iddo, oor Mahanaʹim;+ 15 Ahiʹmaäs, oor Nafʹtali (hy het Basmat, ’n ander dogter van Salomo, as sy vrou geneem); 16 Baäna, die seun van Husai, oor Aser en Beʹalot; 17 Joʹsafat, die seun van Paruʹag, oor Isʹsaskar; 18 Siʹmeï,+ die seun van Ela, oor Benjamin;+ 19 Geber, die seun van Uri, oor die land Giʹlead,+ die land van Sihon,+ die koning van die Amoriete, en van Og,+ die koning van Basan. Daar was ook een beampte oor al die ander beamptes in die land.
20 Juda en Israel was so baie soos die sandkorrels wat by die see is.+ Hulle het geëet en gedrink en hulle was vreugdevol.+
21 Salomo het regeer oor al die koninkryke van die Rivier*+ af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte. Hulle het skatting* betaal en het Salomo al die dae van sy lewe gedien.+
22 Salomo se kos vir elke dag was 30 kor* fynmeel en 60 kor meel, 23 10 vetgemaakte beeste en 20 veldbeeste en 100 skape, buiten ’n paar takbokke, wildsbokke,* reebokke en vetgemaakte koekoeke. 24 Hy het beheer gehad oor alles aan hierdie kant van die Rivier,*+ van Tifsag af tot by Gasa,+ insluitende al die konings aan hierdie kant van die Rivier, en daar was vrede in al die streke om hom.+ 25 Juda en Israel het in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseʹba, al die dae van Salomo.
26 En Salomo het 4 000* stalle gehad vir die perde wat sy strydwaens trek, en hy het 12 000 perde* gehad.+
27 Hierdie beamptes het kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat aan koning Salomo se tafel geëet het. Elkeen was verantwoordelik vir sy maand en het gesorg dat daar niks kortkom nie.+ 28 Hulle het ook gars en strooi gebring vir die perde en vir die spanne perde waar dit ook al nodig was, volgens die hoeveelheid wat elkeen moes bring.
29 En God het Salomo baie wysheid en verstand gegee, en soveel insig* as wat daar sandkorrels op die strand is.+ 30 Salomo se wysheid het die wysheid van al die mense van die Ooste en van Egipte oortref.+ 31 Hy was wyser as enige ander mens, wyser as Etan,+ die Esrahiet, en Heman,+ Kalkol+ en Darda, die seuns van Mahol, en sy roem het onder al die omliggende nasies versprei.+ 32 Hy het 3 000 spreuke+ en 1 005 liedere+ geskryf.* 33 Hy het oor die bome gepraat, van die sederboom in die Liʹbanon-berge tot die hisop+ wat uit die muur groei. Hy het ook oor die diere,+ die voëls,*+ die kruipende diere*+ en die visse gepraat. 34 Mense van alle nasies het gekom om Salomo se wysheid te hoor, insluitende konings van regoor die aarde wat van sy wysheid gehoor het.+
5 Toe Hiram, die koning van Tirus,+ gehoor het dat Salomo in die plek van sy pa as koning gesalf is, het hy sy knegte na Salomo gestuur, want Hiram was altyd ’n vriend van Dawid.*+ 2 Salomo het toe die volgende boodskap aan Hiram gestuur:+ 3 “U weet goed dat my pa, Dawid, nie ’n huis vir die naam van Jehovah sy God kon bou nie, omdat daar van alle kante teen hom oorlog gevoer is totdat Jehovah hom die oorwinning oor sy vyande gegee het.*+ 4 Maar nou het Jehovah my God my rus van al my vyande gegee.+ Daar is niemand wat my teëstaan nie, en daar is geen gevaar nie.+ 5 Ek is dus van plan om ’n huis vir die naam van Jehovah my God te bou, net soos Jehovah aan my pa, Dawid, belowe het toe hy gesê het: ‘Jou seun wat ek in jou plek op jou troon sal sit, sal die huis vir my naam bou.’+ 6 Beveel dan nou u knegte om vir my sederbome uit die Liʹbanon-berge+ af te kap. My knegte sal saam met u knegte werk, en ek sal u knegte betaal wat u vra, want u weet goed dat nie een van ons weet hoe om bome af te kap soos die Sidoniërs nie.”+
7 Toe Hiram die woorde van Salomo hoor, het hy baie bly geword en gesê: “Mag Jehovah vandag geloof word, want hy het vir Dawid ’n wyse seun gegee om oor hierdie groot volk te regeer!”+ 8 Hiram het die volgende boodskap aan Salomo gestuur: “Ek het die boodskap ontvang wat u aan my gestuur het. Ek sal die sederhout en jenewerhout+ voorsien, net soos u gevra het. 9 My knegte sal dit van die Liʹbanon-berge na die see toe bring, en ek sal die hout saambind en dit vir u as vlotte oor die see stuur tot by die plek waar u vir my sê dit moet gaan. Ek sal dit daar uitmekaar laat haal, en u kan dit wegneem. In ruil daarvoor sal u die kos voorsien wat ek vir my huishouding aanvra.”+
10 So het Hiram al die sederhout en jenewerhout voorsien wat Salomo wou hê. 11 En Salomo het Hiram 20 000 kor* koring as voedselvoorraad vir sy huishouding gegee en 20 kor olyfolie van baie goeie gehalte.* Dit is wat Salomo Hiram jaar ná jaar gegee het.+ 12 En Jehovah het Salomo wysheid gegee, net soos Hy hom belowe het.+ En daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het ’n ooreenkoms* gemaak.
13 Koning Salomo het mans uit die hele Israel opgeroep om vir hom te werk, altesaam 30 000.+ 14 Hy het hulle in groepe van 10 000 per maand na die Liʹbanon-berge gestuur. Hulle het ’n maand lank in die Liʹbanon-berge gebly en twee maande by hulle huis. En Adoniʹram+ was oor die mans wat opgeroep is om vir die koning te werk. 15 Salomo het 70 000 arbeiders* en 80 000 klipkappers+ in die berge gehad,+ 16 sowel as Salomo se 3 300 beamptes+ wat as voormanne oor die werkers toesig gehou het. 17 Op die koning se bevel het hulle groot, duur klippe+ uitgekap sodat hulle die fondament+ van die huis met gekapte klippe+ kon lê. 18 Salomo se bouers en Hiram se bouers en die Gebaliete+ het dus die kapwerk gedoen, en hulle het die hout en die klippe voorberei om die huis te bou.
6 In die 480ste jaar nadat die Israeliete uit Egipte gekom het,+ in die vierde jaar nadat Salomo koning oor Israel geword het, in die maand Sif*+ (dit wil sê die tweede maand), het hy die huis van Jehovah* begin bou.+ 2 Die huis wat koning Salomo vir Jehovah gebou het, was 60 el* lank, 20 el breed en 30 el hoog.+ 3 Die voorportaal+ van die tempel* was 20 el breed (net so breed soos die huis). Dit was tien el lank, en dit was aan die voorkant van die huis.
4 Hy het vir die huis vensters gemaak met rame wat al hoe smaller word.+ 5 Hy het ook ’n gebou teenaan die muur van die huis opgerig. Dit het om die mure van die huis, die mure van die tempel* en die binneste vertrek+ geloop, en hy het syvertrekke rondom gemaak.+ 6 Die onderste verdieping van die syvertrekke was vyf el breed, die middelste verdieping was ses el breed en die derde verdieping was sewe el breed, want reg rondom die huis het hy die mure van elke opeenvolgende verdieping dunner gemaak, sodat die balke nie aan die mure van die huis vasgeheg is nie, maar op die mure gerus het.+
7 Die huis is gebou met klip wat reeds afgewerk was,+ sodat geen hamers of byle of enige ystergereedskap in die huis gehoor is terwyl dit gebou is nie. 8 Die ingang van die onderste syvertrek was aan die suidekant* van die huis,+ en ’n spiraaltrap het opgegaan na die middelste verdieping, en van die middelste verdieping op na die derde verdieping. 9 Hy het verder aan die huis gebou en dit voltooi+ en ’n dak van sederbalke en rye sederplanke opgesit.+ 10 Hy het die syvertrekke reg rondom die huis gebou,+ wat elk vyf el hoog was en wat met sederbalke aan die huis vasgeheg was.
11 Intussen het Jehovah vir Salomo gesê: 12 “Wat hierdie huis betref wat jy bou, as jy my wetsbepalings volg, al my regterlike bevele nakom en al my gebooie gehoorsaam,+ dan sal ek ook my belofte hou wat ek aan jou pa, Dawid, gemaak het,+ 13 en ek sal by die Israeliete woon,+ en ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”+
14 Salomo het verder aan die huis gebou om dit te voltooi. 15 Hy het die binnemure van die huis met sederplanke gebou. Hy het die binnemure met houtpanele bedek, van die vloer van die huis af tot by die balke van die plafon, en hy het die vloer van die huis met jenewerplanke bedek.+ 16 En hy het met sederplanke ’n vertrek van 20 el agter in die huis gebou, van die vloer af tot by die dakbalke, en hy het die binneste vertrek,+ die Allerheiligste,+ aan die binnekant van die huis gebou. 17 En die tempel*+ – die deel van die huis aan die voorkant daarvan – was 40 el. 18 Op die sederhout aan die binnekant van die huis is kalbasse+ en blomme+ uitgekerf. Alles was van sederhout. Geen klip kon gesien word nie.
19 En hy het die binneste vertrek+ binne-in die huis gereedgemaak om die ark van die verbond van Jehovah daar te sit.+ 20 Die binneste vertrek was 20 el lank, 20 el breed en 20 el hoog,+ en hy het dit met suiwer goud oorgetrek en die altaar+ met sederhout bedek. 21 Salomo het die binnekant van die huis met suiwer goud oorgetrek,+ en hy het goue kettings voor die binneste vertrek gespan,+ wat met goud oorgetrek was. 22 Hy het die hele huis met goud oorgetrek totdat die hele huis voltooi was, en hy het ook die hele altaar wat naby die binneste vertrek was, met goud oorgetrek.+
23 In die binneste vertrek het hy twee gerubs+ van dennehout* gemaak. Elkeen was tien el hoog.+ 24 Een vlerk van die gerub was vyf el, en die ander vlerk was vyf el. Van die punt van een vlerk tot die punt van die ander vlerk was tien el. 25 Die tweede gerub was ook tien el. Die twee gerubs was ewe groot en het dieselfde vorm gehad. 26 Die een gerub was tien el hoog, en die ander gerub ook. 27 Toe het hy die gerubs+ in die binneste huis* gesit. Die vlerke van die gerubs was uitgesprei sodat die vlerk van die een gerub tot aan die een muur gestrek het en die vlerk van die ander gerub tot aan die ander muur gestrek het. Hulle vlerke was ook uitgesprei na die middel van die huis toe, en die vlerke het aan mekaar geraak. 28 En hy het die gerubs met goud oorgetrek.
29 En op al die mure van die huis reg rondom die binneste en buitenste vertrekke* het hy gerubs,+ palmbome+ en blomme+ uitgekerf. 30 Hy het die vloer van die huis in die binneste en buitenste vertrekke met goud oorgetrek. 31 En vir die ingang van die binneste vertrek het hy deure van dennehout, sypilare en deurposte as ’n vyfde deel gemaak.* 32 Die twee deure was van dennehout, en hy het gerubs, palmbome en blomme daarop uitgekerf en dit met goud oorgetrek. Hy het die gerubs en die palmbome met goud bedek. 33 Hy het die deurposte van dennehout vir die ingang van die tempel* op dieselfde manier gemaak, as ’n vierde deel.* 34 En hy het twee deure van jenewerhout gemaak. Elke deur was ’n dubbeldeur wat op spille gedraai het.+ 35 Hy het gerubs, palmbome en blomme uitgekerf en dit met bladgoud oorgetrek.
36 Hy het die binneste voorhof+ met drie rye gekapte klip en ’n ry sederbalke gebou.+
37 In die 4de jaar, in die maand Sif,* is die fondament van die huis van Jehovah gelê,+ 38 en in die 11de jaar, in die maand Bul* (dit wil sê die agtste maand), was die huis tot in die fynste besonderhede en volgens die plan voltooi.+ Hy het dus sewe jaar daaraan gebou.
7 Salomo het sy paleis gebou.+ Dit het hom 13 jaar geneem om dit te voltooi.+
2 En hy het die Huis van die Liʹbanon-woud+ gebou. Dit was 100 el* lank, 50 el breed en 30 el hoog op vier rye sederpilare, en daar was sederbalke+ op die pilare. 3 Bokant die dwarsbalke wat op die pilare gerus het, was die huis met panele van sederhout bedek. Daar was 45, met 15 in ’n ry. 4 Daar was drie rye vensters met rame. Elke venster was oorkant ’n ander venster, op drie verdiepings. 5 Al die ingange en die deurposte het vierkantige* rame gehad, net soos die voorkante van die vensters wat oorkant mekaar op die drie verdiepings was.
6 En hy het die Pilaarsaal* gebou. Dit was 50 el lank en 30 el breed, en aan die voorkant daarvan was daar ’n portaal met pilare en ’n afdak.
7 Hy het ook die Troonsaal*+ gebou, die Regsaal,+ waar hy regsake sou verhoor. En hulle het dit van die vloer tot die dakbalke met panele van sederhout bedek.
8 Die paleis* waarin hy sou woon, in die ander voorhof,+ was ’n entjie agter die Saal* en is op dieselfde manier gebou. Hy het ook vir Farao se dogter, wat Salomo as vrou geneem het, ’n huis gebou+ wat soortgelyk was aan hierdie Saal.
9 Dit alles, van die fondament af tot by die boonste laag stene, en alles buitekant tot by die groot voorhof,+ was van duur klippe+ gemaak wat volgens die regte grootte gekap en aan alle kante met klipsae gesaag is. 10 En die fondament is met baie groot, duur klippe gelê. Sommige klippe was tien el lank en ander klippe was agt el lank. 11 En bo-op was daar duur klippe wat volgens die regte grootte gekap is, sowel as sederhout. 12 Rondom die groot voorhof was daar drie rye gekapte klip en ’n ry sederbalke soos dié vir die binneste voorhof+ van die huis van Jehovah en die portaal van die huis.+
13 Koning Salomo het Hiram+ laat roep en hom uit Tirus gebring. 14 Hy was die seun van ’n weduwee uit die stam van Nafʹtali, en sy pa was ’n kopersmid van Tirus.+ En hy het groot vaardigheid, kennis+ en ondervinding gehad om enige soort werk met koper* te doen. Hy het na koning Salomo toe gekom en al sy werk gedoen.
15 Hy het die twee koperpilare gegiet.+ Elke pilaar was 18 el hoog, en elkeen van die twee pilare+ was 12 el in omtrek.* 16 En hy het twee kopstukke van koper gegiet om bo-op die pilare te sit. Die een kopstuk was vyf el hoog, en die ander kopstuk was vyf el hoog. 17 Die kopstuk bo-op elke pilaar het netwerke van gedraaide kettingwerk+ gehad; sewe vir die een kopstuk en sewe vir die ander kopstuk. 18 En hy het twee rye granate om die een netwerk gemaak om die kopstukke te bedek wat bo-op die pilare was. Hy het dieselfde vir albei kopstukke gedoen. 19 En die kopstukke wat bo-op die pilare by die portaal was, het ’n leliepatroon gehad wat vier el hoog was. 20 Hierdie deel van die kopstukke was bo-op die twee pilare net bokant die ronde deel met die netwerke, en daar was 200 granate in rye rondom elke kopstuk.+
21 Hy het die pilare van die portaal van die tempel*+ opgerig. Hy het die regterpilaar* opgerig en dit Jagin* genoem, en toe het hy die linkerpilaar* opgerig en dit Boas* genoem.+ 22 En die bokant van die pilare het ’n leliepatroon gehad. En die werk aan die pilare is voltooi.
23 Toe het hy die See* van gegote metaal+ gemaak. Dit was rond, 10 el van die een rand tot by die ander rand, 5 el hoog en 30 el in omtrek.*+ 24 En daar was kalbasvormige versierings+ onder die rand, tien per el reg rondom die See. Daar was twee rye kalbasse wat saam met die See as een stuk gegiet is. 25 Dit het op 12 bulle+ gestaan: 3 het noord gekyk, 3 het wes gekyk, 3 het suid gekyk en 3 het oos gekyk. Die See het op hulle gerus, en hulle agterkante was na die middel toe. 26 Die dikte daarvan was ’n handbreedte,* en die rand was soos die rand van ’n beker gemaak en het soos ’n lelie gelyk. Dit het 2 000 bat* gehou.
27 Toe het hy tien koperwaentjies*+ gemaak. Elke waentjie was vier el lank, vier el breed en drie el hoog. 28 Dít is hoe die waentjies gemaak is: Hulle het sypanele gehad, en die sypanele was tussen die dwarsbalke. 29 Op die sypanele tussen die dwarsbalke was daar leeus,+ bulle en gerubs,+ en dieselfde patroon was op die dwarsbalke. Bo en onder die leeus en die bulle was daar kranse uitgebeeld.* 30 Elke waentjie het vier koperwiele met koperasse gehad, en vier hoekstukke het as ondersteuning daarvoor gedien. Onder die kom was die staanders, wat gegiet is met kranse aan elke kant. 31 Die opening van die kom was binne die kroon, en dit was een el hoog. Die opening van die kroon was rond, en saam met die staanders was dit een en ’n half el hoog, en daar was graverings op die kroon. Die sypanele daarvan was vierkantig, nie rond nie. 32 Die vier wiele was onder die sypanele, en die steunpunte van die wiele was aan die waentjie vas, en die hoogte van elke wiel was een en ’n half el. 33 Die wiele is soos wawiele gemaak. Hulle steunpunte, vellings, speke en nawe is alles van gegote metaal gemaak. 34 Daar was vier stutte op die vier hoeke van elke waentjie. Die stutte is as een stuk saam met die waentjie gegiet. 35 Bo-op die waentjie was daar ’n ronde rand van ’n half el hoog, en die rame en die sypanele bo-op die waentjie is as een stuk saam met die waentjie gegiet. 36 Op die rame en die sypanele is daar gerubs, leeus en palmbome gegraveer volgens die hoeveelheid plek daarop, en daar was kranse reg rondom.+ 37 Dit is hoe hy die tien waentjies+ gemaak het. Hulle is almal op dieselfde manier gegiet+ en het dieselfde grootte en vorm gehad.
38 Hy het tien koperkomme+ gemaak. Elkeen kon 40 bat hou. Elke kom was vier el.* Daar was een kom vir elkeen van die tien waentjies. 39 Toe het hy vyf waentjies aan die regterkant van die huis en vyf aan die linkerkant van die huis gesit, en hy het die See aan die regterkant van die huis gesit, aan die suidoostekant.+
40 Hiram+ het ook die komme, die grawe+ en die bakke+ gemaak. En Hiram het al die werk voltooi wat hy vir koning Salomo aan die huis van Jehovah gedoen het:+ 41 die twee pilare+ en die bakvormige kopstukke wat bo-op die twee pilare was; die twee netwerke+ wat die twee pilare se bakvormige kopstukke bedek het; 42 die 400 granate+ vir die twee netwerke (daar was twee rye granate vir elke netwerk wat die twee pilare se bakvormige kopstukke bedek het); 43 die tien waentjies+ en die tien komme+ op die waentjies; 44 die See+ en die 12 bulle daaronder; 45 die kanne, die grawe, die bakke en al die ander voorwerpe wat Hiram van blink gevryfde koper vir koning Salomo gemaak het vir die huis van Jehovah. 46 Die koning het dit in kleivorms gegiet in die Jordaandistrik, tussen Sukkot en Sartan.
47 Salomo het nie die voorwerpe geweeg nie, want daar was te veel. Die gewig van die koper is nie bepaal nie.+ 48 Salomo het al die voorwerpe vir die huis van Jehovah gemaak: die goue altaar,+ die goue tafel+ waarop die offerbrode gesit sou word, 49 die lampstaanders+ van suiwer goud, vyf regs en vyf links voor die binneste vertrek, die bloeisels,+ die lampe en die snuiters* (van goud),+ 50 die komme, die blussers,+ die bakke, die bekers+ en die vuurbakke+ (van suiwer goud), die spilgate van goud vir die deure van die binneste huis,+ dit wil sê die Allerheiligste, en die deure van die huis van die tempel,+ wat met goud oorgetrek is.
51 Koning Salomo het al die werk voltooi wat hy vir die huis van Jehovah moes doen. Daarna het Salomo die dinge ingebring wat sy pa, Dawid, geheilig het,+ en hy het die silwer, die goud en die voorwerpe in die skatkamers van die huis van Jehovah gesit.+
8 Salomo het in daardie tyd die ouermanne van Israel, al die stamhoofde en die hoofmanne van die vaderhuise van Israel+ bymekaargeroep.+ Hulle het na koning Salomo in Jerusalem gegaan om die ark van die verbond van Jehovah uit die Stad van Dawid,+ dit wil sê Sion,+ te bring. 2 Al die manne van Israel het in die maand Eʹtanim,* dit wil sê die sewende maand, tydens die fees*+ voor koning Salomo bymekaargekom. 3 Toe al die ouermanne van Israel daar was, het die priesters die Ark opgetel.+ 4 Hulle het die Ark van Jehovah gedra, sowel as die tent van samekoms+ en al die heilige voorwerpe wat in die tent was. Die priesters en die Leviete het dit gedra. 5 Koning Salomo en almal van Israel wat beveel is om na hom toe te kom, was voor die Ark. Daar is soveel skape en beeste geoffer+ dat hulle nie getel kon word nie.
6 Toe het die priesters die ark van die verbond van Jehovah gebring na sy plek+ in die binneste vertrek van die huis, die Allerheiligste, en dit onder die vlerke van die gerubs+ gesit.
7 Die vlerke van die gerubs was oor die plek van die Ark uitgesprei. Die Ark en sy pale was dus onder die vlerke van die gerubs.+ 8 Die pale+ was so lank dat die punte van die pale gesien kon word vanuit die Heilige, voor die binneste vertrek, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. En hulle is tot vandag toe daar. 9 Daar was niks in die Ark nie behalwe die twee kliptablette+ wat Moses by Horeb daarin gesit+ het toe Jehovah met die Israeliete ’n verbond gemaak+ het terwyl hulle uit Egipte getrek het.+
10 Toe die priesters uit die heiligdom uitkom, het die wolk+ die huis van Jehovah gevul.+ 11 En as gevolg van die wolk kon die priesters nie hulle diens verrig nie, want die heerlikheid van Jehovah het die huis van Jehovah gevul.+ 12 Toe het Salomo gesê: “Jehovah, u het gesê dat u in digte, donker wolke sou woon.+ 13 Ek het ’n glorieryke huis vir u gebou, ’n vaste plek waar u vir ewig kan woon.”+
14 Toe het die koning omgedraai en gekyk na al die Israeliete wat daar gestaan het, en hy het hulle geseën.+ 15 Hy het gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, die Een wat vervul het wat hy met sy eie mond aan my pa, Dawid, belowe het toe hy gesê het: 16 ‘Van die dag af dat ek my volk Israel uit Egipte uitgelei het, het ek nooit uit die stamme van Israel ’n stad gekies waarin ’n huis gebou moet word waar my naam geëer sou word nie.+ Maar ek het Dawid gekies om oor my volk Israel te wees.’ 17 En dit was my pa, Dawid, se hartsbegeerte om ’n huis vir die naam van Jehovah, die God van Israel, te bou.+ 18 Maar Jehovah het vir my pa, Dawid, gesê: ‘Dit is jou hartsbegeerte om ’n huis vir my naam te bou, en dit is goed dat jy dit wil doen. 19 Maar jy sal nie die huis bou nie. Jou seun wat vir jou gebore sal word, is die een wat die huis vir my naam sal bou.’+ 20 Jehovah het sy belofte gehou, want ek het my pa, Dawid, opgevolg en ek sit op die troon van Israel, net soos Jehovah belowe het. En ek het die huis vir die naam van Jehovah, die God van Israel, gebou,+ 21 en ek het ’n plek daar ingerig vir die Ark waarin die verbond van Jehovah is+ wat hy met ons voorvaders gemaak het toe hy hulle uit Egipte uitgelei het.”
22 Toe het Salomo voor die altaar van Jehovah en voor die hele gemeente van Israel gaan staan, sy hande na die hemel uitgestrek+ 23 en gesê: “O Jehovah, die God van Israel, daar is geen God soos u+ bo in die hemel of onder op die aarde nie, wat die verbond hou en lojale liefde betoon+ aan u knegte wat u met hulle hele hart dien.+ 24 U het u belofte aan my pa, u kneg Dawid, gehou. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het u dit nagekom.+ 25 En nou, o Jehovah, die God van Israel, hou die belofte wat u aan my pa, u kneg Dawid, gemaak het toe u gesê het: ‘Daar sal altyd voor my ’n man van jou geslagslyn wees wat op die troon van Israel sit, solank jou seuns seker maak dat hulle my weg volg, net soos jy gedoen het.’+ 26 En nou, o God van Israel, vervul asseblief die belofte wat u aan my pa, u kneg Dawid, gemaak het.
27 “Maar sal God werklik op die aarde woon?+ Die hemel, selfs die hoogste hemele, kan u nie bevat nie.+ Wat nog te sê hierdie huis wat ek gebou het!+ 28 Skenk asseblief aandag aan die gebed van u kneg en aan my versoek om goedkeuring, o Jehovah my God, en luister na die geroep om hulp en na die gebed wat u kneg vandag tot u rig. 29 Hou asseblief dag en nag ’n wakende oog oor hierdie huis waarvan u gesê het: ‘My naam sal daar wees,’+ en luister na die gebed wat u kneg in die rigting van hierdie plek bid.+ 30 En luister na u kneg se versoek om goedkeuring en na die versoek van u volk Israel wat hulle in die rigting van hierdie plek bid, en mag u vanuit u woonplek in die hemel+ hoor. Mag u hoor en vergewe.+
31 “Wanneer ’n man teen sy medemens sondig en verplig is om ’n eed af te lê* en hy onder die eed kom en hy voor u altaar in hierdie huis kom terwyl hy onder die eed is,+ 32 mag u dan vanuit die hemel hoor en optree en u knegte oordeel deur die goddelose skuldig* te verklaar en hom te straf vir wat hy gedoen het en deur die regverdige onskuldig* te verklaar en hom te beloon vir sy regverdigheid.+
33 “Wanneer u volk Israel deur hulle vyande verslaan word omdat hulle aangehou het om teen u te sondig+ en hulle dan na u terugkeer en u naam verheerlik+ en tot u bid en u om genade smeek in hierdie huis,+ 34 mag u dan vanuit die hemel hoor. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en bring hulle terug na die land wat u aan hulle voorvaders gegee het.+
35 “Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie+ omdat hulle aangehou het om teen u te sondig+ en hulle dan in die rigting van hierdie plek bid en u naam verheerlik en ophou met hulle sonde omdat u hulle verneder* het,+ 36 mag u dan vanuit die hemel luister en die sonde vergewe van u knegte, u volk Israel. Leer hulle+ wat die goeie weg is wat hulle moet volg, en laat dit asseblief reën op u land+ wat u aan u volk as ’n erfdeel gegee het.
37 “As daar hongersnood in die land ontstaan+ of as ’n vreeslike siekte, verskroeiende wind, ’n swamsiekte+ of swerms sprinkane die land tref; of as hulle vyande hulle in enige van die stede van die land aanval of as enige ander soort plaag of siekte uitbreek,+ 38 en enigiemand of u hele volk Israel ’n gebed of versoek om genade+ tot u rig, wat dit ook al mag wees (want elkeen weet watter pyn in sy hart is),+ en hulle hulle hande in die rigting van hierdie huis uitstrek, 39 mag u dan hoor vanuit die hemel, u woonplek.+ En mag u vergewe+ en optree en elkeen beloon volgens wat hy verdien,+ want u ken elkeen se hart (net u ken werklik die hart van elke mens).+ 40 Dan sal hulle u vrees solank as wat hulle in die land woon wat u aan ons voorvaders gegee het.
41 “En wat die uitlander betref wat nie deel is van u volk Israel nie en wat weens u naam* uit ’n ver land kom+ 42 (want hulle sal hoor van u groot naam+ en u magtige hand en u uitgestrekte arm) en wat in die rigting van hierdie huis bid, 43 mag u luister vanuit die hemel, u woonplek.+ En mag u alles doen wat die uitlander u vra, sodat al die volke van die aarde u naam kan ken en u kan vrees,+ net soos u volk Israel, en sodat hulle kan weet dat u naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.
44 “As u u volk stuur om oorlog te maak teen hulle vyande, waar dit ook al mag wees,+ en hulle tot Jehovah bid+ in die rigting van die stad wat u uitgekies het+ en in die rigting van die huis wat ek vir u naam gebou het,+ 45 moet u asseblief hulle gebed en hulle versoek om genade vanuit die hemel hoor en hulle help.
46 “As hulle teen u sondig (want daar is geen mens wat nie sondig nie),+ en u vir hulle woedend is en hulle aan hulle vyande oorlewer, en as hulle vyande hulle as gevangenes wegneem na die land van hulle vyande, hetsy ver of naby,+ 47 en hulle dan tot besinning kom in die land waarheen hulle as gevangenes weggeneem is+ en hulle na u terugkeer+ en u om genade smeek in die land van hulle vyande+ en sê: ‘Ons het gesondig en verkeerd gedoen, ons het goddeloos opgetree,’+ 48 en hulle met hulle hele hart en hulle hele siel* na u terugkeer+ in die land van hulle vyande wat hulle as gevangenes weggeneem het, en hulle tot u bid in die rigting van hulle land wat u aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat u uitgekies het en die huis wat ek vir u naam gebou het,+ 49 moet u asseblief hulle gebed en hulle versoek om genade hoor vanuit die hemel, u woonplek,+ en hulle help 50 en u volk vergewe wat teen u gesondig het en al hulle oortredings teen u vergewe. U sal sorg dat dié wat hulle gevange geneem het, vir hulle jammer voel, en hulle sal vir hulle jammer voel+ 51 (want hulle is u volk en u erfdeel,+ wat u uit Egipte uitgelei het,+ uit die smeltoond uit).+ 52 Mag u aandag skenk aan* die versoek om genade+ van u kneg en aan die versoek om genade van u volk Israel deur na hulle te luister wanneer hulle ook al tot u roep.*+ 53 Want u het hulle afgesonder as u erfdeel uit al die volke van die aarde,+ net soos u deur middel van u kneg Moses gesê het toe u ons voorvaders uit Egipte uitgelei het, o Soewereine Heer Jehovah.”
54 En nadat Salomo hierdie hele gebed en versoek om genade tot Jehovah gerig het, het hy voor die altaar van Jehovah opgestaan, waar hy gekniel het met sy hande na die hemel uitgestrek.+ 55 Terwyl hy gestaan het, het hy die hele gemeente van Israel met ’n harde stem geseën en gesê: 56 “Mag Jehovah geloof word, wat aan sy volk Israel ’n rusplek gegee het, net soos hy belowe het.+ Nie een woord van al sy goeie beloftes wat hy deur middel van sy kneg Moses gemaak het, het onvervuld gebly nie.+ 57 Mag Jehovah ons God met ons wees net soos hy met ons voorvaders was.+ Mag hy ons nie verlaat of in die steek laat nie.+ 58 Mag hy ons die begeerte gee om sy weë te volg+ en om sy gebooie, sy wetsvoorskrifte en sy oordele te gehoorsaam, wat hy ons voorvaders beveel het om te onderhou. 59 En mag hierdie woorde waarmee ek Jehovah om goedkeuring gesmeek het, dag en nag naby Jehovah ons God wees, sodat hy goed sal doen aan sy kneg en aan sy volk Israel volgens wat elke dag nodig is, 60 sodat al die volke van die aarde kan weet dat Jehovah die ware God is.+ Daar is geen ander nie!+ 61 Julle moet Jehovah ons God met julle hele hart dien+ en sy wetsvoorskrifte volg en sy gebooie onderhou, soos vandag die geval is.”
62 Die koning en die hele Israel het ’n groot offerande aan Jehovah gebring.+ 63 Salomo het die vrede-offers*+ vir Jehovah geoffer: Hy het 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het die koning en al die Israeliete die huis van Jehovah ingewy.+ 64 Op daardie dag moes die koning die middel van die voorhof heilig wat voor die huis van Jehovah is omdat hy die brandoffers en die graanoffers en die vetstukke van die vrede-offers* daar moes offer. Want die koperaltaar+ wat voor Jehovah is, was te klein vir die brandoffers, die graanoffers en die vetstukke+ van die vrede-offers.* 65 Toe het Salomo die fees+ voor Jehovah ons God gevier saam met die hele Israel – ’n groot skare het gekom uit die gebied wat gestrek het van Lebo-Hamat* af tot by die Vallei* van Egipte.+ Dit het 7 dae en nog 7 dae geduur, altesaam 14 dae. 66 Die volgende* dag het hy die volk weggestuur, en hulle het die koning geseën en na hulle huise toe gegaan, vreugdevol en vrolik van hart as gevolg van al Jehovah se goedheid+ teenoor sy kneg Dawid en sy volk Israel.
9 Nadat Salomo die huis van Jehovah gebou het, sowel as die paleis van die koning+ en alles wat Salomo wou bou,+ 2 het Jehovah ’n tweede keer aan Salomo verskyn, net soos hy in Giʹbeon aan hom verskyn het.+ 3 Jehovah het vir hom gesê: “Ek het jou gebed en jou versoek om goedkeuring gehoor wat jy tot my gerig het. Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my naam vir altyd daar te vestig,+ en my oë en my hart sal altyd daar wees.+ 4 En as jy my met opregtheid* van hart dien+ en reg lewe,+ net soos jou pa, Dawid,+ deur alles te doen wat ek jou beveel het,+ en as jy my wetsvoorskrifte en my oordele gehoorsaam,+ 5 dan sal ek die troon van jou koninkryk vir ewig oor Israel vestig, net soos ek jou pa, Dawid, belowe het toe ek gesê het: ‘Daar sal altyd ’n man van jou geslagslyn wees wat op die troon van Israel sit.’+ 6 Maar as jy en jou seuns ophou om my te volg en nie my gebooie en my wetsbepalings gehoorsaam wat ek aan julle gegee het nie en as julle ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig,+ 7 dan sal ek Israel verdryf uit die land wat ek aan hulle gegee het,+ en ek sal die huis verwerp+ wat ek vir my naam geheilig het, en Israel sal iets word waarop al die volke neersien* en waarmee hulle spot.+ 8 En hierdie huis sal verwoes word.+ Elkeen wat daar verbygaan, sal verbaas wees en sal fluit en vra: ‘Hoekom het Jehovah dit aan hierdie land en hierdie huis gedoen?’+ 9 Dan sal hulle sê: ‘Dit is omdat hulle Jehovah hulle God verlaat het, wat hulle voorvaders uit Egipte uitgelei het, en omdat hulle ander gode gekies en voor hulle neergebuig en hulle gedien het. Dit is hoekom Jehovah al hierdie rampspoed oor hulle gebring het.’”+
10 Salomo het die twee huise, die huis van Jehovah en die paleis van die koning, binne 20 jaar gebou.+ 11 Hiram,+ die koning van Tirus, het vir Salomo sederhout gegee, sowel as jenewerhout en soveel goud as wat hy wou hê.+ Daarna het koning Salomo vir Hiram 20 stede in die land Galileʹa gegee. 12 Hiram het dus uit Tirus vertrek om te gaan kyk hoe die stede lyk wat Salomo hom gegee het, maar hy was nie tevrede met hulle nie. 13 Hy het gevra: “Watter soort stede is dit wat jy my gegee het, my broer?” En daarom word dit tot vandag toe die land Kabul* genoem. 14 Intussen het Hiram 120 talente* goud aan die koning gestuur.+
15 Dít is die verslag oor die mense wat koning Salomo opgeroep het om vir hom te werk+ om die huis van Jehovah te bou,+ sowel as sy paleis, die Wal,*+ die muur van Jerusalem, Hasor,+ Megidʹdo+ en Geser.+ 16 (Farao, die koning van Egipte, het Geser ingeneem en dit met vuur verbrand, en hy het ook die Kanaäniete doodgemaak+ wat in die stad gewoon het. Toe het hy dit as ’n afskeidsgeskenk* aan sy dogter,+ die vrou van Salomo, gegee.) 17 Salomo het Geser en Onder-Bet-Horon+ opgebou.* 18 Hy het ook Baʹälat+ opgebou, en Tamar, wat in die wildernis in die land is, 19 sowel as al Salomo se voorraadstede, die stede vir die strydwaens+ en die stede vir die perderuiters. Salomo het al die bouwerk voltooi wat hy in Jerusalem, in die Liʹbanon en in die hele land waaroor hy regeer het, wou doen. 20 Wat al die mense betref wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete,+ wat nie deel was van Israel nie+ 21 – dit wil sê die nakomelinge van hierdie volke wat in die land oorgebly het en wat die Israeliete nie kon vernietig nie – hulle is deur Salomo opgeroep om vir hom as slawe te werk, tot vandag toe.+ 22 Maar Salomo het die Israeliete nie slawe gemaak nie,+ want hulle was sy vegters, knegte, hoë amptenare, offisiere en hoofde van sy strydwadrywers en perderuiters. 23 Daar was 550 hoofde oor die beamptes wat toesig gehou het oor die werk van Salomo. Hulle was die voormanne oor die mense wat die werk gedoen het.+
24 Farao se dogter+ het uit die Stad van Dawid+ gegaan na haar huis wat Salomo vir haar gebou het, en daarna het hy die Wal*+ gebou.
25 Salomo het drie keer per jaar+ brandoffers en vrede-offers* geoffer op die altaar wat hy vir Jehovah gebou het,+ en hy het ook offerrook op die altaar voor Jehovah laat opgaan. En hy het die huis voltooi.+
26 Koning Salomo het ook ’n vloot skepe gebou in Eʹseon-Geʹber,+ wat by Elot is, aan die kus van die Rooisee in die land Edom.+ 27 Hiram het sy eie knegte, ervare seemanne, op die vloot skepe gestuur+ om saam met die knegte van Salomo te dien. 28 Hulle het na Ofir+ gegaan en 420 talente goud daar gaan haal en dit na koning Salomo toe gebring.
10 Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se roem, wat die naam van Jehovah verheerlik het,+ en daarom het sy gegaan om hom met moeilike vrae* te toets.+ 2 Sy het in Jerusalem aangekom met ’n groot groep dienaars+ en met kamele wat balsemolie+ en baie goud en edelstene dra. Sy het na Salomo toe gegaan en hom gevra oor alles wat sy wou weet. 3 Salomo het toe al haar vrae beantwoord. Daar was niks wat vir die koning te moeilik was* en wat hy nie aan haar kon verduidelik nie.
4 Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is+ en toe sy die huis sien wat hy gebou het,+ 5 sowel as die kos van sy tafel,+ hoe sy knegte aan tafel gesit het, die bediening en kleredrag van sy tafelbediendes, sy skinkers en die brandoffers wat hy gereeld by die huis van Jehovah geoffer het, het dit haar asem weggeslaan.* 6 Sy het toe vir die koning gesê: “Die berig wat ek in my land oor u prestasies* en oor u wysheid gehoor het, is waar. 7 Maar ek het nie die berigte geglo totdat ek gekom het en alles met my eie oë gesien het nie. En hulle het my nie eers die helfte vertel nie! U wysheid en voorspoed het die berig wat ek gehoor het, ver oortref. 8 Gelukkig is u manne en gelukkig is u knegte wat heeltyd voor u staan en na u wysheid luister!+ 9 Mag Jehovah u God geloof word,+ wat lief is vir u en u op die troon van Israel geplaas het. As gevolg van Jehovah se ewige liefde vir Israel het hy u as koning aangestel om met regverdigheid te oordeel.”
10 Toe het sy vir die koning 120 talente* goud en baie balsemolie+ en edelstene+ gegee. Nooit weer is daar soveel balsemolie gebring as wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.
11 Hiram se vloot skepe wat goud uit Ofir+ gebring het, het ook baie sandelhout+ sowel as edelstene+ uit Ofir gebring. 12 Van die sandelhout het die koning stutte vir die huis van Jehovah en vir die koning se paleis gemaak, sowel as harpe en ander snaarinstrumente vir die sangers.+ Soveel sandelhout is tot vandag toe nooit weer gebring of gesien nie.
13 En koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, buiten wat hy haar uit sy eie vrygewigheid gegee het. Toe het sy saam met haar knegte na haar land teruggegaan.+
14 Salomo se jaarlikse inkomste was 666 talente goud,+ 15 buiten wat hy van die koopmanne, die handelaars, al die konings van die Arabiere en die goewerneurs van die land ontvang het.
16 Koning Salomo het 200 groot skilde van goud*+ gemaak (elke skild is met 600 sikkels* goud bedek),+ 17 asook 300 klein skilde* van goud* (elke klein skild is met drie minas* goud bedek). Toe het die koning dit in die Huis van die Liʹbanon-woud+ gesit.
18 Die koning het ook ’n groot ivoortroon+ gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.+ 19 Daar was ses trappe na die troon toe, en die troon het ’n ronde dakkie gehad. En daar was armleunings aan albei kante van die sitplek, en twee leeus+ het langs die armleunings gestaan. 20 En 12 leeus het op die ses trappe gestaan, een aan elke kant van die ses trappe. Geen ander koninkryk het so iets gehad nie.
21 Al die drinkhouers van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die Huis van die Liʹbanon-woud+ was van suiwer goud. Niks was van silwer gemaak nie. In Salomo se tyd is silwer as niks beskou nie,+ 22 want die koning het ’n vloot Tarsis-skepe+ op die see gehad saam met Hiram se vloot skepe, en die vloot Tarsis-skepe het elke drie jaar teruggekeer, gelaai met goud en silwer, ivoor,+ ape en poue.
23 Koning Salomo was ryker+ en wyser+ as al die ander konings van die aarde. 24 En mense van regoor die aarde wou Salomo besoek om die wysheid te hoor wat God in sy hart geplaas het.+ 25 Hulle het elkeen ’n geskenk gebring – silwervoorwerpe, goue voorwerpe, klere, wapens, balsemolie, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur.
26 En Salomo het al hoe meer strydwaens en perde* vir hom gekry. Hy het 1 400 strydwaens en 12 000 perde* gehad,+ en hy het hulle in die strydwastede en naby die koning in Jerusalem gehou.+
27 Die koning het die silwer in Jerusalem so volop soos die klippe gemaak, en sederhout so volop soos die wildevyebome in die Sjefeʹla.+
28 Salomo se perde is uit Egipte ingevoer, en die koning se groep koopmanne het troppe perde gekoop* teen ’n vasgestelde prys.+ 29 Elke strydwa wat uit Egipte ingevoer is, het 600 silwerstukke gekos, en ’n perd het 150 gekos. En hulle het die strydwaens en die perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete+ en die konings van Sirië.
11 Maar koning Salomo het buiten die dogter van Farao+ baie uitlandse vrouens+ liefgehad: Moabitiese,+ Ammonitiese,+ Edomitiese, Sidoniese+ en Hetitiese+ vrouens. 2 Hulle was van die nasies waarvan Jehovah vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle meng nie,* want hulle sal vir seker julle hart beïnvloed om hulle gode te volg.”+ Maar Salomo het hulle aangekleef en liefgehad. 3 Hy het 700 vrouens gehad wat prinsesse was en 300 byvrouens, en sy vrouens het sy hart geleidelik beïnvloed.* 4 Op Salomo se oudag+ het sy vrouens sy hart beïnvloed* om ander gode te volg,+ en hy het Jehovah sy God nie met sy hele hart gedien soos sy pa, Dawid, nie. 5 Salomo het Astoʹret,+ die godin van die Sidoniërs, en Milkom,+ die walglike god van die Ammoniete, gevolg. 6 En Salomo het gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah, en hy het Jehovah nie ten volle gevolg soos sy pa, Dawid, nie.+
7 Toe het Salomo op die berg voor Jerusalem ’n offerhoogte+ gebou vir Kamos, die walglike god van Moab, en vir Molog,+ die walglike god van die Ammoniete.+ 8 Dit is wat hy gedoen het vir al sy uitlandse vrouens wat vir hulle gode offerrook laat opgaan het en offerandes aan hulle geoffer het.
9 Jehovah het woedend geword vir Salomo omdat hy ontrou geword het aan* Jehovah, die God van Israel,+ wat twee keer aan hom verskyn het+ 10 en wat hom gewaarsku het dat hy nie ander gode moet volg nie.+ Maar hy was nie gehoorsaam aan Jehovah se bevel nie. 11 Jehovah het toe vir Salomo gesê: “Omdat jy dít gedoen het en jy nie gebly het by my verbond en my wetsbepalings wat ek jou gegee het nie, sal ek vir seker die koninkryk van jou af wegskeur, en ek sal dit aan een van jou knegte gee.+ 12 Maar ter wille van jou pa, Dawid, sal ek dit nie in jou leeftyd doen nie. Ek sal dit uit die hand van jou seun wegskeur,+ 13 maar ek sal nie die hele koninkryk wegskeur nie.+ Ek sal een stam aan jou seun gee,+ ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem, wat ek uitgekies het.”+
14 Jehovah het toe ’n teenstander teen Salomo laat opstaan,+ naamlik Hadad, die Edomiet, van die koninklike familie van Edom.+ 15 Toe Dawid Edom verslaan het,+ het Joab, die hoof van die leërmag, die mense gaan begrawe wat doodgemaak is, en hy het almal wat manlik is in Edom, probeer doodmaak. 16 (Want Joab en die hele Israel het ses maande lank daar gebly totdat hy almal wat manlik is in Edom, doodgemaak het.) 17 Maar Hadad het saam met ’n paar van sy pa se Edomitiese knegte gevlug, en hulle het na Egipte gegaan. Hadad was toe ’n jong seun. 18 Hulle het dus uit Miʹdian vertrek en in Paran aangekom. Hulle het manne van Paran+ saam met hulle geneem en na Egipte gegaan. Hulle het by Farao, die koning van Egipte, aangekom, wat hom ’n huis, ’n kostoelaag en grond gegee het. 19 Farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met die suster van sy eie vrou, koningin* Tagʹpenes. 20 Ná verloop van tyd het die suster van Tagʹpenes aan ’n seun, Genuʹbat, geboorte gegee, en Tagʹpenes het hom in die huis van Farao grootgemaak,* en Genuʹbat het in die huis van Farao gebly, tussen die kinders van Farao.
21 Hadad het in Egipte gehoor dat Dawid gesterf het*+ en dat Joab, die hoof van die leërmag, ook gesterf het.+ Toe het Hadad vir Farao gesê: “Laat my na my eie land gaan.” 22 Maar Farao het vir hom gevra: “Wat het jy kortgekom terwyl jy by my was dat jy nou na jou eie land wil gaan?” Toe het hy gesê: “Niks nie, maar laat my asseblief gaan.”
23 God het nog ’n teenstander teen Salomo laat opstaan,+ naamlik Reson, die seun van Eljaʹda, wat vir sy heer Hadadeʹser,+ die koning van Soba, gevlug het. 24 Toe Dawid die manne van Soba verslaan* het,+ het Reson vir hom manne bymekaargemaak en die leier van ’n rowerbende geword. Hulle het toe na Damaskus+ gegaan en daar gaan woon en in Damaskus begin regeer. 25 En hy was ’n teenstander van Israel so lank as wat Salomo gelewe het, en net soos Hadad het hy baie probleme veroorsaak, en hy het Israel gehaat terwyl hy oor Sirië regeer het.
26 Dan was daar Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, ’n Efraimiet uit Sereʹda. Hy was ’n kneg van Salomo,+ en sy ma se naam was Seruʹa, en sy was ’n weduwee. Hy het ook teen die koning in opstand gekom.*+ 27 Hy het teen koning Salomo in opstand gekom omdat Salomo die Wal*+ gebou het en die Stad van Dawid, sy pa,+ versterk het. 28 Jeroʹbeam was ’n bekwame man. Toe Salomo sien dat die jong man ’n harde werker is, het hy hom opsiener gemaak+ oor al die opgeroepte werkers uit die huis van Josef. 29 Op ’n dag het Jeroʹbeam uit Jerusalem gegaan, en die profeet Ahiʹa,+ die Siloniet, het hom op die pad gekry. Ahiʹa het ’n nuwe kleed aangehad, en hulle twee was alleen in die veld. 30 Ahiʹa het die nuwe kleed wat hy aangehad het, geneem en dit in 12 stukke geskeur. 31 Toe het hy vir Jeroʹbeam gesê:
“Neem vir jou tien stukke, want dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Ek skeur die koninkryk uit die hand van Salomo, en ek sal vir jou tien stamme gee.+ 32 Maar een stam sal syne bly+ ter wille van my kneg Dawid+ en ter wille van Jerusalem, die stad wat ek uit al die stamme van Israel uitgekies het.+ 33 Ek sal dit doen omdat hulle my verlaat het+ en omdat hulle neerbuig voor Astoʹret, die godin van die Sidoniërs, voor Kamos, die god van Moab, en voor Milkom, die god van die Ammoniete, en omdat hulle nie my weë gevolg het deur te doen wat reg is in my oë en deur my wetsbepalings en my oordele te gehoorsaam soos Salomo se pa, Dawid, nie. 34 Maar ek sal nie die hele koninkryk uit sy hand neem nie, en ek sal hom ’n hoofman laat bly so lank as wat hy lewe, ter wille van my kneg Dawid wat ek gekies het+ omdat hy my gebooie en my wetsbepalings gehoorsaam het. 35 Maar ek sal die koningskap uit die hand van sy seun neem en tien stamme aan jou gee.+ 36 Ek sal een stam aan sy seun gee, sodat my kneg Dawid altyd ’n lamp voor my kan hê in Jerusalem,+ die stad wat ek vir my uitgekies het om my naam daar te vestig. 37 Ek sal jou laat regeer oor alles wat jy begeer, en jy sal koning oor Israel word. 38 En as jy alles gehoorsaam wat ek jou beveel en my weë volg en doen wat reg is in my oë deur my wetsbepalings en my gebooie te gehoorsaam, net soos my kneg Dawid gedoen het,+ dan sal ek ook met jou wees. Ek sal ’n blywende koningshuis aan jou gee, net soos ek aan Dawid gegee het,+ en ek sal Israel aan jou gee. 39 En ek sal die nageslag van Dawid om hierdie rede verneder,+ maar nie vir altyd nie.’”+
40 Salomo het Jeroʹbeam toe probeer doodmaak, maar Jeroʹbeam het na Egipte gevlug, na Sisak,+ die koning van Egipte,+ en hy het tot Salomo se dood in Egipte gebly.
41 Wat die res van die geskiedenis van Salomo betref, alles wat hy gedoen het en sy wysheid, dit is opgeteken in die boek met die geskiedenis van Salomo.+ 42 Salomo het 40 jaar lank in Jerusalem oor die hele Israel regeer. 43 Toe het Salomo gesterf,* en hy is begrawe in die Stad van Dawid, sy pa. En sy seun Rehaʹbeam+ het in sy plek koning geword.
12 Rehaʹbeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het in Sigem bymekaargekom+ om hom koning te maak.+ 2 Jeroʹbeam, die seun van Nebat, het daarvan gehoor (hy was nog in Egipte, want hy het vir koning Salomo gevlug en het in Egipte gewoon).+ 3 Toe het hulle hom laat roep. Daarna het Jeroʹbeam en die hele gemeente van Israel na Rehaʹbeam gegaan en gesê: 4 “U pa het ons juk swaar gemaak.+ Maar as u die swaar werklas van u pa en die swaar* juk wat hy op ons geplaas het, ligter maak, sal ons u dien.”
5 Hy het toe vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.” Toe het die volk van hom af weggegaan.+ 6 Koning Rehaʹbeam het die ouer mans* wat sy pa, Salomo, gedurende sy leeftyd gedien het, geraadpleeg en vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ek hierdie volk antwoord?” 7 Hulle het hom geantwoord: “As u vandag ’n kneg van hierdie volk word en doen wat hulle vra en vir hulle die antwoord gee wat hulle wil hê, sal hulle altyd u knegte wees.”
8 Maar hy het die raad van die ouer mans* verwerp, en hy het die jong mans geraadpleeg wat saam met hom grootgeword het en wat nou sy dienaars was.+ 9 Hy het vir hulle gevra: “Wat sal julle sê? Hoe moet ons hierdie volk antwoord wat vir my gesê het dat ek die juk wat my pa op hulle geplaas het, ligter moet maak?” 10 Die jong mans wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “Vir hierdie volk wat vir u gesê het: ‘U pa het ons juk swaar gemaak, maar u moet dit vir ons ligter maak,’ moet u die volgende sê: ‘My pinkie sal dikker as my pa se heupe wees. 11 My pa het ’n swaar juk op julle geplaas, maar ek sal julle juk nog swaarder maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.’”
12 Jeroʹbeam en die hele volk het op die derde dag na Rehaʹbeam toe gegaan, want die koning het gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.”+ 13 Maar die koning het die volk ’n harde antwoord gegee en het die raad verwerp wat die ouer mans* hom gegee het. 14 Hy het die raad van die jong mans gevolg en vir die volk gesê: “My pa het julle juk swaar gemaak, maar ek sal julle juk nog swaarder maak. My pa het julle met die sweep gestraf, maar ek sal julle met die gésel* straf.” 15 Die koning het nie na die volk geluister nie, want Jehovah het dinge so laat verloop.+ Dit was sodat die woorde vervul kon word wat Jehovah deur middel van Ahiʹa,+ die Siloniet, vir Jeroʹbeam, die seun van Nebat, gesê het.
16 Toe al die Israeliete sien dat die koning nie na hulle geluister het nie, het hulle vir die koning gesê: “Wat het ons met Dawid te doen? Ons het geen erfdeel saam met die seun van Isai nie. Gaan na julle gode toe, o Israel. Sorg nou vir jou eie huis, o Dawid!” Toe het die Israeliete na hulle huise* gegaan.+ 17 Maar Rehaʹbeam het nog steeds oor die Israeliete regeer wat in die stede van Juda gewoon het.+
18 Koning Rehaʹbeam het Adoʹram,+ wat oor die mense was wat opgeroep is om vir die koning te werk, toe na die Israeliete gestuur, maar hulle het hom met klippe doodgegooi. Koning Rehaʹbeam het net betyds op sy strydwa geklim om na Jerusalem te vlug.+ 19 En die Israeliete het met hulle opstand+ teen die huis van Dawid volgehou tot vandag toe.
20 Toe Israel hoor dat Jeroʹbeam teruggekeer het, het hulle bymekaargekom en hom laat roep en hom koning oor Israel gemaak.+ Net die stam van Juda het die huis van Dawid gevolg.+
21 Toe Rehaʹbeam in Jerusalem aankom, het hy onmiddellik die hele huis van Juda en die stam van Benjamin bymekaargeroep – 180 000 opgeleide* soldate – om teen die huis van Israel te veg, sodat Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koningskap kon terugkry.+ 22 Toe het die ware God vir Semaʹja,+ die man van die ware God, gesê: 23 “Sê vir Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin en die res van die volk: 24 ‘Dít is wat Jehovah sê: “Julle moenie teen julle Israelitiese broers gaan veg nie. Julle moet almal teruggaan huis toe, want ek het dit laat gebeur.”’”+ Toe het hulle die woord van Jehovah gehoorsaam en huis toe gegaan, soos Jehovah vir hulle gesê het.
25 Daarna het Jeroʹbeam in Sigem+ in die bergstreek van Eʹfraim gaan woon en dit opgebou.* Hy het daarvandaan weggetrek en Pnuel+ opgebou.* 26 Jeroʹbeam het in sy hart gesê: “Nou sal die koninkryk na die huis van Dawid terugkeer.+ 27 As hierdie volk aanhou om op te gaan om by die huis van Jehovah in Jerusalem offerandes te offer,+ sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, koning Rehaʹbeam van Juda. Ja, hulle sal my doodmaak en terugkeer na koning Rehaʹbeam van Juda.” 28 Nadat die koning by sy raadgewers raad gevra het, het hy twee goue kalwers+ gemaak en vir die volk gesê: “Dit is vir julle te veel om na Jerusalem op te gaan. Hier is julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het,+ o Israel.” 29 Toe het hy die een in Bet-El+ gesit, en die ander een in Dan.+ 30 En dit het die volk laat sondig.+ Hulle het selfs tot by Dan gegaan om die een wat daar was, te aanbid.
31 En hy het huise van aanbidding op die offerhoogtes gemaak en mense van die volk, wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel.+ 32 Jeroʹbeam het ’n fees ingestel wat op die 15de dag van die agtste maand gehou is, en wat soortgelyk was aan die fees in Juda.+ Op die altaar wat hy in Bet-El+ gemaak het, het hy offers geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het. En hy het priesters in Bet-El aangestel vir die offerhoogtes wat hy gemaak het. 33 En op die 15de dag van die agtste maand, in die maand wat hy self gekies het, het hy offers begin bring op die altaar wat hy in Bet-El gemaak het. En hy het ’n fees vir die Israeliete ingestel en na die altaar opgegaan om offerandes te offer en offerrook te laat opgaan.
13 Op Jehovah se bevel het ’n man van God+ van Juda af na Bet-El gegaan, en hy het daar aangekom terwyl Jeroʹbeam by die altaar+ gestaan het om offerrook te laat opgaan. 2 Toe het hy op Jehovah se bevel teen die altaar uitgeroep: “O altaar, altaar! Dít is wat Jehovah sê: ‘’n Seun met die naam Josiʹa+ sal vir die huis van Dawid gebore word! Hy sal die priesters van die offerhoogtes, wat offerrook op jou laat opgaan, op jou offer, en hy sal die beendere van mense op jou verbrand.’”+ 3 Hy het op daardie dag ’n teken* gegee en gesê: “Dít is die teken* wat Jehovah aangekondig het: Die altaar sal uitmekaargeskeur word, en die as* wat daarop is, sal daarvan afval.”
4 Toe koning Jeroʹbeam hoor wat die man van die ware God oor die altaar in Bet-El sê, het hy sy hand van die altaar af uitgesteek en gesê: “Gryp hom!”+ Die hand wat hy uitgesteek het, het onmiddellik styf geword,* en hy kon dit nie terugtrek nie.+ 5 Toe is die altaar uitmekaargeskeur, en die as het van die altaar afgeval, in ooreenstemming met die teken* wat die man van die ware God op Jehovah se bevel aangekondig het.
6 Die koning het toe vir die man van die ware God gesê: “Smeek Jehovah jou God asseblief om genade te betoon* en bid vir my sodat my hand herstel kan word.”+ Die man van die ware God het Jehovah toe om genade gesmeek, en die koning se hand is herstel. 7 Die koning het toe vir die man van die ware God gesê: “Kom saam met my huis toe en eet iets, en laat ek vir jou ’n geskenk gee.” 8 Maar die man van die ware God het vir die koning gesê: “Al sou u my die helfte van u huis gee, sou ek nie saam met u kom en kos* eet of water drink in hierdie plek nie. 9 Want ek het hierdie bevel van Jehovah ontvang: ‘Jy mag nie kos* eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gekom het nie.’” 10 Hy het dus met ’n ander pad teruggegaan. Hy het nie teruggegaan met die pad waarmee hy na Bet-El gekom het nie.
11 En daar was ’n ou profeet wat in Bet-El gewoon het. Sy seuns het huis toe gekom en hom alles vertel wat die man van die ware God daardie dag in Bet-El gedoen het en wat hy vir die koning gesê het. Nadat hulle hulle pa daarvan vertel het, 12 het hy vir hulle gevra: “Met watter pad het hy gegaan?” Toe het sy seuns vir hom die pad gewys waarmee die man van die ware God wat van Juda gekom het, teruggegaan het. 13 Hy het toe vir sy seuns gesê: “Saal die donkie vir my op.” Hulle het die donkie vir hom opgesaal, en hy het daarop geklim.
14 Hy het agter die man van die ware God aangery en hom gevind waar hy onder ’n groot boom sit. Toe het hy vir hom gevra: “Is jy die man van die ware God wat van Juda gekom het?”+ Hy het geantwoord: “Ja, ek is.” 15 Hy het vir hom gesê: “Kom saam met my huis toe en eet iets.”* 16 Maar hy het gesê: “Ek kan nie saam met jou teruggaan of jou uitnodiging aanvaar nie, en ek mag ook nie in hierdie plek saam met jou kos* eet of water drink nie. 17 Want Jehovah het vir my gesê: ‘Jy mag nie daar kos* eet of water drink nie. Jy mag nie teruggaan met die pad waarmee jy gekom het nie.’” 18 Toe het hy vir hom gesê: “Ek is ook ’n profeet soos jy, en Jehovah het vir my deur ’n engel gesê: ‘Laat hom saam met jou huis toe gaan sodat hy kos* kan eet en water kan drink.’” (Hy het hom bedrieg.) 19 Hy het toe saam met hom huis toe gegaan om kos* te eet en water te drink.
20 Terwyl hulle aan tafel gesit het, het die profeet wat hom teruggebring het, ’n boodskap van Jehovah ontvang, 21 en hy het met ’n harde stem vir die man van die ware God wat van Juda gekom het, gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Omdat jy teen die bevel van Jehovah in opstand gekom het en nie die gebod gehoorsaam het wat Jehovah jou God vir jou gegee het nie, 22 maar teruggegaan het om kos* te eet en water te drink in die plek waarvan hy vir jou gesê het om nie kos* te eet of water te drink nie, sal jou lyk nie in die graf van jou voorvaders begrawe word nie.’”+
23 Nadat die man van die ware God geëet en gedrink het, het die ou profeet die donkie opgesaal vir die profeet wat hy teruggebring het. 24 Toe het hy vertrek, maar ’n leeu het hom op die pad teëgekom en hom doodgemaak.+ Sy lyk het in die pad gelê, en die donkie het langs die lyk gestaan. Die leeu het ook langs die lyk gestaan. 25 Manne het verbygekom, en hulle het die lyk in die pad gesien, en die leeu wat langs die lyk staan. Hulle het in die stad ingekom waar die ou profeet gewoon het en die mense daarvan vertel.
26 Toe die profeet wat hom teruggebring het, daarvan hoor, het hy onmiddellik gesê: “Dit is die man van die ware God wat teen die bevel van Jehovah in opstand gekom het.+ Daarom het Jehovah hom aan die leeu oorgegee om hom te verskeur en dood te maak, net soos Jehovah vir hom gesê het.”+ 27 Hy het toe vir sy seuns gesê: “Saal die donkie vir my op.” En hulle het dit opgesaal. 28 Toe het hy vertrek en die lyk gevind wat in die pad gelê het, met die donkie en die leeu wat langs die lyk staan. Die leeu het nie die lyk geëet nie en ook nie die donkie verskeur nie. 29 Die profeet het die lyk van die man van die ware God opgetel en op die donkie gesit en hom na die stad teruggebring om oor hom te rou en om hom te begrawe. 30 Toe het hy die lyk in sy eie graf neergelê, en hulle het oor hom bly uitroep: “Hoe verskriklik, my broer!” 31 Nadat hy hom begrawe het, het hy vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my begrawe waar die man van die ware God begrawe is. Lê my beendere langs sy beendere neer.+ 32 Wat hy op Jehovah se bevel gesê het oor die altaar in Bet-El en oor al die huise van aanbidding op die offerhoogtes+ in die stede van Samariʹa, sal vir seker vervul word.”+
33 Selfs nadat hierdie dinge gebeur het, het Jeroʹbeam nie sy slegte weë gelos nie, maar hy het aangehou om uit die volk priesters vir die offerhoogtes aan te stel. Hy het sommer enigiemand as priester aangestel+ wat ’n priester wou wees, en gesê: “Laat hom een van die priesters vir die offerhoogtes+ word.” 34 Hierdie sonde van die huis van Jeroʹbeam+ het tot hulle vernietiging gelei, en hulle is van die oppervlak van die aarde af uitgeroei.+
14 In daardie tyd het Abiʹa, die seun van Jeroʹbeam, siek geword. 2 Toe het Jeroʹbeam vir sy vrou gesê: “Gaan vermom jou asseblief sodat hulle nie weet dat jy Jeroʹbeam se vrou is nie, en gaan dan na Silo. Die profeet Ahiʹa is daar. Hy is die een wat gesê het dat ek koning oor hierdie volk sal word.+ 3 Neem tien brode, sowel as platbrode en ’n fles heuning, en gaan na hom toe. Hy sal dan vir jou sê wat met die seun gaan gebeur.”
4 Jeroʹbeam se vrou het gedoen wat hy gesê het. Sy het na Silo+ gegaan en by die huis van Ahiʹa aangekom. Ahiʹa kon nie meer sien nie. Hy was blind weens sy ouderdom.
5 Maar Jehovah het vir Ahiʹa gesê: “Die vrou van Jeroʹbeam is op pad na jou toe om te vra wat met haar seun gaan gebeur, want hy is siek. Ek sal vir jou sê wat jy vir haar moet sê. Wanneer sy hier aankom, sal sy nie haar identiteit bekend maak nie.”
6 Toe Ahiʹa die geluid van haar voetstappe naby die ingang hoor, het hy gesê: “Kom in, vrou van Jeroʹbeam. Hoekom steek jy jou identiteit weg? Ek moet vir jou ’n harde boodskap gee. 7 Gaan sê vir Jeroʹbeam: ‘Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: “Ek het jou onder jou volk uitgekies om jou ’n leier oor my volk Israel te maak.+ 8 Toe het ek die koninkryk weggeskeur van die huis van Dawid en dit aan jou gegee.+ Maar jy is nie soos my kneg Dawid, wat my gebooie gehoorsaam het en my met sy hele hart gevolg het deur net te doen wat reg is in my oë nie.+ 9 Maar jy het erger dinge gedoen as almal wat voor jou was, en jy het vir jou ’n ander god en metaalbeelde gemaak en my daardeur aanstoot gegee,+ en jy het jou rug op my gedraai.+ 10 Daarom bring ek rampspoed oor die huis van Jeroʹbeam, en ek sal almal wat manlik is* uit die huis van Jeroʹbeam uitroei, insluitende die hulpeloses en die swakkes in Israel. En ek sal heeltemal ontslae raak van die huis van Jeroʹbeam,+ net soos ’n mens mis verwyder totdat dit alles weg is! 11 Enigiemand van die huis van Jeroʹbeam wat in die stad sterf, sal deur die honde opgeëet word, en enigiemand wat in die veld sterf, sal deur die voëls van die hemel opgeëet word, want dit is wat Jehovah gesê het.”’
12 “Staan nou op en gaan na jou huis toe. Wanneer jy die stad bereik, sal die kind sterf. 13 Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want hy is die enigste een van Jeroʹbeam se familie wat begrawe sal word omdat hy die enigste een is van die huis van Jeroʹbeam in wie Jehovah, die God van Israel, iets goeds gevind het. 14 Jehovah sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die huis van Jeroʹbeam+ sal uitroei, en daardie dag is naby. 15 Jehovah sal Israel platslaan soos ’n riet wat in die water heen en weer beweeg, en hy sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat hy aan hulle voorvaders gegee het,+ en hy sal hulle anderkant die Rivier* verstrooi+ omdat hulle heilige pale*+ gemaak het en Jehovah sodoende aanstoot gegee het. 16 En hy sal Israel verlaat as gevolg van die sondes wat Jeroʹbeam gepleeg het en wat hy Israel laat pleeg het.”+
17 Toe het Jeroʹbeam se vrou opgestaan en na Tirsa gegaan. Toe sy by die drumpel van die huis kom, het die seun gesterf. 18 En hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou, net soos Jehovah deur middel van sy kneg, die profeet Ahiʹa, gesê het.
19 En wat die res van die geskiedenis van Jeroʹbeam betref, hoe hy oorlog gevoer het+ en hoe hy regeer het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 20 En Jeroʹbeam het 22 jaar lank regeer, en daarna het hy gesterf.*+ En sy seun Nadab het in sy plek koning geword.+
21 Wat Rehaʹbeam, die seun van Salomo, betref, hy was koning in Juda. Rehaʹbeam was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 17 jaar lank in Jerusalem regeer, die stad wat Jehovah uit al die stamme van Israel uitgekies het+ om sy naam daar te vestig.+ Rehaʹbeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.+ 22 En Juda het gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah.+ En deur die sondes wat hulle gepleeg het, het hulle hom meer uitgetart as hulle voorvaders.+ 23 Hulle het ook aangehou om vir hulle offerhoogtes, heilige pilare en heilige pale*+ te bou op elke hoë heuwel+ en onder elke groot boom.+ 24 Daar was ook manlike tempelprostitute in die land.+ Hulle het dieselfde afskuwelike dinge gedoen as die nasies wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.
25 In die vyfde jaar van koning Rehaʹbeam het koning Sisak+ van Egipte teen Jerusalem opgetrek.+ 26 Hy het die skatte van die huis van Jehovah en die skatte van die koning se paleis geneem.+ Hy het alles geneem, insluitende al die goue skilde wat Salomo gemaak het.+ 27 Daarom het koning Rehaʹbeam koperskilde gemaak om dit te vervang, en hy het dit toevertrou aan die hoofde van die wagte* wat by die ingang van die koning se paleis wag gehou het. 28 Elke keer as die koning na die huis van Jehovah gegaan het, het die wagte saam met hom gegaan en die skilde gedra, en daarna het hulle dit na die kamer van die wagte teruggeneem.
29 Die res van die geskiedenis van Rehaʹbeam, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda.+ 30 Daar was heeltyd oorlog tussen Rehaʹbeam en Jeroʹbeam.+ 31 Rehaʹbeam het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid begrawe.+ Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.+ En sy seun Abiʹam*+ het in sy plek koning geword.
15 In die 18de jaar van koning Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, het Abiʹam koning oor Juda geword.+ 2 Hy het drie jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Maʹäga,+ die kleindogter van Abiʹsalom. 3 Hy het dieselfde sondes as sy pa gepleeg, en hy het Jehovah sy God nie met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie. 4 Maar ter wille van Dawid+ het Jehovah sy God hom ’n lamp in Jerusalem gegee+ deur vir hom ’n seun te gee en deur Jerusalem te laat voortbestaan. 5 Want Dawid het gedoen wat reg is in die oë van Jehovah, en hy het sy hele lewe lank nie afgewyk van enigiets wat Hy hom beveel het nie, behalwe in die geval van Uriʹa, die Hetiet.+ 6 En daar was oorlog tussen Rehaʹbeam en Jeroʹbeam, al die dae van sy lewe.+
7 En die res van die geskiedenis van Abiʹam, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda.+ En daar was oorlog tussen Abiʹam en Jeroʹbeam.+ 8 Abiʹam het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid begrawe. En sy seun Asa+ het in sy plek koning geword.+
9 In die 20ste jaar van koning Jeroʹbeam van Israel het Asa oor Juda begin regeer. 10 Hy het 41 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ouma was Maʹäga,+ die kleindogter van Abiʹsalom. 11 Asa het gedoen wat reg is in die oë van Jehovah,+ soos sy voorvader Dawid. 12 Hy het die manlike tempelprostitute uit die land uitgedryf+ en al die walglike afgode* verwyder wat sy voorvaders gemaak het.+ 13 Hy het selfs sy ouma Maʹäga+ uit haar posisie as koningin-moeder* verwyder omdat sy ’n afstootlike afgod gemaak het vir die aanbidding van die heilige paal.* Asa het haar afstootlike afgod+ afgekap en dit in die Kidron-vallei+ verbrand. 14 Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie.+ Asa het Jehovah nogtans sy hele lewe lank met sy hele hart gedien. 15 En hy het die dinge wat hy en sy pa geheilig het, in die huis van Jehovah ingebring: silwer, goud en allerhande voorwerpe.+
16 Daar was heeltyd oorlog tussen Asa en Baäsa,+ die koning van Israel. 17 Koning Baäsa van Israel het teen Juda opgetrek. Hy het Rama+ begin opbou* om te verhoed dat enigiemand uit die gebied van koning Asa van Juda uitgaan of daar ingaan.+ 18 Toe het Asa al die silwer en die goud geneem wat in die skatkamers van die huis van Jehovah en die skatkamers van die paleis van die koning oorgebly het en dit vir sy knegte gegee. Koning Asa het hulle toe gestuur na Ben-Hadad, die seun van Tabrimʹmon, die seun van Hesʹjon, die koning van Sirië,+ wat in Damaskus gewoon het, om te sê: 19 “Daar is ’n ooreenkoms* tussen my en u en tussen my pa en u pa. Ek stuur vir u ’n geskenk van silwer en goud. Breek u ooreenkoms* met koning Baäsa van Israel, sodat hy van my af sal wegtrek.” 20 Ben-Hadad het na koning Asa geluister en het die hoofde van sy leërmag gestuur om teen die stede van Israel te veg, en hulle het Ijon,+ Dan,+ Aʹbel-Bet-Maʹäga, die hele Kinneʹret en die hele land van Nafʹtali verower. 21 Toe Baäsa daarvan hoor, het hy onmiddellik opgehou om Rama op te bou* en in Tirsa+ gebly. 22 Koning Asa het toe die hele Juda bymekaargeroep – niemand was vrygestel nie – en hulle het die klippe en balke weggedra wat Baäsa gebruik het om Rama op te bou, en koning Asa het dit gebruik om Geba+ in Benjamin en Mispa+ op te bou.*
23 Wat die res van die geskiedenis van Asa betref, al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het en die stede wat hy gebou* het, dit is alles opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. Maar op sy oudag het hy ’n voetkwaal ontwikkel.+ 24 Asa het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid sy voorvader begrawe. En sy seun Joʹsafat+ het in sy plek koning geword.
25 In die tweede jaar van koning Asa van Juda het Nadab,+ die seun van Jeroʹbeam, koning oor Israel geword. En hy het twee jaar lank oor Israel regeer. 26 Hy het bly doen wat sleg is in die oë van Jehovah en dieselfde weg as sy pa gevolg,+ en hy het Israel dieselfde sondes laat pleeg as wat sy pa hulle laat pleeg het.+ 27 Terwyl Nadab en die hele Israel Gibʹbeton+ beleër het, het Baäsa, die seun van Ahiʹa, van die huis van Isʹsaskar, teen hom saamgesweer en hom doodgemaak by Gibʹbeton, wat aan die Filistyne behoort het. 28 Dit was in die derde jaar van koning Asa van Juda dat Baäsa vir Nadab doodgemaak het en in sy plek koning geword het. 29 En onmiddellik nadat hy koning geword het, het hy die hele huis van Jeroʹbeam uitgeroei. Hy het niemand van die huis van Jeroʹbeam laat ontsnap nie. Hy het hulle doodgemaak, net soos Jehovah deur middel van sy kneg Ahiʹa, die Siloniet, gesê het.+ 30 Dit het gebeur omdat Jeroʹbeam Jehovah, die God van Israel, baie kwaad gemaak het as gevolg van die sondes wat hy gepleeg het en die sondes wat hy Israel laat pleeg het. 31 En die res van die geskiedenis van Nadab, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 32 En daar was heeltyd oorlog tussen Asa en koning Baäsa van Israel.+
33 In die derde jaar van koning Asa van Juda het Baäsa, die seun van Ahiʹa, in Tirsa koning oor die hele Israel geword, en hy het 24 jaar lank regeer.+ 34 Maar hy het bly doen wat sleg is in die oë van Jehovah+ en het dieselfde weg as Jeroʹbeam gevolg, en hy het Israel dieselfde sondes laat pleeg as wat Jeroʹbeam hulle laat pleeg het.+
16 Jehu,+ die seun van Hanaʹni,+ het toe die volgende boodskap teen Baäsa van Jehovah ontvang: 2 “Ek het jou uit die stof uit opgetel en jou ’n leier oor my volk Israel gemaak,+ maar jy het dieselfde weg as Jeroʹbeam gevolg en het my volk Israel laat sondig, en hulle het my aanstoot gegee weens hulle sondes.+ 3 Daarom sal ek heeltemal ontslae raak van Baäsa en sy huis, en ek sal sy huis soos die huis van Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, maak. 4 Enigiemand van Baäsa se huis wat in die stad sterf, sal deur die honde opgeëet word, en enigiemand van sy huis wat in die veld sterf, sal deur die voëls van die hemel opgeëet word.”
5 Wat die res van die geskiedenis van Baäsa betref, wat hy gedoen het en sy magtige dade, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 6 Baäsa het gesterf,* en hy is in Tirsa+ begrawe. En sy seun Ela het in sy plek koning geword. 7 En Jehovah het sy oordeel teen Baäsa en sy huis aangekondig deur middel van die profeet Jehu, die seun van Hanaʹni, omdat Baäsa Nadab doodgemaak het en omdat hy so baie slegte dinge in die oë van Jehovah gedoen het en hom sodoende aanstoot gegee het,+ net soos die huis van Jeroʹbeam.
8 In die 26ste jaar van koning Asa van Juda het Ela, die seun van Baäsa, in Tirsa koning oor Israel geword, en hy het twee jaar lank regeer. 9 Sy kneg Simri, die hoof oor die helfte van sy strydwaens, het teen hom saamgesweer. Toe Ela hom dronk gedrink het in Tirsa, by die huis van Arsa, wat oor die huishouding in Tirsa was, 10 het Simri ingekom en hom doodgemaak.+ Dit was in die 27ste jaar van koning Asa van Juda. Simri het in sy plek koning geword. 11 Toe hy koning word, het hy onmiddellik nadat hy op sy troon gaan sit het, die hele huis van Baäsa uitgeroei. Hy het nie een van sy familielede* of vriende gespaar wat manlik* was nie. 12 So het Simri die hele huis van Baäsa uitgeroei, in ooreenstemming met die boodskap teen Baäsa wat Jehovah deur middel van die profeet Jehu gegee het.+ 13 Dit was die gevolg van al die sondes wat Baäsa en sy seun Ela gepleeg het en al die sondes wat hulle Israel laat pleeg het deur Jehovah, die God van Israel, aanstoot te gee met hulle waardelose afgode.+ 14 En die res van die geskiedenis van Ela, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.
15 In die 27ste jaar van koning Asa van Juda het Simri in Tirsa koning geword, en hy het sewe dae lank regeer, terwyl die soldate kamp opgeslaan het om teen Gibʹbeton+ te veg, wat aan die Filistyne behoort het. 16 Later het die soldate in die kamp gehoor dat Simri teen die koning saamgesweer het en hom doodgemaak het. Die hele Israel het Omri,+ die hoof van die leërmag, op daardie dag in die kamp koning oor Israel gemaak. 17 Omri en die hele Israel het van Gibʹbeton af gegaan en Tirsa beleër. 18 Toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die versterkte toring van die koning se paleis ingegaan en dit afgebrand, en hy het in die vlamme gesterf.+ 19 Dit was die gevolg van die sondes wat hy gepleeg het deur te doen wat sleg is in die oë van Jehovah. Hy het dieselfde weg gevolg as Jeroʹbeam, en hy het Israel laat sondig.+ 20 Die res van die geskiedenis van Simri en sy sameswering is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel.
21 Toe is Israel in twee verdeel. Een deel van die volk het Tibni, die seun van Ginat, ondersteun en wou hom koning maak, en die ander deel het Omri ondersteun. 22 Maar die mense wat Omri ondersteun het, het die oorhand gekry oor die mense wat Tibni, die seun van Ginat, ondersteun het. Tibni het toe gesterf, en Omri het koning geword.
23 In die 31ste jaar van koning Asa van Juda het Omri koning oor Israel geword, en hy het 12 jaar lank regeer. Hy het ses jaar lank in Tirsa regeer. 24 Hy het die berg Samariʹa vir twee talente* silwer van Semer gekoop, en hy het ’n stad op die berg gebou. Hy het die stad wat hy gebou het, Samariʹa*+ genoem. Hy het dit vernoem na Semer, die eienaar* van die berg. 25 Omri het bly doen wat sleg is in die oë van Jehovah, en hy was slegter as almal wat voor hom was.+ 26 Hy het dieselfde weg gevolg as Jeroʹbeam, die seun van Nebat, en net soos Jeroʹbeam het hy Israel laat sondig deur Jehovah, die God van Israel, met hulle waardelose afgode aanstoot te gee.+ 27 Wat die res van die geskiedenis van Omri betref, wat hy gedoen het en sy magtige dade, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 28 Omri het gesterf,* en hy is in Samariʹa begrawe. Sy seun Agab+ het in sy plek koning geword.
29 Agab, die seun van Omri, het in die 38ste jaar van koning Asa van Juda koning oor Israel geword, en Agab, die seun van Omri, het 22 jaar lank in Samariʹa+ oor Israel regeer. 30 Agab, die seun van Omri, was slegter in die oë van Jehovah as almal wat voor hom was.+ 31 Asof dit nie erg genoeg was dat hy dieselfde sondes gepleeg het as Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, nie, het hy ook Iseʹbel,+ die dogter van Etʹbaäl, die koning van die Sidoniërs,+ as vrou geneem en Baäl begin dien+ en voor hom neergebuig. 32 Hy het ook vir Baäl ’n altaar opgerig in die tempel* van Baäl+ wat hy in Samariʹa gebou het. 33 Agab het ook die heilige paal*+ gemaak. Agab het meer gedoen om Jehovah, die God van Israel, aanstoot te gee as al die konings van Israel wat voor hom was.
34 In sy dae het Hiël, van Bet-El, Jeʹrigo herbou. Toe hy die fondament gelê het, het dit hom sy eersgeborene, Abiʹram, gekos, en toe hy die deure ingesit het, het dit hom sy jongste seun, Segub, gekos, net soos Jehovah deur middel van Josua, die seun van Nun, gesê het.+
17 Eliʹa,*+ die Tisbiet, ’n inwoner van Giʹlead,+ het vir Agab gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die God van Israel wat ek dien,* vir die volgende paar jaar sal daar nie dou of reën wees behalwe op my bevel nie!”+
2 Jehovah het toe vir Eliʹa gesê: 3 “Gaan van hier af na die ooste toe en kruip weg in die Kerit-vallei,* oos van die Jordaanrivier. 4 Jy moet uit die stroom drink, en ek sal die kraaie beveel om daar vir jou kos te bring.”+ 5 Hy het onmiddellik gegaan en gedoen wat Jehovah gesê het. Hy het in die Kerit-vallei,* oos van die Jordaanrivier, gaan bly. 6 In die oggend en in die aand het die kraaie vir hom brood en vleis gebring, en hy het uit die stroom gedrink.+ 7 Maar later het die stroom opgedroog+ omdat daar geen reën in die land was nie.
8 Jehovah het toe vir hom gesê: 9 “Staan op, gaan na Sarfat, in die gebied van Sidon, en gaan bly daar. Ek sal ’n weduwee daar beveel om kos aan jou te voorsien.”+ 10 Daarom het hy opgestaan en na Sarfat gegaan. Toe hy by die ingang van die stad kom, was daar ’n weduwee wat stukke hout bymekaarmaak. Hy het vir haar gesê: “Bring asseblief vir my ’n bietjie water om te drink.”+ 11 Toe sy dit gaan haal, het hy agter haar aan geroep: “Bring asseblief vir my ’n stukkie brood saam.” 12 Sy het toe gesê: “So waar as wat Jehovah u God lewe, ek het geen brood nie, net ’n hand vol meel in die groot kruik en ’n bietjie olie in die klein kruik.+ Nou maak ek ’n paar stukke hout bymekaar, en dan sal ek huis toe gaan en vir my en my seun iets maak. Nadat ons geëet het, sal ons sterf.”
13 Toe het Eliʹa vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Gaan huis toe en doen wat jy gesê het. Maar maak eers van wat jy het vir my ’n klein ronde brood, en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun iets maak. 14 Want dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Die groot kruik meel sal nie opraak nie, en die klein kruik olie sal nie leegraak nie tot die dag dat Jehovah dit op die aarde laat reën.’”+ 15 Sy het dus gegaan en gedoen wat Eliʹa gesê het, en sy, Eliʹa en haar huisgesin het baie dae lank geëet.+ 16 Die groot kruik meel het nie opgeraak nie, en die klein kruik olie het nie leeggeraak nie, net soos Jehovah deur middel van Eliʹa gesê het.
17 Ná hierdie dinge het die seun van die vrou wat die huis besit het, siek geword. Hy het so siek geword dat hy opgehou het om asem te haal.+ 18 Sy het toe vir Eliʹa gevra: “Wat het u teen my,* o man van die ware God? Het u gekom om my te herinner aan my sondes en om my seun dood te maak?”+ 19 Maar hy het vir haar gesê: “Gee jou seun vir my.” Toe het hy hom uit haar arms geneem en hom opgedra na die dakvertrek, waar hy gebly het, en hy het hom op sy bed neergelê.+ 20 Hy het Jehovah aangeroep en gesê: “O Jehovah my God,+ bring u nou ook rampspoed oor die weduwee by wie ek bly deur haar seun dood te maak?” 21 Toe het hy hom drie keer oor die kind uitgestrek en Jehovah aangeroep en gesê: “O Jehovah my God, laat hierdie kind asseblief weer lewe.”* 22 Jehovah het na Eliʹa se versoek geluister,+ en die kind het weer lewendig geword.*+ 23 Eliʹa het die kind geneem en hom van die dakvertrek af in die huis ingebring en hom vir sy ma gegee. En Eliʹa het gesê: “Kyk, jou seun lewe.”+ 24 Toe het die vrou vir Eliʹa gesê: “Nou weet ek dat u waarlik ’n man van God is+ en dat Jehovah se woord wat u oorgedra het, waar is.”
18 Ná verloop van tyd, in die derde jaar,+ het Jehovah vir Eliʹa gesê: “Gaan na Agab toe. Ek sal dit laat reën op die aarde.”+ 2 Eliʹa het dus na Agab toe gegaan, terwyl die hongersnood baie erg+ was in Samariʹa.
3 Intussen het Agab Obadʹja geroep, wat oor die huishouding was. (Obadʹja het groot vrees vir Jehovah gehad, 4 en toe Iseʹbel+ Jehovah se profete doodgemaak het, het Obadʹja 100 profete geneem en hulle in grotte weggesteek, 50 in ’n grot, en hy het hulle van kos* en water voorsien.) 5 Agab het toe vir Obadʹja gesê: “Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die valleie.* Miskien kan ons genoeg gras vind om die perde en muile aan die lewe te hou sodat al ons diere nie doodgaan nie.” 6 Hulle het toe die land verdeel waardeur hulle sou trek. Agab het alleen met een pad gegaan, en Obadʹja het alleen met ’n ander pad gegaan.
7 Toe Obadʹja op pad was, het Eliʹa gekom om hom te ontmoet. Hy het hom dadelik herken en met sy gesig na die grond toe neergebuig en gevra: “Is dit u, my heer Eliʹa?”+ 8 Hy het vir hom gesê: “Ja, dit is ek. Gaan sê vir jou heer: ‘Eliʹa is hier.’” 9 Maar hy het gesê: “Watter sonde het ek gepleeg dat u u kneg sou oorgee aan Agab sodat hy my kan doodmaak? 10 So waar as wat Jehovah u God lewe, my heer het by elke nasie en koninkryk na u laat soek. Nadat hulle gesê het: ‘Hy is nie hier nie,’ het hy daardie koninkryk en daardie nasie laat sweer dat hulle u nie kon vind nie.+ 11 En nou sê u: ‘Gaan sê vir jou heer: “Eliʹa is hier.”’ 12 Wanneer ek van u af weggaan, sal die gees van Jehovah u wegneem+ na die een of ander plek, en wanneer ek Agab gaan vertel en hy u nie vind nie, sal hy my sekerlik doodmaak. En tog vrees u kneg Jehovah al van jongs af. 13 Het my heer nie gehoor wat ek gedoen het toe Iseʹbel die profete van Jehovah doodgemaak het nie? Ek het 100 profete van Jehovah in grotte weggesteek, 50 in ’n grot, en ek het hulle van kos* en water bly voorsien.+ 14 Maar nou sê u: ‘Gaan sê vir jou heer: “Eliʹa is hier.”’ Hy sal my sekerlik doodmaak.” 15 Eliʹa het egter gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die God van die leërmagte en die Een wat ek dien,* vandag sal ek voor hom verskyn.”
16 Obadʹja het dus na Agab toe gegaan en vir hom die boodskap gegee, en Agab het na Eliʹa toe gegaan.
17 Toe Agab Eliʹa sien, het hy vir hom gevra: “Is dit jy, die een wat rampspoed* oor Israel bring?”
18 Toe het hy gesê: “Ek het nie rampspoed oor Israel gebring nie, maar u en die huis van u vader het, want julle het die gebooie van Jehovah verlaat en die Baäls gevolg.+ 19 Laat die hele Israel na my toe kom op die berg Karmel,+ en ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van die heilige paal,*+ wat aan die tafel van Iseʹbel eet.” 20 Toe het Agab ’n boodskap na al die Israeliete gestuur en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.
21 Toe het Eliʹa nader aan die volk gegaan en gesê: “Hoe lank sal julle besluiteloos bly?*+ As Jehovah die ware God is, volg hom.+ Maar as dit Baäl is, volg hom!” Maar die volk het hom nie geantwoord nie. 22 Eliʹa het verder vir die volk gesê: “Ek is die enigste profeet van Jehovah wat nog oor is,+ terwyl daar 450 profete van Baäl is. 23 Bring vir ons twee jong bulle, en laat hulle een jong bul kies en dit in stukke sny en op die hout sit, maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander jong bul gereedmaak en dit op die hout sit, maar ek sal dit nie aan die brand steek nie. 24 Dan moet julle die naam van julle god aanroep,+ en ek sal die naam van Jehovah aanroep. Die God wat met vuur antwoord, is die ware God.”+ Toe het die hele volk gesê: “Dit is goed so.”
25 Eliʹa het toe vir die profete van Baäl gesê: “Kies vir julle een jong bul en maak dit eerste gereed, want julle is in die meerderheid. Roep dan die naam van julle god aan, maar julle mag nie vuur maak nie.” 26 Daarna het hulle die jong bul geneem wat vir hulle gegee is, dit gereedgemaak en van die oggend tot die middag die naam van Baäl bly aanroep en gesê: “O Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie.+ Hulle het heeltyd rondgespring om die altaar wat hulle gemaak het. 27 Teen die middag het Eliʹa hulle begin spot en gesê: “Roep so hard as wat julle kan! Hy is mos ’n god!+ Miskien is hy diep in gedagte of miskien het hy toilet toe* gegaan. Of miskien slaap hy en moet iemand hom wakker maak!” 28 Hulle het so hard uitgeroep as wat hulle kon, en volgens hulle gebruik, het hulle hulle met dolke en met spiese gesny, totdat hulle bloed uitgestroom het. 29 Die middag het verbygegaan, en hulle het nog steeds te kere gegaan* tot die tyd van die aandgraanoffer, maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie. Niemand het aandag geskenk nie.+
30 Uiteindelik het Eliʹa vir die hele volk gesê: “Kom nader.” Toe het die hele volk nader gegaan. Daarna het hy die altaar van Jehovah herstel wat afgebreek was.+ 31 Eliʹa het toe 12 klippe geneem, volgens die getal stamme van die seuns van Jakob, vir wie Jehovah gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”+ 32 Hy het met die klippe ’n altaar gebou+ tot eer van Jehovah se naam. Daarna het hy om die altaar ’n sloot gemaak wat so groot was soos ’n stuk grond waarop twee sea* saad gesaai kon word. 33 Daarna het hy die stukke hout reggesit, die jong bul in stukke gesny en dit op die hout gesit.+ Hy het toe gesê: “Maak vier groot kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die stukke hout.” 34 Toe het hy gesê: “Doen dit weer.” En hulle het dit weer gedoen. Daarna het hy gesê: “Doen dit ’n derde keer.” En hulle het dit ’n derde keer gedoen. 35 Die water het reg rondom die altaar geloop, en hy het ook die sloot vol water gemaak.
36 Omtrent die tyd van die aandgraanoffer+ het die profeet Eliʹa na die altaar toe gegaan en gesê: “O Jehovah, die God van Abraham,+ Isak+ en Israel, laat dit vandag bekend word dat u God in Israel is en dat ek u kneg is en dat ek deur u woord al hierdie dinge gedoen het.+ 37 Antwoord my, o Jehovah! Antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat u, Jehovah, die ware God is en dat u hulle hart na u toe laat terugkeer.”+
38 Toe het daar vuur van Jehovah af gekom en dit het die brandoffer,+ die stukke hout, die klippe en die stof verteer, en dit het die water opgedroog wat in die sloot was.+ 39 Toe die hele volk dit sien, het hulle onmiddellik met hulle gesigte na die grond toe neergebuig en gesê: “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!” 40 Toe het Eliʹa vir hulle gesê: “Gryp die profete van Baäl! Moenie een van hulle laat wegkom nie!” Dadelik het hulle hulle gegryp, en Eliʹa het hulle toe na die Kison-stroom*+ afgeneem en hulle daar doodgemaak.+
41 Eliʹa het vir Agab gesê: “Gaan eet en drink, want ek hoor die geluid van ’n swaar stortreën.”+ 42 Agab het toe gegaan om te eet en te drink terwyl Eliʹa na die top van Karmel opgegaan het. Hy het gekniel en sy gesig tussen sy knieë gehou.+ 43 Toe het hy vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief hoër op en kyk in die rigting van die see.” Hy het dus opgegaan en gekyk en gesê: “Ek sien niks.” Eliʹa het sewe keer gesê: “Gaan terug.” 44 Die sewende keer het sy dienaar gesê: “Kyk! Daar is ’n klein wolkie soos ’n man se hand wat van die see af opkom.” Hy het toe gesê: “Gaan sê vir Agab: ‘Span die strydwa in! Gaan af sodat die stortreën u nie terughou nie!’” 45 Die lug het toe donker geword van wolke, die wind het gewaai en ’n swaar stortreën het geval.+ En Agab het aanhou ry en na Jisʹreël+ gegaan. 46 Maar die hand van Jehovah was met Eliʹa, en hy het sy kleed om sy heupe vasgemaak* en die hele pad tot by Jisʹreël voor Agab uit gehardloop.
19 Toe het Agab+ vir Iseʹbel+ vertel wat Eliʹa alles gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het.+ 2 Iseʹbel het toe ’n boodskapper na Eliʹa gestuur en gesê: “Mag die gode my swaar straf* as ek jou nie môre teen hierdie tyd soos elkeen van hulle maak nie!” 3 Hy het bang geword, en daarom het hy opgestaan en vir sy lewe gevlug.+ Hy het by Berseʹba+ in Juda+ gekom, en hy het sy dienaar daar agtergelaat. 4 Hy het ’n dagreis ver in die wildernis ingegaan en onder ’n besembos gaan sit en gevra dat hy* moet sterf. Hy het gesê: “Genoeg is genoeg! Neem my lewe* weg,+ o Jehovah, want ek is nie beter as my voorvaders nie.”
5 Toe het hy gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar skielik het ’n engel aan hom geraak+ en vir hom gesê: “Staan op en eet.”+ 6 Hy het opgekyk en ’n ronde brood op verhitte klippe en ’n kruik water by sy kop gesien. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7 Later het die engel van Jehovah ’n tweede keer teruggekom en aan hom geraak en gesê: “Staan op en eet, want die reis gaan te veel wees vir jou.” 8 Hy het dus opgestaan en geëet en gedrink. Die kos het hom die krag gegee om 40 dae en 40 nagte lank voort te gaan totdat hy by Horeb, die berg van die ware God,+ gekom het.
9 Hy het in ’n grot ingegaan+ en die nag daar deurgebring. Toe het Jehovah vir hom gevra: “Wat maak jy hier, Eliʹa?” 10 Hy het geantwoord: “Ek het Jehovah, die God van die leërmagte, baie ywerig gedien.+ Die Israeliete het u verbond verbreek,+ hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete met die swaard doodgemaak,+ en ek is die enigste een wat oorgebly het. Nou wil hulle my doodmaak.”+ 11 Maar God het gesê: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor Jehovah.” En Jehovah het verbygegaan,+ en ’n baie sterk wind het berge uitmekaargeskeur en groot rotse gebreek voor Jehovah,+ maar Jehovah was nie in die wind nie. Ná die wind was daar ’n aardbewing,+ maar Jehovah was nie in die aardbewing nie. 12 Ná die aardbewing was daar ’n vuur,+ maar Jehovah was nie in die vuur nie. Ná die vuur was daar ’n kalm, sagte stem.+ 13 Toe Eliʹa dit hoor, het hy sy gesig met sy ampskleed bedek+ en uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Toe het ’n stem vir hom gevra: “Wat maak jy hier, Eliʹa?” 14 Hy het geantwoord: “Ek het Jehovah, die God van die leërmagte, baie ywerig gedien. Die Israeliete het u verbond verbreek,+ hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete met die swaard doodgemaak, en ek is die enigste een wat oorgebly het. Nou wil hulle my doodmaak.”+
15 Jehovah het vir hom gesê: “Gaan terug na die wildernis van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Haʹsael+ as koning oor Sirië salf. 16 En jy moet Jehu,+ die kleinseun van Nimsi, as koning oor Israel salf, en jy moet Eliʹsa,* die seun van Safat, uit Aʹbel-Mehoʹla, as profeet in jou plek salf.+ 17 Enigiemand wat van Haʹsael se swaard wegkom,+ sal deur Jehu doodgemaak word,+ en enigiemand wat van Jehu se swaard wegkom, sal deur Eliʹsa doodgemaak word.+ 18 En ek het nog 7 000 mense oor in Israel+ wat nie voor Baäl neergebuig het+ nie en wat hom nie gesoen het nie.”+
19 Toe het hy van daar af weggegaan en Eliʹsa, die seun van Safat, gevind wat besig was om te ploeg met 12 pare bulle voor hom, en hy was by die 12de paar. Eliʹa het na hom toe gegaan en sy ampskleed+ oor hom gegooi. 20 Hy het toe die bulle daar gelos en agter Eliʹa aan gehardloop en gesê: “Laat my asseblief my pa en my ma gaan soen. Dan sal ek u volg.” Hy het gesê: “Gaan, ek sal jou nie keer nie.” 21 En hy het gegaan en een paar bulle geneem en hulle geslag.* Hy het die hout van die ploeggereedskap gebruik om vuur te maak sodat hy die vleis van die bulle kon kook. Hy het die vleis vir die mense gegee, en hulle het geëet. Daarna het hy opgestaan en Eliʹa gevolg en hom begin dien.+
20 Koning Ben-Hadad+ van Sirië+ het sy hele leërmag bymekaargemaak, sowel as 32 konings en hulle perde en strydwaens. Hy het Samariʹa+ gaan beleër+ en daarteen geveg. 2 Toe het hy boodskappers na die stad, na koning Agab+ van Israel gestuur en vir hom gesê: “Dít is wat Ben-Hadad sê: 3 ‘Jou silwer en jou goud is myne, en ook jou mooiste vrouens en kinders.’” 4 Die koning van Israel het toe geantwoord: “Goed, my heer die koning. Ek en alles wat myne is, behoort aan u.”+
5 Later het die boodskappers teruggekom en gesê: “Dít is wat Ben-Hadad sê: ‘Ek het ’n boodskap na jou toe gestuur en gesê: “Gee vir my jou silwer, jou goud, jou vrouens en jou kinders.” 6 Maar omtrent hierdie tyd môre sal ek my knegte na jou toe stuur, en hulle sal jou huis en die huise van jou knegte deursoek en hulle sal alles neem wat hulle wil hê.’”
7 Die koning van Israel het toe al die ouermanne van die land geroep en gesê: “Kyk nou net, hierdie man soek moeilikheid, want hy het gesê dat ek vir hom my vrouens, my kinders, my silwer en my goud moet gee, en ek het ingestem.” 8 Toe het al die ouermanne en die hele volk vir hom gesê: “Moet dit nie doen nie, en moenie instem nie.” 9 Daarom het hy vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir my heer die koning: ‘Ek sal alles doen wat u die eerste keer vir u kneg gesê het, maar hierdie ding kan ek nie doen nie.’” Die boodskappers het toe weggegaan en vir hom die boodskap gegee.
10 Ben-Hadad het toe hierdie boodskap aan hom gestuur: “Mag die gode my swaar straf* as daar genoeg stof in Samariʹa oorbly om vir elkeen van die manne wat my volg, ’n hand vol te gee!” 11 Die koning van Israel het geantwoord: “Sê vir hom: ‘Die een wat sy wapenrusting aantrek moenie spog soos iemand wat dit uittrek nie.’”+ 12 Toe hy die antwoord hoor, terwyl hy en die konings in hulle tente* gedrink het, het hy vir sy knegte gesê: “Maak gereed om aan te val!” Hulle het hulle toe gereedgemaak om die stad aan te val.
13 Maar ’n profeet het na koning Agab+ van Israel gegaan en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Het jy hierdie groot skare gesien? Ek gee hulle vandag in jou hand, en dan sal jy weet dat ek Jehovah is.’”+ 14 Agab het gevra: “Hoe?” Die profeet het geantwoord: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Deur middel van die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies.’”* Agab het toe gevra: “Wie sal die geveg begin?” Die profeet het gesê: “U!”
15 Agab het toe die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies getel, en daar was 232. Daarna het hy al die manne van Israel getel, en daar was 7 000. 16 Hulle het in die middel van die dag uit die stad uitgegaan terwyl Ben-Hadad en die 32 konings wat hom gehelp het, hulle in die tente* dronk gedrink het. 17 Toe die jong offisiere onder die bevel van die leiers van die provinsies uit die stad uitgaan, het Ben-Hadad dadelik manne uitgestuur om te sien wat aangaan. Hulle het vir hom kom sê: “Daar is manne wat van Samariʹa af gekom het.” 18 Hy het toe gesê: “Of hulle nou in vrede gekom het en of hulle gekom het om te veg, gaan vang hulle en bring hulle lewendig hiernatoe.” 19 Maar toe die jong offisiere wat onder die bevel van die leiers was en die soldate wat hulle gevolg het, uit die stad uitgegaan het, 20 het hulle hulle vyande doodgemaak. Toe het die Siriërs gevlug,+ en die Israeliete het hulle agternagesit. Maar koning Ben-Hadad van Sirië en ’n paar van die perderuiters het op perde gevlug. 21 Die koning van Israel het voortgegaan om die manne op die perde en die strydwaens dood te maak, en hy het die Siriërs verslaan.
22 Later het die profeet+ na die koning van Israel toe gegaan en vir hom gesê: “Gaan versterk u leërmag en dink goed na oor wat u gaan doen,+ want aan die begin van volgende jaar* sal die koning van Sirië u aanval.”+
23 Die knegte van die koning van Sirië het vir hom gesê: “Hulle God is ’n God van berge. Dit is hoekom hulle die oorhand oor ons gekry het. Maar as ons op ’n vlakte teen hulle veg, sal ons die oorhand oor hulle kry. 24 En u moet goewerneurs in die plek van die konings in die geveg laat uitgaan.+ 25 Dan moet u ’n leërmag bymekaarmaak* wat net so groot is soos die leërmag wat u verloor het, perd vir perd en strydwa vir strydwa. Laat ons op ’n vlakte teen hulle veg, en ons sal vir seker die oorhand oor hulle kry.” Hy het na hulle raad geluister en het net so gedoen.
26 Aan die begin van die jaar* het Ben-Hadad die Siriërs bymekaargeroep en na Afek+ gegaan om teen Israel te veg. 27 Die Israeliete is ook bymekaargeroep en van die nodige voorsien, en hulle het teen die Siriërs opgetrek. Toe die Israeliete voor hulle kamp opgeslaan het, het hulle soos twee troppies bokke gelyk, terwyl die Siriërs die hele gebied gevul het.+ 28 Toe het die man van die ware God na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Omdat die Siriërs gesê het: “Jehovah is ’n God van berge en nie ’n God van vlaktes nie,” sal ek hierdie groot skare in jou hand gee,+ en julle sal sekerlik weet dat ek Jehovah is.’”+
29 Hulle kampe was sewe dae lank oorkant mekaar, en op die sewende dag het die geveg begin. Die Israeliete het 100 000 Siriese voetsoldate op een dag doodgemaak. 30 En die res het na Afek+ gevlug en in die stad ingegaan. Maar die muur het op 27 000 van die manne wat oorgebly het, geval. Ben-Hadad het ook gevlug en in die stad ingegaan, en hy het in ’n binnekamer weggekruip.
31 Toe het sy knegte vir hom gesê: “Ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel genadig is.* Laat ons saklinne om ons heupe en toue om ons koppe vasmaak en na die koning van Israel uitgaan. Miskien sal hy u lewe* spaar.”+ 32 Toe het hulle saklinne om hulle heupe en toue om hulle koppe vasgemaak en na die koning van Israel gegaan en gesê: “U kneg Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe.’” Toe het hy gesê: “Lewe hy nog? Hy is my broer.” 33 Die manne het dit as ’n teken beskou en hulle het geglo dat hy bedoel wat hy sê. Hulle het toe gesê: “Ja, Ben-Hadad is u broer.” En hy het gesê: “Gaan haal hom.” Ben-Hadad het dus na hom toe gegaan, en Agab het hom op sy strydwa laat klim.
34 Ben-Hadad het toe vir hom gesê: “Ek sal die stede teruggee wat my pa van jou pa afgevat het, en jy mag vir jou markte oprig* in Damaskus, net soos my pa in Samariʹa gedoen het.”
Agab het geantwoord: “Op grond van hierdie ooreenkoms* sal ek jou laat gaan.”
Hy het toe ’n ooreenkoms met hom gemaak en hom laat gaan.
35 Op Jehovah se bevel het een van die seuns van die profete*+ vir die man by hom gesê: “Slaan my asseblief.” Maar die man het geweier om hom te slaan. 36 Hy het toe vir hom gesê: “Omdat jy nie na die stem van Jehovah geluister het nie, sal ’n leeu jou doodmaak sodra jy van my af weggaan.” Nadat hy van hom af weggegaan het, het ’n leeu hom aangeval en hom doodgemaak.
37 Hy het ’n ander man gevind en gesê: “Slaan my asseblief.” En die man het hom geslaan en gewond.
38 Toe het die profeet langs die pad vir die koning gaan wag, en hy het hom vermom met ’n verband oor sy oë. 39 Toe die koning verbygaan, het hy na die koning uitgeroep en gesê: “U kneg was in die middel van die geveg toe ’n man ’n gevangene na my toe gebring het en gesê het: ‘Pas hierdie man op. As hy ontsnap, sal jy in sy plek doodgemaak word,+ of anders moet jy ’n talent* silwer betaal.’ 40 En terwyl u kneg besig was, het die man verdwyn.” Die koning van Israel het vir hom gesê: “So sal jou oordeel wees. Jy het dit oor jouself gebring.” 41 Hy het die verband toe dadelik van sy oë afgehaal, en die koning van Israel het hom herken en besef dat hy een van die profete is.+ 42 Hy het vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Omdat jy die man laat ontsnap het wat ek gesê het doodgemaak moet word,+ sal jy in sy plek doodgemaak word,+ en jou volk in die plek van sy volk.’”+ 43 Daarna het die koning van Israel huis toe gegaan na Samariʹa,+ ontsteld en mismoedig.
21 Ná hierdie dinge het die volgende gebeur: Nabot, die Jisreëliet, het ’n wingerd gehad in Jisʹreël+ langs die paleis van koning Agab van Samariʹa. 2 Agab het vir Nabot gesê: “Gee my jou wingerd sodat ek ’n groentetuin daarvan kan maak, want dit is naby my huis. Dan sal ek vir jou ’n beter wingerd in die plek daarvan gee. Of as jy wil, sal ek vir jou die waarde daarvan in geld gee.” 3 Maar Nabot het vir Agab gesê: “Omdat ek weet hoe Jehovah daaroor voel, sal ek nie eers daaraan dink om die erfdeel van my voorvaders vir u te gee nie.”+ 4 Toe het Agab in sy huis ingegaan, en hy was ontsteld en mismoedig omdat Nabot, die Jisreëliet, gesê het: “Ek sal nie die erfdeel van my voorvaders vir u gee nie.” Toe het hy op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur en geweier om te eet.
5 Sy vrou Iseʹbel+ het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Hoekom is jy so hartseer dat jy nie wil eet nie?” 6 Hy het geantwoord: “Omdat ek vir Nabot, die Jisreëliet, gesê het: ‘Verkoop jou wingerd aan my. Of as jy wil, sal ek vir jou ’n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: ‘Ek sal nie my wingerd vir u gee nie.’” 7 Sy vrou Iseʹbel het vir hom gesê: “Is jy nie koning oor Israel nie? Staan op, eet en laat jou hart vrolik wees. Ek sal vir jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, gee.”+ 8 Toe het sy briewe in Agab se naam geskryf en dit met sy seël verseël+ en dit aan die ouermanne+ en die heersers gestuur wat in Nabot se stad gewoon het. 9 Sy het in die briewe geskryf: “Kondig ’n vas aan, en laat Nabot voor die volk sit. 10 En laat twee slegte manne voor hom sit en teen hom getuig+ en sê: ‘Jy het God en die koning vervloek!’+ Bring hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”+
11 Toe het die manne van sy stad, die ouermanne en die heersers wat in sy stad gewoon het, presies gedoen wat geskryf was in die briewe wat Iseʹbel aan hulle gestuur het. 12 Hulle het ’n vas aangekondig en Nabot voor die volk laat sit. 13 Toe het twee van die slegte manne ingegaan en voor hom gaan sit en voor die volk teen Nabot getuig en gesê: “Nabot het God en die koning vervloek!”+ Daarna het hulle hom na die buitewyke van die stad geneem en hom met klippe doodgegooi.+ 14 Hulle het toe vir Iseʹbel ’n boodskap gestuur en gesê: “Nabot is met klippe doodgegooi.”+
15 Toe Iseʹbel hoor dat Nabot met klippe doodgegooi is, het sy vir Agab gesê: “Staan op, gaan vat die wingerd van Nabot, die Jisreëliet,+ wat hy geweier het om aan jou te verkoop, want Nabot lewe nie meer nie. Hy is dood.” 16 Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy opgestaan om die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, vir hom te vat.
17 Maar Jehovah het vir Eliʹa,+ die Tisbiet, gesê: 18 “Staan op en gaan na Agab, die koning van Israel, wat in Samariʹa is.+ Hy is in die wingerd van Nabot, want hy het daarheen gegaan om dit in besit te neem. 19 Jy moet vir hom sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Het jy ’n man vermoor+ en sy eiendom geneem?”’+ Dan moet jy vir hom sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Op die plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal die honde jou bloed oplek.”’”+
20 Agab het vir Eliʹa gesê: “My vyand,+ jy het my toe gekry!” Hy het geantwoord: “Ek het u gekry. God het gesê: ‘Omdat jy vasbeslote is om te doen wat sleg is in die oë van Jehovah,+ 21 sal ek rampspoed oor jou bring, en ek sal jou uitroei en elkeen wat manlik* is van die huis van Agab uitwis,+ insluitende die hulpeloses en die swakkes in Israel.+ 22 En ek sal jou huis maak soos die huis van Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat, en soos die huis van Baäsa,+ die seun van Ahiʹa, want jy het my baie kwaad gemaak en jy het Israel laat sondig.’ 23 En Jehovah het oor Iseʹbel gesê: ‘Die honde sal Iseʹbel opeet op die stuk grond in Jisʹreël.+ 24 Enigiemand van die huis van Agab wat in die stad sterf, sal deur die honde opgeëet word, en enigiemand wat in die veld sterf, sal deur die voëls van die hemel opgeëet word.+ 25 Daar was nog nooit iemand wat so vasbeslote was om te doen wat sleg is in die oë van Jehovah soos Agab nie,+ en hy is aangehits deur sy vrou Iseʹbel.+ 26 Hy het afskuwelik opgetree deur die walglike afgode* te aanbid, net soos al die Amoriete gedoen het wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.’”+
27 Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en saklinne gedra. En hy het begin vas en in saklinne gaan lê en ook terneergedruk rondgeloop. 28 Jehovah het toe vir Eliʹa, die Tisbiet, gesê: 29 “Het jy gesien hoe Agab homself ter wille van my verneder het?+ Omdat hy homself voor my verneder het, sal ek die rampspoed nie in sy leeftyd bring nie. Ek sal die rampspoed oor sy huis in die tyd van sy seun bring.”+
22 Daar was drie jaar lank geen oorlog tussen Sirië en Israel nie. 2 In die derde jaar het koning Joʹsafat+ van Juda na die koning van Israel gegaan.+ 3 Toe het die koning van Israel vir sy knegte gesê: “Julle weet dat Raʹmot-Giʹlead+ aan ons behoort. En tog doen ons niks om dit van die koning van Sirië terug te vat nie.” 4 Hy het toe vir Joʹsafat gevra: “Sal jy saam met my gaan veg by Raʹmot-Giʹlead?” Joʹsafat het die koning van Israel geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk. My perde is jou perde.”+
5 Maar Joʹsafat het vir die koning van Israel gesê: “Vra Jehovah eers vir leiding, asseblief.”+ 6 Die koning van Israel het die profete, ongeveer 400 manne, dus bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ek teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hulle het gesê: “Gaan, want Jehovah sal dit in u hand gee.”
7 Joʹsafat het toe gesê: “Is daar nie nog ’n profeet van Jehovah hier nie? Laat ons hom ook vra.”+ 8 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Daar is nog een man deur wie ons Jehovah se leiding kan vra,+ maar ek haat hom,+ want hy profeteer nooit goeie dinge oor my nie, net slegte dinge.+ Sy naam is Migaʹja, die seun van Jimla.” Maar Joʹsafat het gesê: “Die koning moenie so sê nie.”
9 Toe het die koning van Israel ’n hofbeampte geroep en gesê: “Gaan haal gou vir Migaʹja, die seun van Jimla.”+ 10 Die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, het elkeen in koninklike klere op sy troon gesit. Hulle het by die dorsvloer gesit wat by die ingang van die poort van Samariʹa was, en al die profete het voor hulle geprofeteer.+ 11 Toe het Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, ysterhorings gemaak en gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Met hierdie horings sal u die Siriërs wond* en hulle vernietig.’” 12 Al die ander profete het dieselfde geprofeteer en gesê: “Gaan na Raʹmot-Giʹlead, en u sal suksesvol wees. Jehovah sal dit in u hand gee.”
13 Die boodskapper wat Migaʹja gaan roep het, het toe vir hom gesê: “Die woorde van al die profete is ten gunste van die koning. Laat u woorde asseblief soos hulle woorde wees, en sê tog iets gunstigs.”+ 14 Maar Migaʹja het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, wat Jehovah ook al vir my sê, dít sal ek sê.” 15 Toe het hy na die koning gegaan, en die koning het vir hom gevra: “Migaʹja, moet ons teen Raʹmot-Giʹlead oorlog voer of nie?” Hy het dadelik gesê: “Gaan, u sal suksesvol wees. Jehovah sal dit in u hand gee.” 16 Die koning het toe vir hom gesê: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy vir my in die naam van Jehovah net die waarheid sal vertel?” 17 Hy het gesê: “Ek sien al die Israeliete verstrooi op die berge,+ soos skape wat nie ’n herder het nie. Jehovah het gesê: ‘Hulle het nie ’n leier nie. Laat elkeen in vrede na sy huis teruggaan.’”
18 Toe het die koning van Israel vir Joʹsafat gesê: “Het ek nie vir jou gesê dat hy nie goeie dinge oor my sal profeteer nie, maar net slegte dinge?”+
19 Migaʹja het gesê: “Hoor die woord van Jehovah: Ek het Jehovah op sy troon sien sit,+ en die hele leërmag van die hemel het by hom gestaan, aan sy regterkant en aan sy linkerkant.+ 20 Jehovah het toe gevra: ‘Wie sal Agab mislei, sodat hy na Raʹmot-Giʹlead sal gaan en daar sal sterf?’ En die een het dít gesê en die ander het dát gesê. 21 ’n Engel*+ het toe vorentoe gekom en voor Jehovah gaan staan en gesê: ‘Ek sal hom mislei.’ Jehovah het vir hom gevra: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 22 Hy het geantwoord: ‘Ek sal gaan en ’n bedrieglike gees in die mond van al sy profete word.’+ Toe het hy gesê: ‘Jy sal hom mislei, en jy sal suksesvol wees. Gaan doen dit.’ 23 En nou het Jehovah ’n bedrieglike gees in die mond van al hierdie profete van u geplaas,+ maar in werklikheid het Jehovah rampspoed vir u voorspel.”+
24 Sedekiʹa, die seun van Kenaʹäna, het toe na Migaʹja gegaan en hom op die wang geslaan en gesê: “Sê jy dat die gees van Jehovah van my af weggegaan het* om met jou te praat?”+ 25 Migaʹja het geantwoord: “Jy sal daarvan seker wees op die dag dat jy in die binnekamer ingaan om weg te kruip.” 26 Toe het die koning van Israel gesê: “Neem Migaʹja en gee hom oor aan Amon, die stadshoof, en Joas, die koning se seun. 27 Sê vir hulle: ‘Dít is wat die koning sê: “Sit hierdie man in die tronk+ en gee hom ’n kleiner porsie brood en water totdat ek in vrede terugkom.”’” 28 Maar Migaʹja het gesê: “As u in vrede terugkom, het Jehovah nie met my gepraat nie.”+ Hy het bygevoeg: “Laat almal wat hier is,* my woorde onthou.”
29 Daarna het die koning van Israel en Joʹsafat, die koning van Juda, na Raʹmot-Giʹlead gegaan.+ 30 Die koning van Israel het vir Joʹsafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek my vermom, maar jy moet jou koninklike klere aantrek.” Toe het die koning van Israel hom vermom+ en gaan veg. 31 Die koning van Sirië het die volgende bevel aan die 32 bevelvoerders van sy strydwaens+ gegee: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.” 32 Toe die bevelvoerders van die strydwaens Joʹsafat sien, het hulle gedink: ‘Dit is vir seker die koning van Israel.’ Daarom het hulle op hom afgestorm om teen hom te veg, en Joʹsafat het om hulp begin roep. 33 Toe die bevelvoerders van die strydwaens sien dat dit nie die koning van Israel is nie, het hulle onmiddellik opgehou om hom te volg.
34 Maar ’n man het ’n pyl afgeskiet en die koning van Israel toevallig* raak geskiet tussen twee dele van sy pantser.* Die koning het toe vir sy strydwadrywer gesê: “Draai om en neem my uit die geveg,* want ek is ernstig gewond.”+ 35 Die geveg was baie intens en het die hele dag aangehou, en die koning moes regop gehou word in die strydwa met sy gesig na die Siriërs. Die bloed van die wond het in die strydwa uitgeloop, en hy het teen die aand gesterf.+ 36 Teen sononder is daar in die kamp uitgeroep: “Laat elkeen na sy stad gaan! Laat elkeen na sy land gaan!”+ 37 So het die koning gesterf, en hy is na Samariʹa geneem. Hulle het die koning in Samariʹa begrawe. 38 Toe hulle die strydwa by die dam van Samariʹa afgewas het, het die honde sy bloed opgelek, en die prostitute het daar gebad,* net soos Jehovah gesê het.+
39 Wat die res van die geskiedenis van Agab betref, alles wat hy gedoen het en die ivoorpaleis+ wat hy gebou het en al die stede wat hy gebou het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Israel. 40 Agab het gesterf,*+ en sy seun Ahaʹsia+ het in sy plek koning geword.
41 Joʹsafat,+ die seun van Asa, het in die vierde jaar van koning Agab van Israel koning oor Juda geword. 42 Joʹsafat was 35 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 25 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuʹba, die dogter van Silhi. 43 Hy het dieselfde weg gevolg as sy pa, Asa.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie, en hy het gedoen wat reg is in die oë van Jehovah.+ Maar die offerhoogtes is nie verwyder nie, en die volk het nog steeds op die offerhoogtes offerandes geoffer en offerrook laat opgaan.+ 44 Joʹsafat het vreedsame betrekkinge met die koning van Israel behou.+ 45 Wat die res van die geskiedenis van Joʹsafat betref, sy magtige dade en hoe hy oorlog gevoer het, dit is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 46 Hy het ook die res van die manlike tempelprostitute+ verwyder wat uit die tyd van sy pa, Asa, oorgebly het.+
47 Op daardie tyd was daar nie ’n koning in Edom nie.+ ’n Plaasvervanger het as koning opgetree.+
48 Joʹsafat het ook Tarsis-skepe* gebou om na Ofir toe te gaan vir goud,+ maar die skepe het nie gegaan nie, want hulle is by Eʹseon-Geʹber+ erg beskadig. 49 Toe het Ahaʹsia, die seun van Agab, vir Joʹsafat gesê: “Laat my knegte saam met u knegte op die skepe gaan,” maar Joʹsafat het nie ingestem nie.
50 Joʹsafat het gesterf,*+ en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid, sy voorvader, begrawe. En sy seun Joram+ het in sy plek koning geword.
51 Ahaʹsia,+ die seun van Agab, het in die 17de jaar van koning Joʹsafat van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer. 52 En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë en het dieselfde weg gevolg as sy pa+ en sy ma+ en as Jeroʹbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het.+ 53 Hy het aangehou om Baäl te dien+ en voor hom neer te buig en om Jehovah, die God van Israel, aanstoot te gee,+ net soos sy pa gedoen het.
Of “nooit sy gevoelens seergemaak; hom nooit bestraf”.
Lett. “by u vaders neergelê word”.
Of “wys optree”.
Sien Woordelys.
Of “Sjeool”. Sien Woordelys.
Of “Sjeool”. Sien Woordelys.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.
Of “aangeval, en hy het gesterf”.
Lett. “sal sy bloed op sy kop laat terugkom”.
Lett. “bloed”.
Lett. “Jou bloed sal op jou eie kop wees”.
Lett. “groot”.
Of “’n seuntjie”.
Lett. “nie weet hoe om uit te gaan en in te kom nie”.
Of moontlik “moeilike”. Lett. “swaar”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Lett. “vrees”.
Die Eufraatrivier.
Sien Woordelys.
’n Kor was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.
Lett. “gaselle”.
D.w.s. wes van die Eufraatrivier.
Hierdie syfer word in party manuskripte en in die parallelle verslag gevind. Ander manuskripte sê 40 000.
Of “perderuiters”.
Lett. “ruimheid van hart”.
Of “gespreek”.
Of “vlieënde diere”.
Dit sluit moontlik reptiele en insekte in.
Of “was altyd lief vir Dawid”.
Lett. “totdat Jehovah hulle onder sy voetsole gesit het”.
’n Kor was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.
Lett. “uitgestampte olie”.
Of “verbond”.
Of “lasdraers”.
Sien Aanh. B15.
Sien Aanh. B8.
’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
Lett. “tempel van die huis”.
Verwys hier na die Heilige.
Lett. “regterkant”.
D.w.s. die Heilige, wat voor die Allerheiligste was.
Lett. “oliehout”, moontlik hout van die Aleppo-denneboom.
D.w.s. die Allerheiligste.
Lett. “binne en buite”.
Verwys moontlik na die konstruksie van die deurraam of na die grootte van die deure.
Verwys hier na die Heilige.
Verwys moontlik na die konstruksie van die deurraam of na die grootte van die deure.
Sien Aanh. B15.
Sien Aanh. B15.
’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
Of “reghoekige”.
Of “Pilaarportaal”.
Of “Troonportaal”.
Lett. “huis”.
Waarskynlik die Troonsaal.
Of “brons”. (Ook waar die woord verder in hierdie hoofstuk voorkom.)
Of “’n maatlyn van 12 el was nodig om rondom elkeen van die twee pilare te gaan”.
Verwys hier na die Heilige.
Of “pilaar aan die suidekant”.
Beteken “mag hy [d.w.s. Jehovah] stewig vestig”.
Of “pilaar aan die noordekant”.
Beteken moontlik “in krag”.
Of “waterbak”.
Of “’n maatlyn van 30 el was nodig om daarom te gaan”.
Omtrent 7,4 cm. Sien Aanh. B14.
’n Bat was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.
Of “waterwaentjies”.
Of “kranse in reliëf”.
Of “vier el in deursnee”.
Of “tange”.
Sien Aanh. B15.
D.w.s. die Huttefees.
Of “en sy medemens hom ’n vloek oplê”, d.w.s. ’n eed wat met ’n vloek gepaardgaan indien die persoon valslik sweer of nie die eed hou nie.
Lett. “goddeloos”.
Lett. “regverdig”.
Of “laat swaarkry”.
Of “reputasie”.
Sien Woordelys.
Lett. “Mag u oë oop wees vir”.
Of “ongeag wat hulle van u vra”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “die ingang van Hamat”.
Of “Wadi”. Sien Woordelys.
Lett. “agtste”, d.w.s. die dag ná die tweede tydperk van sewe dae.
Of “integriteit”. Sien Woordelys.
Lett. “sal ’n spreekwoord onder al die volke word”.
Of moontlik “die nikswerd land”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Of “Millo”. ’n Hebreeuse woord wat “opvulling” beteken.
Of “trougeskenk; bruidskat”.
Of “versterk”.
Of “Millo”. ’n Hebreeuse woord wat “opvulling” beteken.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “met raaisels”.
Lett. “verborge was”.
Lett. “was daar nie meer gees in haar nie”.
Of “woorde”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.
Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.
’n Mina in die Hebreeuse Geskrifte was gelyk aan 570 g. Sien Aanh. B14.
Of “perderuiters”.
Of “perderuiters”.
Of moontlik “uit Egipte en uit Kewé ingevoer; die koning se koopmanne het hulle in Kewé gekoop”, wat moontlik na Silisië verwys.
Of “met hulle ondertrou nie”.
Of “sy vrouens het ’n kragtige invloed op hom gehad”.
Of “weggedraai”.
Of “sy hart afgewyk het van”.
Nie ’n koningin wat regeer nie.
Of moontlik “gespeen”.
Lett. “by sy vaders neergelê is”.
Lett. “hulle doodgemaak”.
Lett. “sy hand gelig”.
Of “Millo”. ’n Hebreeuse woord wat “opvulling” beteken.
Lett. “is Salomo by sy vaders neergelê”.
Of “onderdrukkende”.
Of “die ouermanne”.
Of “die ouermanne”.
Sien Woordelys.
Of “die ouermanne”.
Sien Woordelys.
Lett. “tente”.
Lett. “uitgesoekte”.
Of “versterk”.
Of “versterk”.
Of “voorteken”.
Of “voorteken”.
Of “vetterige as”, d.w.s. as wat met die vet van die offerandes deurdrenk is.
Of “lam geword; verdor”.
Of “voorteken”.
Of “Versag asseblief die aangesig van Jehovah jou God”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “brood”.
Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
Die Eufraatrivier.
Sien Woordelys.
Lett. “is hy by sy vaders neergelê”.
Sien Woordelys.
Lett. “hardlopers”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Ook Abia genoem.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.
Of “as dame”.
Sien Woordelys.
Of “versterk; herbou”.
Of “verbond”.
Of “verbond”.
Of “te versterk; te herbou”.
Of “te versterk; te herbou”.
Of “versterk; herbou”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Of “bloedwrekers”.
Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Beteken “wat behoort aan die familiegroep van Semer”.
Lett. “heer”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Lett. “huis”.
Sien Woordelys.
Beteken “my God is Jehovah”.
Lett. “voor wie ek staan”.
Of “wadi Kerit”. Sien Woordelys.
Of “wadi Kerit”. Sien Woordelys.
Of “Wat het ek met u te doen”.
Of “laat die siel van hierdie kind asseblief weer in hom terugkeer”.
Of “die siel van die kind het in hom teruggekeer”.
Lett. “brood”.
Of “wadi’s”. Sien Woordelys.
Lett. “brood”.
Lett. “voor wie ek staan”.
Of “verwerping”.
Sien Woordelys.
Of “op twee krukke bly; op twee gedagtes hink”.
Of moontlik “op reis”.
Of “soos profete opgetree”.
’n Sea was gelyk aan 7,33 l. Sien Aanh. B14.
Of “wadi Kison”. Sien Woordelys.
Of “het sy heupe omgord”.
Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.
Of “sy siel”.
Of “siel”.
Beteken “God is redding”.
Lett. “geoffer”.
Lett. “so aan my doen en daarby voeg”.
Of “hutte”.
Of “regsgebiede”.
Of “hutte”.
D.w.s. die volgende lente.
Lett. “tel”.
D.w.s. in die lente.
Of “konings van lojale liefde is”.
Of “siel”.
Of “strate toewys”.
Of “verbond”.
“Die seuns van die profete” verwys blykbaar na ’n skool vir profete of na ’n vereniging van profete.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Lett. “enigiemand wat teen ’n muur urineer”. ’n Hebreeuse uitdrukking van minagting wat na mans verwys.
Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.
Of “stoot”.
Lett. “Gees”.
Lett. “Waar het die gees van Jehovah van my af weggegaan”.
Lett. “alle volke”.
Of “in sy onskuld”.
’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.
Lett. “kamp”.
Of moontlik “waar die prostitute gebad het, het die honde sy bloed opgelek”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Sien Woordelys.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.